Landbou-innovering by 22ste Groentoer
Op 14 Maart, ʼn heerlike warm dag, het die 22ste jaarlike Groentoer hom op Williet Boerdery tussen Douglas en Kimberley afgespeel.
Die Groentoer is ʼn spesiale inligtingsdag waar die GWK Landboudienste-span landboutegnologie-inligting met plaaslike produsente deel. Dit is die vierde Groentoer wat deur Landboudienste se Johann Sounes gereël is.
Vir PG Strauss, die Besturende Direkteur van die VKB Groep, was dit ʼn opwindende ervaring. “Dis my eerste Groentoer; so, dit was vir my fantasies. Dis altyd ʼn voorreg om deel te wees van so ʼn dag, maar die Groentoer is uniek, want dit gaan spesifiek oor tegnologie en wat dit in boerdery beteken. En dis boere self wat die proewe plant. Dit beteken die boere kan by mekaar leer, en vir ʼn boer is dít altyd belangrik.”
Neil de Klerk, GWK Streeksdirekteur, het die sentiment beaam en sy trots vir die landboudienstespan se pogings uitgespreek. “Hulle het ʼn enorme invloed op ons produsente se opbrengste en gee ondersteuning waar dit die meeste saak maak. Tegnologieë en die regte praktyke maak ʼn verskil in ʼn wêreld wat nie altyd maklik is nie. Dit bemagtig produsente om hul produksie en opbrengs doeltreffend te bestuur.”
Met ʼn besoekerstal van 330, was die Groentoer vanjaar behoorlik bedrywig. Van gesoute boere tot gretige studente kon almal iets vind om hier te waardeer.
Michiel Venter, ʼn onderwyser van die Hoërskool Landboudal, het gesê dit was lekker om vir ʼn slag meer oor dinge buite sy onmiddellike verwysingsraamwerk te leer. “Die grondboontjies, byvoorbeeld. Ons sien nie baie sulke goed in ons wêreld nie. Ons het ʼn bietjie meer skaap en mielies en daai dinge.”
ʼn Student van die Bo-Karoo-opleidingsentrum in Orania het vertel sy het die demonstrasie oor verskillende wortelstelsels die meeste geniet. “Ek het daarvan gehou toe ons in die lande in gegaan en na die wortelstelsels gaan kyk het. Hulle het alles vir ons mooi verduidelik en ʼn ander kant van saaiboerdery gewys waaraan ons nog nie aan gedink het nie,” het sy verduidelik.
Deur die dag is verskeie sulke demonstrasies en besprekings gehou. Nuwe landboumasjinerie en -tegnieke is ten toon gestel. Dup Haarhoff, Hoof van GWK Landboudienste, het verduidelik die fokus was vanjaar hoofsaaklik op planters. “Die verskaffers het die geleentheid gekry om hul planters te demonstreer en dit het uitstekend gewerk.”
Kenners soos Bennie Badenhorst en Lardus Basson van GWK het die belangrikheid van kennisuitruiling onder deelnemers beklemtoon. Albei meen dis positief dat die boere gewys het hulle is gretig om te leer en te innoveer. “Mense het deelgeneem, vrae gevra, en hul opinies gegee. Ek dink dis baie positief,” het Badenhorst gesê.
Haarhoff meen dit is wonderlik dat daar vanjaar so baie jong mense by die Groentoer was – “ouens wat honger is vir tegnologie en lus is vir die boerdery. Die toekoms van die GWK-boerderyomgewing. Ons is geseënd tot dusver en die getalle neem baie mooi toe.”
Sounes het saamgestem. “Ons het ʼn fantastiese opkoms gehad, insluitend studente van verskeie landbouinstellings. Dit was ʼn lang dag, maar ek dink die ouens het dit geniet. Al die toerusting wat hier gewys is, die klomp planters … die ouens is regtig passievol oor hul produkte, almal van hulle. En om daai masjiene te sien loop was nogal indrukwekkend.”
Toe die son oor Douglas begin sak, het die deelnemers met nuwe kennis en kameraadskap huiswaarts begin keer – tot volgende jaar.
“Ons was almal met een doel hier, en dis maar hoofsaaklik vir voedselsekuriteit,” het Haarhoff die dag opgesom. “Ons werk almal aan die toekoms, en dít is wat dit lekker maak: dat ons almal saamtrek met een doel.”
– Mariette Olwagen