Van slim lande tot sonplase – Afrika se agri-tegnologie-revolusie
“Sagteware moet net probleme oplos. Ons is nie besig om atome te verdeel nie, ons produseer voedsel. Die stelsels wat voedselproduksie ondersteun, moet eenvoudig wees.”
Tom Westphal, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse vleisbedryfsmaatskappy (SAMIC), het op die Africa Agri Tech-konferensie vroeër vanjaar in Pretoria vir ‘n praktiese en realistiese benadering gepleit. Agri-tegnologie moet gekoester word om landboudoeltreffendheid te bevorder, maar sprekers het gewaarsku teen ingewikkelde tegnologiese oplossings wat produktiwiteit eerder belemmer as verbeter.
Kernpilaar van voedselveiligheid
Afrika se agri-tegnologie word vinnig ‘n kernpilaar van wêreldwye voedselveiligheid, met Suid-Afrika wat voorloop in innovasie op gebiede soos 1) presisieboerdery, 2) robotika, 3) beheerde-omgewingsoplossings en 4) digitale integrasie
- Presisieboerdery gebruik GPS, sensors, hommeltuie en kunsmatige intelligensie (AI) om gewasse te monitor, terwyl die Internet van Dinge of Internet of Things (IoT) se toestelle onder meer grond, vog, weer en veekondisies dophou.
- Robotika en hommeltuie outomatiseer take soos bespuiting, saai en onkruidbeheer, terwyl biotegnologie en verbeterde saadvariëteite produktiwiteit verhoog.
- Beheerde-omgewingsoplossings sluit vertikale en binnenshuise boerdery, agri-voltaïese stelsels en geoutomatiseerde kweekhuise met slim besproeiing in.
- Digitale integrasie behels markplekke en naspeurbaarheidsplatforms van voorsieningskettings, terwyl agri-finansiële tegnologie marktoegang en finansiële insluiting verbeter. Data-analise en kunsmatige intelligense (AI), of digitale integrasie, maak ook opbrengsvoorspelling en plaagopsporing moontlik, terwyl volhoubare praktyke soos koolstofboerdery en regeneratiewe tegnieke omgewingsweerbaarheid bevorder.

Hommeltuie en kunsmatige intelligensie (AI) word ingespan om gewasse te monitor. (Foto: esoftskills)
Ons eerste artikel het gefokus op drie sleutelaspekte wat reeds vandag die boerdery van môre vorm: presisieboerdery, marktoegang en finansiële innovasie, asook kweekhuis-outomatisering.
Ons verken nou drie groot verskuiwings wat die grense van agritegnologie vorm.
1. Diversifikasie
Boerderye kleur deesdae buite die lyne van oop lande in, na vertikale plase, beheerde omgewings en dubbeldoelgrondstelsels waar gewasse onder sonpanele groei.

SUNfarming se agrivoltaïese Food & Energy-projek naby Potchefstroom. (Foto: nwu.ac.za)
Hierdie modelle produseer gelyktydig voedsel en energie, verbeter grondbenutting, waterdoeltreffendheid en inkomste. ‘n Goeie voorbeeld is die vertikale boerdery en agrivoltaïese stelsels van SUNfarming se Food & Energy-projek naby Potchefstroom, waar kweekhuise, akwaponika en sonkrag (PV) gekombineer word om groente en kruie te verbou terwyl skoon elektrisiteit opgewek word.
Die aanleg bestaan uit drie kweekhuistonnels van sowat 3 000 m², waar gewasse soos tamaties, spinasie, blomkool, blaarslaai en medisinale kruie gekweek word. Die PV-panele verskaf hernubare energie aan die projek (en die universiteit), terwyl drupbesproeiing en klappervesel water bespaar en opbrengste verhoog. Volgens prof. LJ Grobler “verdubbel die stelsel die waarde van die grond, want dieselfde oppervlakte lewer nou voedsel én energie.”

