Nuutste oor Trump se tariefverhogings

President Donald Trump het, nie lank na sy inhuldiging nie, deurgevoer op sy belofte om tariefverhogings op in- en uitvoere te implementeer. Volgens kenners is sy doelwit hiermee om Amerikaanse maatskappye te noop om vervaardiging terug te skuif na eie bodem en só werksgeleenthede vir Amerikaanse burgers te skep.
Die vooruitgang van Suid-Afrika se landbousektor het gedeeltelik op uitvoere staat gemaak, en die land se landbou-uitvoere het in 2024 ʼn nuwe rekord van $13,7 miljard bereik – 3% hoër as die vorige jaar (volgens data van Trade Map).
Trump se aankondiging hieroor het alle geaffekteerde lande in rep en roer, en plaaslik gons dit ook onder politici, ekonome en besighede oor die impak wat dit op Suid-Afrika en sy ekonomie het.
Einde van Agoa in sig?
Agoa (die African Growth and Opportunity Act) is in 2000 onderteken en daarna op verskeie geleenthede verleng – die ooreenkoms verstryk op 30 September 2025. Hierdie wet voorsien belastingvrye toegang tot die VSA se mark vir sekere lande in Sub-Sahara Afrika, en het ten doel om ekonomiese groei ʼn hupstoot te gee, politieke hervorming te bevorder en ekonomiese verhoudinge tussen die VSA en Sub-Sahara Afrika te versterk.
Ná die aankondiging oor die tariefverhogings het Suid-Afrika se landboudepartement die sektor gemaan om gereed te maak vir “ʼn post-Agoa wêreld” – ʼn omgewing wat ál meer waarskynlik lyk.
John Steenhuisen, minister van landbou, het gesê die sektor kan met redelike sekerheid ʼn werkswyse aanneem wat gebaseer is op die feit dat Agoa nie later vanjaar in plek gaan wees nie. Ekonome en markanaliste neem reeds gevolge van die tariewe waar in terme van onsekerheid in internasionale markte. Steenhuisen sê hierdie onsekerheid het ʼn rimpeleffek wat reeds Suid-Afrikaanse uitvoerders begin raak, veral dié wat staat maak op toegang tot VSA-markte. Hoewel Suid-Afrika op die oomblik steeds voordeel trek uit Agoa, voorspel die uitsprake oor tariewe ʼn meer onsekere toekoms.
“Ons uitvoere na die VSA maak ongeveer 6% uit van ons internasionale marktoegang,” sê Steenhuisen, “maar dit sluit baie belangrike produkte in, veral sitrus, wyn en neutprodukte. Die verlies aan belastingvrye toegang hou beduidende probleme in.”
Die pyn van Trump se tariewe is egter nie beperk tot net uitvoere nie.
Verminderde handelswinste en onsekerheid oor beleggings kan die rand verswak, wat opkomende markte onder druk plaas. ʼn Swakker rand verhoog die koste van ingevoerde goedere en dienste, veral in sektore wat afhanklik is van tegnologie, farmaseutiese produkte, of masjinerie.
Verder moet besighede met stygende bankkoste stoei weens hoër fooie vir aanlyn betalings, wisselkoers-omskakelings en nakomingstoetse.
Pryse onbereikbaar hoog
Trump se tariefverhogings het, in sy mees eenvoudige formaat, tot gevolg dat ʼn voorheen-winsgewende onderhandeling nou beduidend minder winsgewend is of, in sommige gevalle, glad nie deurgevoer kan word nie. Byvoorbeeld, ʼn vrag ter waarde van $1 miljoen sal nou met $300 000 in invoertariewe belas word.
Hierdie marges is vir baie sektore onvolhoubaar, veral vir landbou en vervaardiging, waar insetkostes reeds hoog en internasionale mededinging straf is.
In antwoord hierop het die ministers van internasionale verhoudinge en samewerking, en handel, industrie en mededinging, gesê intensiewe pogings sal aangewend word om Suid-Afrika se uitvoermarkte te diversifiseer, met ʼn spesifieke fokus op die uitbreiding van handel regoor Afrika, sowel as Asië, die Midde Ooste en die Amerikas. Hulle het bygevoeg dat dié pogings, waar van toepassing, ondersteuning sal bied aan ooreenkomste wat die land se nasionale belang bevorder.
Aan die ander kant is uitvoer-diversifisering ʼn stadige proses – veral vir landbouprodukte – aangesien markonderhandelinge kompleks is: byvoorbeeld, dit het 16 jaar geneem om appel-uitvoere na Thailand te heropen, en handelsooreenkomste neem gewoonlik minstens vyf jaar.
