Agri-tegnologie kan môre se boerdery vandag reeds vorm
Boerdery was nog nooit net ploeg en plant nie en in die vinnig veranderende wêreld van agri-tegnologie speel kode, konnektiwiteit en kreatiwiteit ʼn groter rol as ooit tevore.
Tussen klimaatsverandering, stygende insetkoste en watertekorte word produsente genoodsaak om nie net harder nie, maar ook met tegnologie as ʼn bondgenoot te boer.
Hierdie eerste artikel in ʼn reeks fokus op drie sleutelaspekte wat môre se boerdery reeds vandag kan vorm: presisieboerdery, marktoegang en finansiële innovering, en kweekhuis-outomatisering.
Moderne boerdery word gevoed deur data, satellietbeelde, ontledings via kunsmatige intelligensie (AI) en slim sensors. Suid-Afrikaanse produsente span toenemend tegnologie in – tot so ʼn mate dat hommeltuie wat oor lande vlieg en grondsensors wat vog meet, nie meer die wenkbroue lig nie.
En dit is presies met nuwe vooruitgang wat Suid-Afrika se innoverende Agri-tegnologie ʼn merk maak.

Sonder ʼn digitale naspeurbaarheidstelsel word iets soos bek-en-klouseer-regulasies vinnig ʼn papier-nagmerrie. HerdTrack help jou om jou kudde op koers te hou. (Foto: HerdTrack)
Presisieboerdery
Presisieboerdery gee produsente die vermoë om presies te weet waar en wanneer daar opgetree moet word. Dit sluit in:
- Identifisering van peste
- Monitering van gewasgesondheid
- Bestuur van grondvog en waterverbruik
ʼn Goeie voorbeeld is Farmonaut, ʼn platform wat satellietdata gebruik om gewasprestasie en hulpbronverbruik op plaasvlak te evalueer. Produsente rapporteer verhoogde opbrengste van tot 18% én waterbesparing van tot 30% met slim besproeiingstelsels wat outomaties op data reageer.
Presisie strek verder as gewasse – veeprodusente gebruik nou IoT-halsbande om hul kuddes 24/7 dop te hou. FarmRanger, wat onlangs by NAMPO uitgestal het, bied satelliet-halsbande wat ongewone aktiwiteite identifiseer, soos wanneer vee gesteel word of deur roofdiere aangeval word. Met meer as 9 000 eenhede in werking, gee hierdie tegnologie produsente gemoedsrus en onmiddellike waarskuwings via GPS en oproepe.
Volgens Phillip Lötter, stigter van FarmRanger, is die waarde daarvan eenvoudig: “Produsente weet hul diere word konstant dopgehou,” sê hy. Die stelsel gebruik outomatiese oproepe sowel as GPS-opsporing om produsente vinnig te waarsku en die presiese ligging van die vee aan te dui.
iSiTech (iSiTAG), HerdTrack, Prime Tracker, HerdTrace en FarmRanger is almal toonaangewende rolspelers in digitale veemonitering.
Marktoegang en finansiële modelle
Met klimaatsverandering wat produksie beïnvloed, bied volhoubare praktyke nou ook finansiële voordele. Orizon Agriculture het geskiedenis gemaak as die eerste Suid-Afrikaanse maatskappy wat internasionale koolstofkrediete verdien het vir volhoubare praktyke.
Dié prestasie is behaal deur hul CarbonCrop-program, wat onder die Verra Verified Carbon Standard geregistreer is – die wêreld se toonaangewende stelsel vir koolstofprojekte. Orizon se projek is slegs die derde wêreldwyd wat onder die VM0042-metodologie goedgekeur is, uit meer as 200 wat wag.

Orizon Agriculture is die eerste Suid-Afrikaanse maatskappy wat internasionale koolstofkrediete verdien het vir volhoubare praktyke. (Foto: Orizon)
Die sukses is te danke aan samewerking met 22 produsente wat herlewingslandboupraktyke soos geenbewerking, dekgewasse en verbeterde vee-integrasie toegepas het. Hierdie praktiese veranderinge help om koolstof in die grond vas te lê en dus klimaatsverandering teen te werk. Produsente kry tussen 65% en 75% van die koolstofinkomste, wat dit die hoogste potensiële vergoeding vir produsente in die land maak.
Orizon het reeds 160 159 krediete ontvang en beplan om dit teen die hoogste moontlike waarde te verkoop – sodat produsente maksimaal vergoed word vir hul rentmeesterskap. Die program dek 16 000 hektaar in vyf provinsies, en die volgende fase sal uitbrei tot meer as 60 000 ha en deelname uit al nege provinsies.
Volgens uitvoerende hoof, Michael Lilje, is hierdie net die begin. Die uiteindelike doel is om produsente te help om meer volhoubare praktyke toe te pas – nie net vir koolstofinkomste nie, maar vir gesonder grond en volhoubare winsgewendheid. Herlewingslandbou is ʼn wenstrategie vir die toekoms van Suid-Afrikaanse boerdery.