Vroue uit die Ikageng-gemeenskap word opgelei in gewasverbouing, oes en sonlandbou-tegnieke. (Foto: nwu.ac.za)
Die projek sluit ook ‘n gemeenskapsdimensie in – vroue uit die Ikageng-gemeenskap word opgelei in gewasverbouing, oes- en sonlandbou-tegnieke, wat werk en bemagtiging bevorder.
Suid-Afrika se hernubare-energie-landskap kry nou vinnig momentum. Met meer as 53 GW aan windprojekte in ontwikkeling – ‘n styging van byna 60% sedert 2023 – wys dit op groeiende beleggersvertroue, sektor-bereidheid en die land se fokus op ‘n skoner, meer inklusiewe energietoekoms.
‘n Soortgelyke voorbeeld as die sonplaas is die Dorper Windplaas, waar volhoubare, skoon energie uit hernubare bronne geput word terwyl voedsel geproduseer word. Voedsel en energie word gelyktydig gelewer, terwyl dit ‘n ook opbrengs op belegging aan aandeelhouers bied en terselfdertyd in die gemeenskappe van Molteno en Sterkstroom belê.

n Windplaas is ‘n goeie voorbeeld van dubbeldoelgrondstelsels, waar gewasse of vee en windturbines saam inkomstemoontlikhede bied. By die Dorper Windplaas is 338 graad 9-leerders van Molteno en Sterkstroom verwelkom. Deur interaktiewe aktiwiteite en vasvrae het die leerders die rol van windkrag in Suid-Afrika se energiemengsel ondersoek. (Foto: Facebook/dorperwindfarm)
2. Naspeurbaarheid
Verbruikers en uitvoermarkte vereis toenemend bewyse van herkoms, volhoubaarheid, deursigtigheid en verifiëring. Suid-Afrika se agritegnologie-sektor reageer met blokketting (blockchain), digitale rekordhouding, IoT-opsporing en QR-gebaseerde produk-ID’s om naspeurbaarheid en voedselveiligheid te versterk.
Die FoodPrint-projek in Kaapstad het gewys hoe klein koöperasies oes- en vervoerdata op ‘n blokketting kan stoor met behulp van QR-kodes, wat verbruikers toelaat om produkte tot by die plaas na te spoor. Terselfdertyd vervang digitale platforms geskrewe rekords, wat uitvoer- en volhoubaarheidsnakoming vergemaklik. IoT-sensors en GPS-nasporing voorsien reële data oor grond, berging en logistiek, wat doeltreffendheid verhoog.
Ondernemings soos FarmTrace, gebaseer in Tzaneen en Stellenbosch, digitaliseer boerderyrekords en konsolideer produksiedata vir beter monitering en sertifiseringsnakoming. Ander plaaslike pioniers, soos Farmonaut, XT AgriTech, MyBitSecure Technologies en AgreenerWorld, integreer soortgelyke tegnologieë om uitvoermarktoegang en verbruikersdeursigtigheid te bevorder.

Charles en Julie Crowther van Glen Oakes in die Wes-Kaap, teël varkies op hul skilderagtige 300-hektaar plaas in die Hemel-en-Aarde-vallei. Die Crowthers is passievol daaroor om hul varke buite groot te maak, waar hulle natuurlik kan groei, wei en kos soek. Hulle verdien só AgreenerWorld se #AnimalWelfareApprovedbyAGW-stempel van goedkeuring. (Foto: AgreenerWorld)
‘n Sentrale tema van die Africa Agri Tech-konferensie was die behoefte aan verbeterde biosekuriteit en naspeurbaarheid in Suid-Afrika se vleisbedryf om uitvoerpotensiaal te ontsluit. Phillip Oosthuizen, bedryfshoof by die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS), het bevestig dat RMIS beoog om ‘n funksionele naspeurbaarheidstelsel teen die einde van die jaar te implementeer. “Dit is ‘n uitdaging om alle rolspelers aan boord te kry, aangesien Suid-Afrika nog nie voorheen ‘n omvattende naspeurbaarheidstelsel gehad het nie. Gesentraliseerde data oor dierebeweging is egter noodsaaklik vir naspeurbaarheid van vleis, van die plaas tot by die mark,” het hy gesê.
Verbruikers wil toenemend weet waar hulle vleis vandaan kom, en hoe daar na die diere omgesien word. “Naspeurbaarheid sal ons in staat stel om hierdie inligting te verskaf, aan verbruikers se vereistes te voldoen en nuwe markte te open,” het die produsent Arné Grobbelaar aan die konferensie verduidelik.
3. Integrasie
Moderne boerdery ontwikkel in ‘n volledig gekoppelde ekosisteem, daar waar AI, IoT, robotika, hommeltuig- en biotegnologie saamsmelt. AI, IoT-sensors en hommeltuie werk nou saam om gewasse te monitor, besproeiing te optimaliseer en spanning of peste vroeg op te spoor. Biotegnologie verbeter gewasweerstandigheid en maak outomatisering meer doeltreffend. Suid-Afrikaanse voorbeelde sluit NIK SA en Aerobotics in, wat landbou-hommeltuie en IoT-stelsels verskaf om presisie te verbeter.

