Rugby, Swarthake en Vaalbosse in die Noord-Kaap
Ons het in die afgelope drie uitgawes van Kommuniek baie tyd spandeer aan uitheemse indringer- en verdigterplantspesies. Ons het ook na wetgewing gekyk, wat meestal nie aan die produsente verduidelik word nie. Die belangrikste gesprekpunt was sekerlik dat produsente – hetsy landbou, vee- of wildboerdery – ʼn groot verantwoordelikheid het om te funksioneer binne die balans van finansiële oorlewing en die volhoubare bestuur van ʼn boerdery.
Ek het die naweek een van Suid-Afrika se gunstelingsporte gekyk. Dit word moeilik om dit te kyk met al die onverstaanbare reëls, baie soortgelyk aan die wetgewings en vereistes wat dit ál moeiliker maak om te kan produseer. Dit het my laat dink aan die boodskap, of waaroor ek die volgende wil deel, naamlik die sogenaamde inheemse indringer- of eintlik verdigterplantspesies: Senegalia mellifera (Swarthaak) en Tarchonanthus camphorathus (Vaalbos).
Wit-bulletjie Een voel dat hy in ʼn kontaksport raak getrap is, hy identifiseer dat Groen-bulletjie Agt dit gedoen het, wetstoepassers gee glad nie gehoor nie.
Toe besluit hy om dit dan maar self uit te sorteer, en met die volgende ruk-en-pluk-sessie, gryp hy Groen-bulletjie Agt (wat nie eens deel van die spul was nie) en hou aan tot hy regkry om die wetstoepassers te oortuig dat Groen-bulletjie Agt hom met die kop gestamp het. Die gevolg is dat Groen-bulletjie Agt se wedstryd verby is (kort termyn) en hy nie sy Groen-boetie se eerste wedstryd saam kan speel nie (lang termyn).
Ek dink soms dat ek die Wit-bulletjie is, want baie produsente wat my bydraes lees, wonder dalk of ek nie vir die verkeerde toeskouers skryf nie. Dit is sensitiewe onderwerpe en nie altyd lekker boodskappe wat ek deurgee nie, en die owerhede gee glad nie meer om wat gebeur op eiendomme nie – nie net die plase nie, maar al die bewaringsinstansies en privaat natuurreservate.
Ons nasionale regering, se departement van bosbou, visserye en omgewing (of in Engels die department of forestry, fisheries and environment, DFFE) het nou in Julie 2025 lekker vakansie gehou in die Kruger, saam met klomp ander lande, om oor omgewing- en klimaatvolhoubaarheid te gesels. Dalk voel jy soos Groen-bulletjie Agt, wat deur die uwe nader getrek word. Die probleem vir my is dat ek in die departement gewerk het: die mense en hulle raadgewers gee nie ʼn duit om nie! My enigste hoop is dat my bydrae iemand dalk kan help. As produsente nie verstaan hoe ekologiese prosesse en patrone werk nie, stuur ons op ʼn ekologiese ramp af.
Laastens: Groen-bulletjie het ʼn korttermynbesluit geneem om te reageer en die langtermyngevolg is dat hy en sy broer nooit weer die geleentheid gaan kry om (die eerste keer wat hulle albei gekies is) saam vir die Bokke te speel nie.
Wat het dit met jou te doen? Baie.
Indien produsente ʼn korttermynbesluit neem, kan dit nadelige gevolge op die lang termyn hê. Behalwe dat ons met ekologiese prosesse of voedselkettings werk, is daar ook suksessiepatrone in ʼn spesifieke plantgemeenskap wat aandag moet kry. Suksessie beteken in dié geval dat ʼn spesifieke plantgemeenskap ʼn optimale plantspesiesamestelling en plantegroeistruktuur (hoogte en bedekking van grondoppervlak) het, wat ons die ‘klimaks’ of ‘beste’ van die plantgemeenskap noem. Ek sal meer oor suksessie in ʼn volgende uitgawe deel.