Deur via Livestock Wealth te belê in ʼn dragtige koei kan beleggers binne 12 maande ʼn wins op hul belegging van tussen 10% en 14% maak.
Nie almal wat in boerdery wil belê, het ʼn plaas of trekkers nie, maar hulle kan darem ʼn koei besit.
Met die Crowdfarming-model gee Livestock Wealth stedelike beleggers in Suid-Afrika die geleentheid om nou betrokke te raak en te belê in boerderyprojekte, natuurlik sonder ʼn plaas of boerderykennis. Dit behels beeste, varke, groente, vrugtebome of selfs regeneratiewe boerderyprojekte, soos grond – alles deursigtig bestuur deur ʼn digitale platform, met vooropgestelde opbrengste wanneer die bates verkoop word. Daar is egter regsbeskerming waaraan beleggers deeglik aandag moet gee.
Hierdie digitale bemagtiging open nuwe deure – nie net vir beleggers nie, maar ook vir produsente wat kapitaal soek.

Hier word suurlemoene by Musina, Limpopo, vir Livestock Wealth geoes. (Foto: Livestock Wealth)
Vir baie kleiner produsente lê die uitdaging nie by produksie nie, maar by marktoegang. Khula!, ʼn landboutegnologie-maatskappy in Johannesburg, het ʼn slim app wat toegang gee tot:
- Kopers
- Insetverskaffers
- Finansiering
Khula! se dienste sluit in insetverskaffing, handel in kommoditeite en varsprodukte, asook ooreenkomste vir die opneem van oeste. Wat hulle besonders maak, is dat hul oplossings nie net op kleinskaalse of grootskaalse produsente fokus nie, maar relevant is vir alle tipes boerderye en ʼn wye reeks kommoditeite dek.

Khula! se Input Marketplace-span het ʼn produsent in Tarlton, Gauteng, besoek. Sy spesialiseer in die verbouing van 1: spinasie/4: blaarslaai. (Foto: Khula!)
Dié platform bou ʼn brug tussen landbouprodusente en die formele mark, en maak dit makliker vir produsente om ʼn regverdige prys vir hul produkte te kry.
“Khula! is deel van ʼn opkomende generasie ondernemings wat bydra tot die volhoubaarheid van ʼn sektor wat sedert 1994 meer as verdubbel het in waarde, en Suid-Afrika gevestig het as die enigste Afrika-land onder die top-40 landbou-uitvoerders wêreldwyd,” sê landbou-ekonoom Wandile Sihlobo.
LEES MEER: Exciting young agri-tech organisations in South Africa | Wandile Sihlobo
Sihlobo beklemtoon dat maatskappye soos Khula! nie op hul eie kan floreer nie – hul sukses hang af van samewerking met die breër landbousektor. Tog speel hulle ʼn toenemend belangrike rol saam met ander sleutelspelers soos wetenskaplikes, saadmaatskappye, finansiële instellings en handelaars.
“Soos Khula! is daar baie soortgelyke jong landboutegnologie-maatskappye in Suid-Afrika, soos OneFarm Share, AgrigateOne, Nile en Agrimall, om maar net ʼn paar te noem,” sê Sihlobo.

Kweekhuis-outomatisering: Oplossings vir beheerde omgewings
AgriLogiq is ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy wat spesialiseer in landbou-outomatisering, met fokus op slimboerdery-oplossings vir beheerde omgewingslandbou.
Hierdie onderneming ontwikkel slim kweekhuisstelsels wat temperatuur, humiditeit en ventilasie outomaties beheer. Dit laat produsente toe om teen laer koste en hoër doeltreffendheid meer voedsame oeste te lewer. Hulle bied klimaatbeheer- en besproeiingstelsels vir politoon-kweekhuise aan, wat oesopbrengs en volhoubaarheid optimaliseer.
Haygrove Suid-Afrika en AgriLogiq het ʼn vennootskap aangegaan om die mees gebruikersvriendelike, modulêre en kostedoeltreffende klimaat-outomatiseringstelsel vir veldskaaltonnels te ontwikkel. Die stelsel vergelyk interne en eksterne omgewings en ventileer die struktuur outomaties volgens die produsent se behoeftes.

AgriLogiq het ʼn kliënt gehelp wat aansienlik belê het in ʼn besproeiings- en voedingsstelsel vir hul plaas, maar namate die plaas uitgebrei het, het hulle toenemende uitdagings ervaar weens die voortdurende byvoeging van basiese beheereenhede. (Foto: AgriLogiq)
Dit sluit veiligheidskenmerke soos wind- en sonoriëntasie, asook reënsluitingsfunksies in – alles outomaties en beheerbaar via ʼn webwerf, selfs wanneer jy nie op die plaas is nie. Die stelsel is eenvoudig om te gebruik; die kompleksiteit word agter die skerms hanteer.
Suid-Afrika se landboubedryf is besig om homself te herbedink, nie deur die uitdagings te ontken nie, maar deur dit met tegnologie en innovasie te beantwoord. Van satelliete tot slimfone word gebruik om nuwe hoogtes van volhoubare en winsgewende produksie te bereik. Die AgriTech-revolusie is hier, en dié wat vandag aanpas, sal môre die vrugte pluk.
Vrywaring: Die landbou-tegnologie wat in hierdie artikel genoem word, word slegs as voorbeelde verskaf en moet nie as beleggingsadvies beskou word nie. Lesers word aangemoedig om hul eie navorsing en deeglike ondersoek te doen voordat hulle enige finansiële besluite neem. Daar is baie ander innoverende maatskappye in hierdie sektor buiten dié wat hier uitgelig word.
In ons volgende artikel kyk ons na die rol van plaaslike Agri-Tech start-ups soos Aerobotics en hoe hulle landbou-innovasie wêreldwyd dryf.