Aerobotics help om boorde, wingerde en ander gewasse meer doeltreffend te bestuur.
(Foto’s: esoftskills/Aerobotics)
Aerobotics, in 2014 in Kaapstad gestig, is vandag een van Suid-Afrika se suksesvolste agritegnologie-ondernemings. Die maatskappy kombineer hommeltuig- en satellietbeelde met AI en masjienleer om produsente te help om boorde, wingerde en ander gewasse meer doeltreffend te bestuur. Deur hul Aeroview-platform en mobiele toepassing kan produsente velddata in reële tyd opteken en beter bestuursbesluite neem.
Aerobotics het reeds meer as 195 miljoen plante oor meer as 404 000 hektaar vir meer as 200 produsente wêreldwyd gekarteer. Die tegnologie maak vroeë opsporing van spanning, plaag- of siekterisiko’s en voedingstekorte moontlik, wat opbrengste verhoog en verliese verminder. Met aktiwiteite in meer as 11 lande – insluitend die VSA, Australië, Nieu-Seeland, Chili en Rusland – wys Aerobotics hoe ‘n Suid-Afrikaanse onderneming wêreldwyd kan meeding in landbou-innovasie.

Christiano Titus en Riano Fortuin is leerling-hommeltuigvlieëniers by Twaktuin in Clanwilliam, in die Wes-Kaap, waar meer as 140 mense werk. Twaktuin produseer sitrus, steenvrugte en onlangs ook avokado’s. (Foto: Facebook/Twaktuin)
Basson Engelbrecht, uitvoerende hoof van Reisiger Ventures, het op die genoemde konferensie die belangrikheid van data as ‘n bate beklemtoon en het verduidelik hoe die waarde daarvan ontwikkel het, van eenvoudige rekordhouding tot voorspellende ontledings wat tot intelligente besluitneming kan lei. “Ons het ontwikkel van beskrywende data, wat ons vertel het wat alreeds gebeur het, tot diagnostiese insigte, wat jou vertel hoekom iets gebeur het. Vandag se voorspellende ontledings kan gebruik word om ons te wys hoe om iets te laat gebeur of hoe om dit te verhoed.”
Integrasie, diversifikasie en deursigtigheid vorm die nuwe grens van Afrika se agritegnologie. Saam verminder hierdie vooruitgang koste, skep nuwe inkomstegeleenthede en bou vertroue in volhoubare produksie.
Die volgende uitdaging is toeganklikheid – om te verseker dat kleinboere, sowel as groot produsente, voordeel trek uit die tegnologie wat Afrika se landbou in ‘n wêreldkrag van innovasie en veerkragtigheid kan verander.
Vrywaring: Die tegnologie wat in hierdie artikel genoem word, word slegs as voorbeelde verskaf en moet nie as beleggingsadvies beskou word nie. Lesers word aangemoedig om hul eie navorsing en deeglike ondersoek te doen voordat hulle enige finansiële besluite neem. Daar is baie ander innoverende maatskappye in hierdie sektor buiten dié wat hier uitgelig word.
Bronne:
Milestones| SolarEdge South Africa
NWU’s SUNfarming project is the future of agriculture | news.nwu.ac.za
Africa Agri Tech 2025 – Advancing science- and tech-enabled agriculture
SAWEA spotlights grid reform under Windaba 2025 theme








