Nuwe, vars uitkyk vir GWK Handel op Hopetown
GWK se handelstak op Hopetown het in Desember 2023 ʼn nuwe takbestuurder, Pierre Badenhorst, verwelkom.
Badenhorst (55), ʼn gebore Wes-Transvaler, is reeds van kindsbeen af betrokke by landbou en kom uit ʼn familie wat met droëlandmielies en beeste geboer het. Sy formele opleiding, insluitend sy suksesvolle voltooiing van die BASOS- en AVCASA-kursusse en sy ervaring as ʼn takbestuurder, tegniese konsultant vir Trifert en later bemestingslandboukundige vir Laeveld Agrochem, beteken dat hy kundigheid en ervaring na die span bring en ʼn groot aanwins is vir die besigheid.
Pierre het sy loopbaan begin in Kimberley in 2005, en ná jare van harde werk en toewyding in verskeie gebiede, het hy in Desember 2023 teruggekeer na die Noord-Kaap waar hy in sy nuwe rol sy passie vir landbou kan uitleef en ʼn waardevolle bydrae vir produsente kan lewer as takbestuurder op Hopetown. Hierdie aanstelling ondersteun verder die groep se kliëntgerigte benadering in die streke waar ons handelsmerke verteenwoordig word en plaas fokus op die vestiging en versterking van kliënteverhoudinge, voorraadbestuur, dienslewering en die algehele ervaring by die tak.
As ʼn ware familieman, deel Pierre sy liefde vir die natuur, jag en gholf met sy vrou, Erika, en hulle twee kinders en drie kleinkinders.
Kommuniek het met hom gesels om bietjie meer uit te vind oor sy ervaring, planne en wat hom opgewonde maak. Hier is wat hy sê.
Waar kom jou liefde vir die landboubedryf vandaan?
Dit moet seker in my bloed wees. Ek was al by ander bedrywe betrokke, maar my hart lê by landbou en die platteland. Ek het op ‘n bees- en mielieplaas grootgeword en wou nog altyd in my pa se voetspore volg, en dit is ook waar my passie vir boerdery en landbou gekweek is.
Vertel ons kortliks meer oor jou ervaring in die landboubedryf.
Gedurende 2013 raak ek voltyds betrokke as takbestuurder by ʼn ander landboubesigheid en presteer ek en my span uitstekend. Ek ontwikkel ʼn liefde vir bemesting, waarna ek in 2017 by Gavilon aansluit as ʼn agent. In 2018 kry ek die geleentheid om by Agron in Groblersdal aan te sluit as tegniese konsultant en fokus op grondgesondheid, plantvoeding en gewasbestuur. Ek voltooi ook in hierdie tyd my BASOS- en AVCASA-opleiding. Ná ʼn samewerkingsooreenkoms tussen Trifert, Laeveld Agrochem en Agri Technovation, sluit ek in 2020 aan by Laeveld Agrochem in Marble Hall as landboukundige en fokus op die bemesting van graan en groente.
Hoekom GWK?
Ek het GWK nog altyd as ʼn vooruitstrewende landboubesigheid en markleier gesien. Ek het ook in die laaste tyd agter gekom hoe baie ek die korporatiewe struktuur mis en toe die geleentheid opkom om by GWK op Hopetown betrokke te raak, het ek nie twee keer gedink nie.
Wat is jou droom vir die tak op Hopetown vir die toekoms?
Ek wil sien dat die tak en sy personeel hul volle potensiaal bereik. Nie net wil ek hê ons moet winsgewend wees nie, maar ek wil ook betrokkenheid by die gemeenskap en kliënte bevorder. Ek wil kliënteverhoudinge verbeter en geloofwaardigheid terugbring om weer die voorkeur-keuse in Hopetown en die omgewing te wees.
Wat maak jou opgewonde oor die rol?
Ek weet ek kan en gaan ʼn verskil maak, en ek weet ek het die ondersteuning van die uitvoerende leierskapspan van die groep om dit te kan doen. Ek is ook baie opgewonde oor ons toekoms en die veranderinge wat ons as deel van die groter VKB Groep gaan ervaar.
Hoe ervaar jy die area en wat doen jy om te ontspan?
Ek is baie lief vir die Noord-Kaap en sy mense. Ná amper ses jaar in Limpopo is dit regtig lekker om terug te wees en die gasvryheid te ervaar wat so eie aan die Noord-Kaap se mense is. Ek en my vrou, Erika, geniet die buitelug en die natuur. Ons is lief vir jag en ek speel graag gholf. Ons probeer ook om soveel moontlik tyd by ons kinders en kleinkinders deur te bring.
Jou lewensleuse?
Koester jou familie want dit is die grootste geskenk wat jy ooit sal ontvang!