Vestig en bestuur lusern vir optimale hooiproduksie
Lusern is ʼn hoë-produserende, meerjarige peulgewas wat geplant word vir die produksie van veevoere. Lusernhooi het die beste voedingswaarde van alle soorte hooi en het ʼn hoë vlak van verteerbaarheid. Lusern kan onder die korrekte klimaatstoestande en bewerkingspraktyke tot 30 ton droë materiaal per hektaar lewer.
Lusern bind atmosferiese stikstof vir gebruik deur die plant self, wat ook ʼn voordeel inhou dat die stikstof beskikbaar is vir opvolgplante in ʼn wisselboustelsel. Die gewas is standhoudend en kan as ʼn dubbeldoel-voergewas aangewend word deurdat dit bewei word, asook gesny en daar hooi van gemaak word. Lusern is egter ʼn relatiewe duur gewas om te vestig, te onderhou en bestuur. Dit verdra ook nie konstante beweiding nie en is vatbaar vir versuiptoestande weens te veel water. Hoewel dit ʼn hoë kwaliteit ruvoer is, het lusern ʼn relatiewe lae energievlak in verhouding tot die proteïeninhoud en energie-aanvulling is nodig waar dit aan diere beskikbaar gestel word.
Klimaat
Lusern is wyd aangepas in verskeie klimaatstoestande, maar doen wel beter onder warmer, droër toestande waar dit besproei word. Die droër toestande is meer geskik vir optimale hooimaakprosesse. Dit bevorder volledige uitdroog van gesnyde materiaal voor dit gebaal word en voorkom dus vogskade wat kan lei tot muf en die vorming van mikotoksien, wat giftig vir diere is. Die nadeel van droër toestande is dat blaarverliese te hoog kan word omdat die blare te vinnig en te veel afdroog in verhouding met die stam, en dan verkrummel tydens die hanteer- en baalproses. Die grootste voedingswaarde is in die blare, wat dan ʼn verlaagde kwaliteit tot gevolg het.
Grond
Lusern kan op verskeie tipes grond verbou word wat goed gedreineer en vrugbaar is, en wortelontwikkeling en indringing bevorder. Grond met ʼn lae watertafel moet vermy word aangesien dit die waterbehoefte en -stremming op die plant sal verhoog tydens droër periodes. Gronde met ʼn lae suurversadiging word verlang en lusern is ook sensitief vir hoë vlakke van aluminium, wat gewoonlik in gronde met ʼn lae pH voorkom. ʼn pH-balans van tussen 5,5 en 6,5 is ideaal en wortels kan so diep as 2,5 tot 4 meter indring op goed gedreineerde, diep gronde met ʼn voldoende watertafel.
Waterbestuur
Onder droëlandomstandighede benodig die lusernplant 400 tot 500 mm reën per seisoen. Dit is egter belangrik dat dit redelik eweredig deur die produksieseisoen en groeiperiode versprei moet wees. Lusern wat onder besproeiing verbou word, benodig 1 400 tot 1 600 mm water vir die seisoen om die maksimum produksie van tot 30 ton per hektaar te lewer. Tussen 70% en 90% van die wateropname deur die wortels vind plaas in die boonste 1,2 meter van die grond. Daar kan 75 tot 100 mm water per ton droëmateriaal (DM) toegedien word en so hoog as 125 tot 150 mm per ton DM in piek-hitte en -groeifase. Swaar besproeiings van meer as 50 mm per keer is wenslik om diep benatting te bewerkstellig en die opbou van soute in die boonste grondlaag te verminder. Plante met ʼn heldergroen kleur is ʼn aanduiding van voldoende wateropname; besproei dan sodra plante ʼn donkergroen kleur vertoon.
Bemesting
Lusern kan atmosferiese stikstof (N) omskakel in bruikbare stikstof vir die plant. Dit word moontlik gemaak deur die simbiotiese verhouding met Rhizobium-bakterie wat op die wortelstelsel van die plant voorkom. Die plant benodig 50 kg N per ton DM en die stikstof wat die Rhizobium produseer, kan egter nie aan die behoeftes van hoog-produserende plante voldoen nie en ekstra stikstof moet steeds toegedien word teen 10 tot 20 kg N/ha ná elke snit.
Ander elemente wat benodig word vir optimale lusernproduksie is fosfaat (P), wat belangrik is vir wortelontwikkeling en die energiebalans in die plant. Die plant benodig gemiddeld 5,2 kg P per ton DM geproduseer en 3 kg/ha per ton DM kan per jaar toegedien word. Kalium (K) is belangrik vir watergebruik in die plant, proteïenneerlegging, asook die translokasie van suikers. Die plant benodig 36,3 kg/t DM en kan 3 kg/ha per ton DM per seisoen. Interaksies tussen P en K moet in aanmerking geneem word, wat belangrik is vir stamgroei.
Hoë vlakke van kalsium (Ca) word benodig aangesien baie Ca deur die hooi verwyder word. Die plant benodig 15 kg/t DM Ca. Ca speel ʼn belangrike rol in selwand-ontwikkeling. Magnesium (Mg) vorm die basis vir chlorofil, wat die groen deel van die plant is en fotosintese teweeg bring. Die plant benodig 3 kg/t DM Mg. Swael (S) is nodig vir proteïensintese en ʼn tekort aan swael kan lei tot N-toksisiteit. Die plant benodig 2.5 kg/t DM.
Ander elemente wat deur die plant benodig word is boor (B), molibdeen (Mo), mangaan (Mn) en sink (Zn), wat alles ʼn rol speel in proteïensintese, stikstofvaslegging, en nodule- en wortelontwikkeling.
Lusernplante produseer ʼn toksien genaamd medicarpin, wat die ontkieming van lusernsaad inhibeer. Dit word autotoksisiteit genoem en hoe langer die leeftyd van die lusernplant, hoe hoër bou die medicarpin op in die grond. Medicarpin is wateroplosbaar en word vinnig afgebreek onder vogtige, warm klimaatstoestande. Goeie benatting en bewerkingspraktyke 2 tot 3 maande voor die vestiging van nuwe lusern kan verseker dat dit suksesvol geplant kan word. Die alternatief is om wisselbou toe te pas met ʼn ander gewas; só kan die opvolggewas ook die opgeboude stikstof in die grond benut.
Lusernprodusente se doelwit om maksimum wins per hektaar te realiseer met lusern kan dus bewerkstellig word deur deeglike beplanning en implementering van die genoemde praktyke. Dit sal ʼn kwaliteit hooi lewer teen die maksimum volumes en ook die produksie-volhoubaarheid van lusern oor ʼn gegewe produksieperiode verseker.
*Bronne:
- Lucerne 101 (Andre Prins)
- NLT Handleiding
- Alfalfa Management Guide