Ek wil as voorbeeld kyk na twee spesifieke Swarthaak- en Vaalbos-plantgemeenskappe van Vaalbos Nasionale Park, wat ek in 1993 gekarteer en beskryf het. Swarthaak- en Vaalbos-plantspesies, wat in die onderskeie plantgemeenskappe dominant is, word in die Noord-Kaap-streek verkeerdelik as indringerplantspesies geïdentifiseer. Eerstens is dit inheemse plantspesies, wat groei in spesifieke habitatte. Die Swarthaak word geassosieer met vlak (< 0,3 m), klipperige, geologiese doleriet gevormde grond. In die Kalahari-sandveld kan dit op dieper (1,5 m) gronde voorkom, maar dan met ʼn beperkende laag soos byvoorbeeld ʼn kalkbank onder sandgrond.
Swarthaak is gewoonlik ʼn meerstammige struik, maar ek het ook al van hulle gesien wat ʼn 7m hoë boom is, maar dit is dan gewoonlik alleenstaande. Die Swarthake word meestal van saad aangevul in die natuur; dus sien ʼn mens saailinge meestal ná die sade afgegooi of afgewaai is. Swarthaak is een van die seisoenale houtagtiges: dit verloor blare in die herfs/winter en dan is dit een van die eerste houtagtiges wat die omgewing in die lente ophelder met hul poeierwit/pienk blomme. Dan ontwikkel die peule, wat soos rooi, fyn, gesnyde biltong lyk. Hierdie peule is vir baie diere smaaklik en voedsaam. Die sade van die peul kan volgens prof. Nico Smit slegs vir een jaar oorleef en dan kan dit nie meer ontkiem nie. ʼn Klein persentasie van die sade ontkiem en dan word nog meer as 80% opgevreet deur diere, of gaan tot niet in kompetisie met ander swarthake en ander plantspesies wat dit in bedwang hou. Eers ná die peule gevorm het, stoot die Swarthake hulle smaaklike blare uit, in die somer.
Die meerstammige Vaalbos-struik word weer geassosieer met medium-diep tot diep (0,3 tot >1,2 m) sanderige grond, meestal geassosieer met ʼn onderliggende kalkreetbank of doleriet. Die Vaalbos se aromatiese blare is nie baie smaaklik nie, hoewel daar wel gesien is dat diere jong blare vreet. Soos ook die Swarthaak-blomme, is die Vaalbos se blomme baie gewild vir heuningbye. Ek self het in al my jare nog baie min jong Vaalbos-saailinge gesien. Die Vaalbos het ʼn baie sterk-ontwikkelde wortelknol, wat ondergronds vegetatief groei en nuwe lote maak en dan groter word as volwasse plante. Een van die mees interessante aspekte van die Vaalbos-struik is dat dit meestal een meerstammige struik is, maar met die jare groei dit met die wortelknol wyer uit, sodanig dat as ʼn mens van bo af sou kyk, dit in ʼn ronde sirkel soos ʼn rondawel groei. Ek het my baie kere in slapende swartrenosters vasgeloop wat lekker binne sy rondaweltjie geslaap het. Elkeen van die lote word dan volwasse struike en dan begin die siklus weer van voor af vir sommige van die individue. Nie almal oorleef nie, want die Vaalbos kompeteer met ander Vaalbos-struike en ook ander plantspesies.
Swarthake en Vaalbosse word wel as verdigters (Kommuniek, November/Desember 2024) geklassifiseer, wat in ʼn spesifieke area kan verdig en hierdie verdigting is nie altyd iets wat die jagter of veeboer wil hê nie. In pleks van die vraag hoe die verdigting behandel moet word, moet die vraag eerder wees: Wat is die oorsaak dat die plantspesies verdig het?
Hoewel die Swarthake en Vaalbosse dominant in die plantgemeenskap is, groei daar ook baie ander plantspesies. Meestal het bogenoemde twee plante ʼn goeie verhouding met die ander plantspesies wat die spesifieke habitat verkies. Indien daar egter daarmee gekarring word, soos vuur op verkeerde tyd of beweiding deur sekere diere, of deur vertrapping van ander plantspesies of plantspesies wat opgevreet word, kan probleme veroorsaak word. Oop spasies word geskep en dít is waar die probleme begin: dié twee plantspesies is baie goeie kompeteerders en vul die oop spasies. Dit verdig dus tot nadeel van die ander plantspesies en produsente.
