Slim oplossings vir waterbesparing en landbou
Die beperkte waterbronne in die Noord-Kaap maak dit uiters belangrik vir produsente om elke druppel optimaal te gebruik. Deur die samewerking tussen Valley Besproeiing en GWK Besproeiing, wat gespesialiseerde besproeiingstegnologie en -ontwerpe bied wat die landskap, grondtipe, gewasbehoeftes en klimaat in ag neem, kan produsente nie net kostes verlaag en moontlik opbrengste verhoog nie, maar ook ‘n volhoubare benadering tot besproeiing bevorder, selfs in die droogste streke van Suid-Afrika.
GWK Besproeiing is die Valley-agent vir GWK se bedieningsgebied, en bied plaaslike produsente maklike toegang tot die nuutste tegnologie in besproeiingstelsels en waterbestuur.
Op 24 Oktober 2024 het die spanne van Valley en GWK Besproeiing weer kragte saamgesnoer om die welbekende Valley Rally by Lüneburg in die Douglas-area aan te bied. Hier het produsente die geleentheid gekry om die jongste besproeiingstegnologieë te leer ken. Die dag is gevul met aanbiedings en opwindende produkdemonstrasies oor Valley-produkte, insluitend markvervangingsonderdele, watertoediening (aangebied deur Komet), diens en instandhouding, en natuurlik nuwe Valley-tegnologie.
Hierdie geleentheid skep ‘n platform vir besproeiingsprodusente om byeen te kom, kennis te deel en verder ingelig te word oor die nuutste vordering in besproeiingstelsels.
“Die Valley Rally-byeenkoms was ‘n hoogtepunt op die besproeiingskalender hierdie jaar,” sê Christoff Smit, Uitvoerende Hoof van GWK Handel. “Dit is ‘n voorreg om saam met ons produsente en vennote na die nuutste tegnologie op die plaas te kyk en saam daaroor te gesels. Die besproeiingspan sien uit om ons produsente by te staan met produkte en die beste gehalte diens.”
Meer oor Valley Besproeiing
Valley, wat in 1946 begin het, het ontstaan toe Robert B. Daugherty al sy spaargeld belê het in die ontwikkeling van die spilpuntbesproeiingstelsel. Dit was die begin van wat later die wêreld se grootste en mees betroubare besproeiingstelselmaatskappy sou word. Die Valley®-handelsmerk is steeds bekend vir sy robuuste en doeltreffende besproeiingstelsels wat aan die uitdagings van verskillende landbou-omgewings regoor die wêreld kan voldoen.
Meer oor GWK Besproeiing se diens- en produkaanbod
GWK Besproeiing is een van die grootste Valley-handelaars in Suid-Afrika en bied die volgende dienste aan produsente in die GWK-bedieningsgebied:
Kleinhandel
- Verspreiding van Valley-spilpunte en -onderdele
- Bande, wiele en ratkaste vir enige spilpunt
- Komet- en Senninger-spuite en reguleerders, asook toebehore vir spuit-pakkette
- Mikro- en drup-besproeiingsonderdele
- Filtrasie-oplossings
- Pompe en elektriese motors
- Sonpompe, boorgatpompe, pomptoetsbank en watermeters
Tesame met die voorsiening van produkte, bied GWK Besproeiing vanuit die GWK-handelstaknetwerk onderdele en toerusting vir alle herstelwerk op die plaas deur gekwalifiseerde tegnici en ʼn netwerk van spilpunt-oprigters. Op Douglas word dié dienste vanuit die gespesialiseerde besproeiingswinkel aangebied.
Besproeiingsontwerp
Die proses van ʼn besproeiingsontwerp is daar om in samewerking met die produsent te verseker dat die gepaste oplossing vir sy boerdery se waterbestuur gevind kan word. Dit is ʼn noukeurige proses wat volgens die Suid-Afrikaanse Besproeiingsinstituut (SABI) se riglyne en vereistes uitgevoer word.
Die proses:
- Topografiese opmeting van die landgoed, korrekte pyplynroete en die oprigting van pompstasies
- Ontwerp die pompstasie en hooflyn deur ʼn lewensikluskoste-analise te doen, waar kapitaal en lopende koste gesamentlik in ag geneem word
- Die ontwerp van ʼn besproeiingstelsel op grond van gewasse se waterbehoeftes, grondsamestelling en klimaat
Monitering
Deeglike montering van besproeiingstelsels kan vermorsde druppels in sente omdraai. Hierdie diens word gelewer om effektiewe aanwending van water en hoe energie verbruik word deurlopend te bestuur asook waar moontlike besparings gerealiseer kan word. Dit is ʼn belangrike hulpmiddel voor planttyd om te verseker dat besproeiingstelsels se effektiwiteit en pompe se werksverrigting optimaal is.
GWK Besproeiing kan help met die volgende:
- Kalibrering van bestaande watermeters en die intydse meting van pyplyne se vloeitempo
- Installasie-riglyne vir watermeters en evaluasie van besproeiingstelsels se mikro, drup-, sprinkelaar- en spilpunt-lesings/kapasiteit. Dié evaluasies word volgens riglyne van die Landbou Navorsingsinstituut (LNR) gedoen
Vir meer inligting gesels met GWK Besproeiing deur GWK se webtuiste te besoek by www.gwk.co.za.