Landbou-loopbane ʼn fokus
Opgewondenheid het geheers in die Noord-Kaap op 22 April 2024 toe verskeie kundiges meer as 500 Graad 9 en 10 leerders tydens die Food for Mzanzi AgriCareers Roadshow in Douglas inspireer en hulle belangstelling vir verskeie landbouloopbane prikkel. Hierdie dag is aangebied om leerders aan al die verskeie studie- en loopbaangeleenthede, van plantwetenskappe, kodering en onderrig tot joernalistiek, bekend te stel.
Dié AgriCareer Day word gehou om leerders op ʼn vroeë ouderdom bekend te stel aan die verskillende beroepe en geleenthede wat daar in landbou is. Daar word ook geleenthede gebied vir leerders om vrae te vra en leerders word ingelig oor landboubeurse en internskappe. Daar was verskeie sprekers wat die dag voorgegaan het en elkeen het verduidelik wat hulle beroep behels. GWK-personeel was as uitstallers betrokke by die dag om leerders se vrae te beantwoord en oor die verskeie beroepe te gesels. Linette Eland, van GWK se Mensekapitaal-afdeling, wat die dag bygewoon het, vertel: “Dit was lekker om te sien hoe leerders met opgewondenheid deelgeneem het aan die dag; ʼn mens kon sien hulle belangstelling was geprikkel, hulle het geluister en vrae gevra wanneer hulle nie seker oor iets was nie.”
Die AgriCareers Roadshow is vanjaar vir die sesde keer aangebied en word gedryf deur Standard Bank en AgriSETA. Food for Mzansi, Tangible Africa en Douglas SEDC (ʼn nie-winsgewende organisasie wat wiskunde- en wetenskap-ondersteuning aan leerders bied) het ook saam gewerk om hierdie dag suksesvol aan te bied. Die dag se sukses was duidelik meetbaar aan leerders se opmerking ná afloop van die verskeie praatjies.
Leerders het ook lewenslesse gedurende die dag geleer by mense wat met gesag praat. Gerhard Bruwer (mede-eienaar van Genade Boerdery) deel sy insigte met die leerders: “Glo in jouself, al word jou geloof getoets soos tydens die afgelope twee koring-oeste by Genade Boerdery. Jy moet die wil hê om vooruit te gaan. Jy moet eenvoudig aanhou. As ek opgee, sal ek baie mense rondom my teleurstel, en dit wil ek nooit doen nie.”
Professor André Minnaar-Ontong, hoof van planteteling aan die Universiteit van die Vrystaat, het ná afloop van die dag aan Food for Mzanzi gesê: “Die opgewondenheid van kinders om die wêreld van hongersnood te red, is aansteeklik”.
G.P. Van Rheede van Oudtshoorn, wat oor die wêreld heen mense inspireer, verduidelik aan leerders hoe belangrik goeie menseverhoudinge en harde werk is. Dit is belangrik om geleenthede aan te gryp en om in jouself te belê. Daar was verder ook interaksie met die plaaslike veearts, dr. Priscilla Muradas en Diana Mngomezulu, ʼn plantwetenskaplike.
Dit is waardevol om in die platteland kundiges te ontvang en geleenthede vir kinders te bied waar hulle meer oor verskillende beroepe kan leer en só die talentpyplyn vir landbou in die toekoms te voed.
*Bronne:
- From farming to science: NC learners inspired by AgriCareers – Food For Mzansi
- Linette Eland, GWK Mensekapitaal