Dié spuitpomp doen dit sommer self
Die gebruik van moderne tegnologie is daagliks besig om ons lewens te verryk en verbeter. Vir boerderye om suksesvol vorentoe te beweeg, moet tegnologie omhels word, en dit is hier waar die wêreld se eerste outonome spuitpomp, GUSS, intree.
GUSS (Global Unmanned Spray System) is vroeër vanjaar tydens Nampo 2023 deur John Deere bekend gestel. Die spuit word in Kalifornië vervaardig en is ook gedurende November aan die GWK Meganisasie-span op Douglas gedemonstreer. Met GUSS is dit moontlik om 24 uur per dag te spuit en sy voordele stop nie daar nie. Wêreldwyd is daar reeds sowat 200 GUSS-spuitpompe wat diens doen oor ʼn totale area van 405 000 ha.
Hendri Lambrecht (verkoopsbestuurder by GWK Meganisasie), meen dat hierdie tipe tegnologie produsente in die toekoms kan help.
“Die idee agter GUSS is dat produsente hiermee menslike foute kan uitskakel, die masjien aaneenlopend kan benut en ook intyds deur hordes data kan verwerk om sekerheid te hê rondom die effektiwiteit. Ek dink die grootste faktor wat so ʼn masjien na die tafel bring, is dat produsente veilig en gemaklik verhoogde produktiwiteit op die plaas kan geniet, en ook beter presisietoediening kan toepas,” vertel hy.
Volgens Lambrecht word GUSS eers heelwat later in Suid-Afrika verwag.
“Die huidige verwagtinge vir die eerste GUSS-bestellings deur GWK Meganisasie is rondom 2026/27, sodra alle nodige toetse suksesvol voltooi is. Ons is werklik opgewonde oor die moontlikhede wat GUSS na die tafel bring. Die masjien stuur intydse kennisgewings om onderhoud en herstelwerk te beperk. Ons John Deere-produsente is reeds vertroud met John Deere Operation Centre, RDA (Remote Display Access) en Active Alerts, en GUSS sal ook soos die res van die vloot inskakel by ons monitering.”
Die huidige GUSS-demonstrasiemodel se spesifikasies:
- 1 500 L kapasiteit
- 3,8 L Cummins-dieselenjin wat 130 kW lewer
- Hidrolies aangedrewe sentrifugale waterpomp
- Kan tot hellings van 30 grade werk
- Weeg 4 ton (leeg)
Vir meer inligting oor GUSS, besoek gerus www.gussag.com.