Reaksie op Trump se tariefinstelling
Die president van die VSA, Donald Trump, het sy dreigement deurgevoer om ʼn 30% handelstarief te plaas op alle Suid-Afrikaanse produkte wat na Amerika toe gestuur word.
In die vorige uitgawe van Kommuniek is daar dieper gedelf oor die moontlike impak hiervan, waar ‘moontlikheid’ blyk om nou ‘realiteit’ te wees.
Trump het hierdie aankondiging gemaak in ʼn brief gerig aan president Cyril Ramaphosa, waarin hy aangedui het dat die tariewe op 1 Augustus 2025 ingestel word.
Opposisiepartye het hulle hieroor uitgespreek, met die Demokratiese Alliansie (DA) wat gevolge van die instelling van die tariewe voorspel as “verreikend en vernietigend vir die land”. John Steenhuisen, minister van landbou en leier van die DA, sê dat, hoewel dit nie in soveel woorde gesê is nie, die aankondiging wel die einde van AGOA beteken, waardeur Suid-Afrika belastingvrye toegang tot die VSA gekry het vir meer as 6 000 produkte. (Lees Nuutste oor Trump se tariefverhogings in Mei/Junie se Kommuniek.)
“Die grootste impak waaroor ons bekommerd is, is die risiko wat dit inhou vir werksekerheid van duisende boere, vervaardigers en werkers, in ʼn land met een van die hoogste werkloosheidsyfers in die wêreld,” sê Steenhuisen.
Ook Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, kritiseer die regering vir die hantering hiervan.
“Die VSA wou ʼn ooreenkoms met Suid-Afrika sluit,” sê Hermann. “Die regering toon nie begrip vir ons afhanklikheid van Amerikaanse handel nie. Dertig persent is nie net ʼn persentasie nie, maar mense se huise, werke en inkomste vir hul gesinne.”
President Ramaphosa het hom uitgespreek teen wat hy die “unilaterale” hoër tariewe noem. Suid-Afrika is die enigste land in Sub-Sahara Afrika wat uitgesonder is in die aankondiging, en Trump het in die brief aan Ramaphosa die handelsverhouding tussen die lande as “ver van wedersyds voordelig” bestempel. In sy antwoord hierop het Ramaphosa volstaan dat die 30% tarief “nie ʼn akkurate verteenwoordiging van beskikbare handelsinligting” is nie.
Trump het hierdie briewe aan Suid-Afrika en 13 ander lande gestuur, en gesê dat die tariewe “opwaarts of afwaarts aangepas kan word, afhangend van ons verhouding met die land”.
“Ons het jare gehad om ons handelsverhouding met Suid-Afrika te bespreek en het tot die gevolgtrekking gekom dat ons moet wegbeweeg van hierdie lang termyn, en aanhoudende, handelstekorte wat veroorsaak word deur Suid-Afrika se tarief- en non-tariefbeleide,” het Trump verder in die brief gesê.
Hy sê dat indien Suid-Afrika sou besluit om sy eie tariewe te verhoog in reaksie op sy aankondiging, die VSA daardie verhoging by die huidige 30%-verhoging sal voeg. Indien die regering sou besluit om handelsmarkte wat hierna gesluit is, sou open vir die VSA en eie tarief- en non-tariefbeleide sou elimineer, sal die VSA moontlik ʼn aanpassing aan die brief oorweeg.
Die VSA het $14,8 miljard se goedere van Suid-Afrika ingevoer, terwyl slegs $5,8 miljard se goedere na Suid-Afrika uitgevoer is. Dit skep ʼn ‘wanbalans’ van -60,6% – vandaar die tarief.
In ʼn verklaring sê Ramaphosa egter dat die 30% tarief gebaseer is op ʼn spesifieke interpretasie van die handelsbalans tussen die VSA en Suid-Afrika. Hy sê ook dat meer as die helfte van goedere wat vanuit Amerika na Suid-Afrika ingevoer word, nie belas word nie, en dat die gemiddelde tarief op die res 7,6% is.
“Suid-Afrika sal voortgaan met diplomatieke pogings om ʼn meer gebalanseerde en wedersyds voordelige handelsooreenkoms met die VSA te verseker,” sê hy.
Steenhuisen is van mening dat die ANC nou, meer as ooit tevore, die feit moet aanvaar dat Suid-Afrika ʼn desperate behoefte het aan dringende hervorming wat verhoogde ekonomiese groei sal bring, en ʼn buffer moet skep vir die werkverliese wat ongetwyfeld sal volg op Trump se aankondiging.
Hierdie dringende hervormingsaksies sluit volgens Steenhuisen in:
- Die verwydering van hindernisse wat die privaat sektor verhoed om deel te neem in die produksie en oorskakeling van elektrisiteit
- Konsessie-onderhandeling van hawens, om doeltreffendheid en omkeertye vir die invoer en uitvoer van produkte te verbeter
- Bevordering van privaat deelname aan vragspoorvervoer, met toepaslike infrastruktuurbeleggings en verbeterde sekuriteit om noodsaaklike infrastruktuur te beskerm
- Wysigings aan die Onteieningswet om vertroue in die beskerming van private eiendom te hernu
- Hersiening van die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging, om te verseker dat daar op armoede gefokus word, nie ras nie
- Ingryping in mislukte plaaslike regerings om dienslewering te verbeter en korrupsie en finansiële wanbestuur aan te spreek
- Deurslaggewend optrede teen korrupsie, wat sistemies in alle sfere van die regering voorkom.
Die landbouminister beloof verder sy toewyding aan die versterking van handelsooreenkomste met bestaande internasionale vennote, terwyl hy aktief sal werk om toegang tot nuwe markte te verbreed.
*Bronne:
- www.moneyweb.co.za
*Foto: Freepik








