Besoekers ontvang van Castrolanda, Brasilië
GWK fokus daarop om sy internasionale voetspoor te verbreed, op verskeie maniere. Een hiervan is besoeke van internasionale landbou-organisasies. Op 17 en 18 April het GWK besoekers van Brasilië, werksaam by die landbou-organisasie Castrolanda in die staat Paranà, ontvang. Castrolanda is ook ʼn dorp in die distrik Castro, wat deur Nederlandse setlaars in 1951 gekolonialiseer is. Hierdie setlaars het aanvanklik op 5 000 hektaar met landboubedrywighede begin en eie aan hulle waardes om aanhoudend aan te pas en verbeter, het hulle gegroei tot ʼn groot suksesvolle landboukoöperasie vir produsente in die omgewing.
Die landboukoöperasie Castrolanda bestaan vandag uit 1 200 koöperasielede en 2 500 werknemers. Castrolanda verbou op groot skaal koring, mielies, gars, hawer en sojabone en het op ʼn kleiner skaal ook melkerye, aartappels, vleis, diervoeding en saad. Castrolanda as koöperasie is slegs volhoubaar indien die plase van die produsente volhoubaar is en daarom belê Castrolanda in opleiding en ontwikkeling. Dit is dan ook die hoofrede vir hulle besoek aan Suid-Afrika waar metodes, praktyke en idees uitgeruil kan word, bande gebou kan word en verandering kan plaasvind om op die manier vooruit te gaan.
Castrolanda beklemtoon vooruitgang, aanpassing, innovering en die inkorporering van nuwe tegnologie. Hulle besoek jaarliks verskeie lande om op die manier landboumetodes uit te ruil en vanjaar was dit GWK in Suid-Afrika. Met die aankoms van die Castrolanda-span in Kimberley het die skakelgeleentheid begin met voorleggings waar albei organisasies hulle identiteite, visie en missie met mekaar gedeel het. Ten spyte daarvan dat die twee organisasies in verskeie kontinente is, is die uitdagings in landbou baie dieselfde en is daar baie gemeenskaplike gronde. Daar was min tyd, maar ʼn goeie oorsig oor GWK en sy afdelings is aan die besoekers gegee: Landzicht, vir ʼn wyntoer en ete, GWK Aartappels, GWK Farm Foods en mielie- en aartappellande op ʼn plaas in die omgewing is besoek. Bestuurslede van GWK het die besoekers van Brasilië vir ʼn informele ete onthaal, waar daar geleentheid was vir bande bou, gesels en vrae vra.
Castrolanda se doel met die besoek was om te leer van Suid-Afrikaanse landboupraktyke en ook om landboumetodes uit te ruil, met ʼn spesifieke fokus op aartappels en diere. Johann Botes van GWK Aartappels vertel: “Ons het met hulle gesels oor die praktyke en verbouing van aartappelmoere hier in die Noord-Kaap. Ek was beïndruk met die interessante vrae wat hulle gevra het en met behulp van hul vertaler, Checo, kon ons sinvolle gesprekke daaroor voer.”
Die besoekers deel Botes se sentiment. Ary Kertcher, koöperasie-lid van Castrolanda, sê: “Die besoek aan GWK in Suid-Afrika was ʼn transformerende ervaring vir ons landelike produsente van die Castrolanda-koöperasie in Brasilië. Van die oomblik wat ons gearriveer het, is ons hartlik verwelkom deur die personeel van GWK. Ons was beïndruk deur die toewyding en gasvryheid wat deur almal getoon is.”
Verder vertel Kertcher dat die verkenning van GWK-fasiliteite ʼn unieke geleentheid was om kennis in verskeie gebiede op te doen. “Die koringmeule het veral ons aandag getrek, dit word uiters professioneel in alle aspekte, van veiligheid tot kwaliteitbeheer, bestuur. Dit was inspirerend om te sien hoe die hoë standaard van uitnemendheid regdeur GWK gehandhaaf word.”