KriVidu ʼn baken van hoop vir Hopetown
Die KriVidu-vroeëkinderontwikkelingsentrum in die Hopetown-gebied het onlangs trots sy deure geopen.
Dié skooltjie, KriVidu, is geleë op die perseel van die springmielievervaardiger Biggi Brands in die Hopetown-gebied. Die skool is genoem na die drie stigterslede van Biggi: Johan Kriek, Attie Victor en Lieb du Raan.
Jacques Louw, bedryfshoof van Biggi, het die teenwoordiges by die openingsgeleentheid met ʼn aanhaling van CJ Langenhoven verwelkom: “‘Die slim man ken al die paaie. Die wyse man ken die regte pad.’ Almal van ons, jonk en oud, het al baie paaie gestap. Alles wat bestaan is die gevolg van paaie wat mekaar s’n kruis.”
Louw het vertel hy was dus baie opgewonde toe hy hoor van die model wat GWK reeds rakende vroeëkinderopvoeding ontwikkel het. Dit het perfek ingepas by idees wat reeds by hulle as bestuur begin vorm aanneem het.
GWK het ʼn model vir ECD-sentrums ontwikkel en in 2019 die eerste sentrum van dié soort geopen op plase in samewerking met boerderye, wat uitgevoer word deur sy nie-winsgewende organisasie, GWK H2O. GWK H2O, ʼn organisasie sonder winsbejag, ontwikkel en implementeer verskeie gemeenskapsprogramme en -inisiatiewe met die ondersteuning van verskeie besigheidsvennote en borge.
Die eerste sentrum, Reënboog Rakkers, is by Genade Boerdery (Douglas) geopen. Daarna het Klawer Kleuters by Wildeklawer Boerdery (Barkly-Wes) en Klouter Bouters by De Meul Boerdery (Prieska) gevolg. Die vierde sentrum, Salt & Light is in samewerking met ʼn eksterne vennoot, Standard Bank, by De Lande-boerdery in Januarie 2024 geopen. GWK H2O het ʼn professionele diens gebied in die vestiging van KriViDu.
Elkeen van dié sentrums bied ʼn geleentheid vir jong kinders (tussen die ouderdomme van twee en vyf) van werkers in die gemeenskap om skoolgereed te word. Daar word ook op hul fisieke en emosionele welstand gefokus, en die kinders kry byvoorbeeld elke oggend ʼn gesonde ontbyt wat deur ʼn dieetkundige ontwikkel is.
Louw voeg by, “vandag is ʼn viering van ons besigheid se pad en die baie mense, in sy verlede, sy hede en sy toekoms, wat ʼn pad gestap het saam met die besigheid.”
Koos de Wet, die besturende direkteur van Biggi, het gepraat oor die beginsel van saad.
“Saad produseer volgens sy soort. Jy kan dit nie verander nie. As jy duwweltjies plant, oes jy popcorn? Nee, dan oes jy duwweltjies. As jy popcorn plant, dan oes jy popcorn. So, dit is die een storie van KriViDu. 50 jaar gelede het drie jong mans ʼn verskil gemaak in hierdie dorp. Attie en Lieb en Johan, julle was jonk. En ek wil hê julle moet elke oomblik van vandag geniet as ʼn erkenning van die saad wat julle gesaai het. Want was dit nie vir julle drie nie, dan was hierdie skooltjie nie hier nie.”
Op sy beurt het Victor roerend vertel: “In die môre as dit koud is en dit ryp en jy gaan laai mense op, dan sien jy ʼn dogtertjie van een of een en ʼn half jaar oud wat sonder warm klere sit en speel in die sand. Die kinders van Hopetown.”
Dít is die kinders in wie Biggi deur middel van KriVidu wil belê. “Daar is nie ʼn ander manier om ons land te red as om ons kinders te red nie.”
“Die mense moet leer lees en skryf,” het Du Raan dit beaam. “My pa het gesê as ons mense nie saam met ons neem nie, bly hulle agter. Ons gaan swaar kry. My pa was reg. Vanoggend kan ek hom eer.”