Hierdie is vir seker ʼn groot bron van kommer en daar moet iets aan gedoen word. Dié “doen” kan bestaan uit verantwoordelike chemiese beheer, brand op regte tyd en meganiese beheer. Ek sal dit DV in een van die volgende uitgawes bespreek.
Ek wil graag ʼn navorsingsresultaat deel: baie mense maak gevolgtrekkings, maar net op grond van rondry en nie wetenskaplike data nie (*Bezuidenhout et al. 2018). In Figuur 1 het ek twee plantgemeenskappe geïdentifiseer, naamlik ʼn voorbeeld van ʼn Swarthaak-plantgemeenskap en ʼn Vaalbos-plantgemeenskap, en dit is gemoniteer vanaf 1993 tot 2015. Ek het ook toe na die Google Earth-foto van die twee spesifieke plantgemeenskappe in 2025 gekyk.

Figuur 1: Plantegroeikaart van gedeproklameerde Vaalbos Nasionale Park. Swarthaak-plantgemeenskap (9) voorbeeld plot 34 wat gemoniteer is links bo van Maart 1993 tot Maart 2001, en onder Vaalbos-plantgemeenskap (4) voorbeeld plot 73 wat gemoniteer is van Maart 1993 tot 2015. (Google Earth-foto soos in Julie 2025)

Figuur 2: Swarthaak-plantgemeenskap; voorbeeld plot 34 se vastepunt foto’s wat elke jaar gemoniteer is. Links bo Maart 1993; regs bo Maart 1997; links onder Maart 1998; regs onder Maart 2001.
In Figuur 1 kan ʼn mens duidelik sien dat die spesifieke Swarthaak-plantgemeenskap glad nie groter in oppervlak geword het nie. Aanvanklik was die plaas, voor Vaalbos Nasionale Park geproklameer is, ʼn beesplaas met ook boerbokke, wat tot oorbeweiding gelei het in die spesifieke plantgemeenskap. Dit kan duidelik in Figuur 2, Maart 1993 gesien word. Daarna is al die beeste en boerbokke afgehaal en met wild vervang. In Figuur 2 kan ʼn mens die geleidelike herstel van die Swarthaak-plantgemeenskap sien. Dit word minder gedomineer deur Swarthake en meer grasse en kruide is aangeteken. In Maart 2001 is verdigting wel waargeneem as gevolg van oorbeweiding (Figuur 2). Ongelukkig is die plot nie ná Maart 2001 verder gemoniteer nie, want mynbou-aktiwiteite sou toegeneem het nadat Vaalbos Nasionale Park in 2007 gedeproklameer is.

Figuur 3: Die Vaalbos-plantgemeenskap voorbeeld plot 73. Links bo Maart 1993; regs bo Maart 2012; links middel weerligvuur November 2012; regs middel Maart 2013 ná vuur, en heel onder Maart 2015.
In Figuur 1 kan ʼn mens duidelik sien dat die spesifieke Vaalbos-plantgemeenskap nie groter in oppervlak geword het nie. Figuur 3 wys dat die veld in ʼn goeie toestand was met Vaalbosse as die dominante struik en die smaaklike Sandkweek (Schmidtia pappophoroides) die dominante plantspesie in die kruidstratum van plot 73. ʼn Weerligvuur het dele van die plantgemeenskap gebrand: sien Figuur 3 se vastepunt foto’s voor brand, net ná brand en die volgende jaar se monitering. Die laaste foto van die plantgemeenskap is in Maart 2015 geneem, 22 jaar ná daar met monitering begin is. Geen verdigting van Vaalbosse is waargeneem nie, maar wel ʼn toename in kruidagtige plantspesies as gevolg van oorbeweiding met beeste. Wegneempunte:
- Produsente sal vir hulle self moet uitkyk
- Ken die plante waarmee jy werk en verstaan waar dit in die ekologiese prosesse pas.
- Onthou: korttermynbesluite is nie volhoubaar nie.
*BEZUIDENHOUT, H, BOTHA, J, RAMASWIELA, T & O’CONNOR T. 2018. Karakteristieke van langtermyn saamgestelde variasie van die kruidstratum in ʼn semi-ariede Afrika savanna: Reënval, grondtipe en plantspesies funksionele groepe, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 37(1): 1-15pp