Intussen is die Suid-Afrikaanse regering in gesprek met Washington om marktoegang, uitsonderings en gunstige kwota-ooreenkomste te verseker.
Strategies in ons antwoord
Om die huidige omgewing te oorleef, moet Suid-Afrikaanse besighede fokus op veerkragtigheid en aanpasbaarheid. Uitvoerders moet nuwe markte in Afrika, Asië en Suid-Amerika ondersoek, waar handelsverhoudinge meer stabiel kan wees. Risikobestuurstrategieë – insluitend kontrakte, gediversifiseerde bankvennote en digitale betalingsplatforms – kan blootstelling aan wisselkoers-skokke en tussengangerfooie verminder.
“Ons werk om die reeks beskikbare goedere ten volle te benut – spesifiek dié wat inkorting in die VSA mag ervaar – en om alternatiewe markte daarvoor te identifiseer,” sê Steenhuisen.
Hy bly oplossing-gefokus. “Ons neem bestaande ooreenkomste met vennote soos die Europese Unie, Japan, China en ander, en ondersoek hoe ons ons marktoegang kan verdiep en verbreed.”
Terselfdertyd moet besighede paraat bly om geleenthede raak te sien en só onnodige uitgawes te vermy.
Geleenthede
Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, identifiseer moontlikhede in die huidige klimaat. Hy sê dat die grootste deel van Suid-Afrika se uitvoere na die Afrika-kontinent gaan – 38%. In 2023 is ʼn 19%-deel na die Europese Unie uitgevoer, en in dieselfde jaar het Asië en die Midde Ooste in dieselfde jaar ongeveer ʼn kwart van Suid-Afrika se landbou-uitvoere beslaan.
Asië en die Verre Ooste, China in die besonder, is reeds geïdentifiseer as sleutelareas vir groei en hou baie geleentheid in. Die Brics-groepering (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) speel ʼn baie groot rol hierin en ons regering moet skerper fokus op laer invoertariewe en ander struikelblokke met betrekking tot lande soos China, Indië en Saoedi-Arabië.
China hou die grootste geleentheid in, meestal te danke aan hulle ekonomie- en bevolkinggrootte (die tweede grootste ekonomie in die wêreld, met 1,4 miljard monde om te voed). Viëtnam en Indië het ook groot bevolkings, en tans is Suid-Afrika ʼn klein deelnemer in hulle landboumarkte.
Die lewendehawebedryf is ook gerat om sy uitvoere te verhoog, maar is bekommerd oor die invloed van Trump se tariewe, volgens die Red Meat Industry Services (RMIS), spesifiek oor die omvang daarvan nog onseker is. Dewald Olivier, hoofuitvoerende beampte van die RMIS, sê dat dit egter belangrik is om in ag te neem dat Suid-Afrika op die oomblik nog nie ʼn merkwaardige hoeveelheid rooivleis na die VSA uitvoer nie, “grootliks as gevolg van tegniese struikelblokke soos sanitêre en fitosanitêre regulasies.”
Wat volgende?
Belangegroepe in die landboubedryf kan ʼn konstruktiewe rol speel om die regering se gesprekke met die VSA te ondersteun deur onder meer die impak van die tariefverhogings op hul uitvoere te ontleed, sowel as die impak op werksgeleenthede in hul areas.
Handel gaan oor ooreenkomste en om die regte spelers te ondersteun. Besighede en georganiseerde landbou moet saamwerk om nuwe prioriteite te definieer en maniere te vind om dit internasionaal na te jaag.
Oor die afgelope 20 jaar was Suid-Afrika suksesvol daarin om nuwe markte te skep deur verskeie gratis-handelooreenkomste te sluit met kernmarkte. Dit sluit ooreenkomste met onder meer die Europese Unie en die African Continental Free Trade Area in. Hierdie lys moet uitgebrei word, volgens Sihlobo.
Ons moet navigeer deur onsekerheid
Sihlobo sê dat, soos Suid-Afrika ʼn post-Agoa wêreld nader, die pad vorentoe meer as net hoop gaan vereis. Tariewe, volatiele wisselkoerse en stygende nakomingslaste tesame skep ʼn komplekse uitdaging vir plaaslike besighede, boere en bedrywe.
Diegene wat vinnig aanpas – markte diversifiseer, kostes inkrimp en vir onsekerheid beplan – staan die beste kans om sterker aan die ander kant uit te kom.
*Bronne:
- Wandile Sihlobo
- Farmer’s Weekly