NAMPO 2023 weer die skou van ouds
NAMPO 2023, wat 16-19 Mei deur Graan SA naby Bothaville in die Vrystaat aangebied is, was weer die NAMPO van ouds wat die landbougemeenskap van Suid-Afrika oor die afgelope 55 jaar leer ken en waardeer het.
Met 81 945 besoekers vanjaar was dit weer ’n toonbeeld van innovering deur die graanwaardeketting én die Suid-Afrikaanse landbousektor. Ruim geleentheid is gebied vir gesprekvoering en interaksie met die 823 uitstallers. Verder het families die kans gekry om landbou in ’n veilige, gasvrye omgewing te geniet. Nagenoeg 200 vliegtuie en 75 helikopters het gedurende die week op NAMPO Park se aanloopbaan geland.
“NAMPO soos ons dit ken”
“Dit was inderdaad NAMPO soos ons dit ken, maar met heelwat vernuwings deur uitstallers. Die ultramoderne geboue wat sommige uitstallers op die park opgerig het, is opwindend en stel ’n nuwe standaard vir uitstallers. Dit is wonderlik om te sien dat uitstallers hulle volledige reekse en nuutste tegnologie ten toon gestel het. Graan SA is ook ongelooflik dankbaar vir die goeie weer wat die week geheers het,” het dr Pieter Taljaard, hoof uitvoerende beampte (HUB) van Graan SA gesê.
Hy sê Graan SA se hoofdoel met NAMPO is om waarde terug te gee aan hul lede, die graanwaardeketting, en die hele landbousektor.
“Die bywoningsyfers is ’n indikator van landbou se relevantheid. Maar dit is belangriker dat die regte voete hier was – en die uitstallers se tevredenheid bevestig dit, want die regte voete lok weer die regte uitstallers.
“Dit is ook verblydend om te sien watter alternatiewe vir die kwessie van die liggingsdifferensiaal by NAMPO te sien was. Dit wys jou dat met tegnologie as vertrekpunt daar dikwels ’n oplossing vir ’n uitdaging soos die differensiaal of graangradering is,” het Taljaard bygevoeg.
Volgens dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof: NAMPO, Bemarking en Navorsingskoördinering, kon sy span die uitdagings wat beurtkrag meegebring het, bestuur. Sodoende kon noodsaaklike dienste soos water en riolering op die terrein normaal voortgaan. “NAMPO Park het weer sy staal gewys as ’n skouterrein wat ingerig is om dié volume uitstallers en besoekers goed te hanteer,” het Strydom gesê.
NAMPO se voorsitter, Danie Minnaar, reken dié unieke besigheidskou het ’n sterk familiekarakter. “Kyk net om jou rond op die park. NAMPO is ’n gefokusde besigheidskou, maar dit word aangebied op ’n familievriendelike terrein. Dit is vir ons kosbaar.” Minnaar het sy waardering uitgespreek teenoor die gemeenskap van Bothaville en omgewing vir hul bereidwilligheid en ondersteuning om die skou jaarliks aan te bied. Hy sê NAMPO bring plaaslike gemeenskappe bymekaar.
Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het NAMPO op Vrydag, 19 Mei besoek. Gedurende ’n vergadering met georganiseerde landbou en die Vrystaatste LUR vir landbou en plaaslike ontwikkeling, het minister Didiza gesê landbou het danksy NAMPO ’n tuiste in die Vrystaat gevind. Sy het afgevaardigdes aangeraai om gebruik te maak van die vergelykende ekonomiese voordele wat NAMPO bied.
Graan SA trek nuwe baadjie aan
Graan SA het op die eerste dag van NAMPO ’n nuwe korporatiewe identiteit en logo vir die groep bekend gestel. Die nuwe logo bevat die wiskundige “≥”-teken om te simboliseer dat die organisasie se lede saam sterker is as die enkele stem. Dié verenigde stem resoneer egtheid en relevansie. Die nuwe logo spreek van die dinamika van graan- en oliesadeproduksie in Suid-Afrika.
“Graan SA was nog altyd ’n dinamiese organisasie en dit is belangrik dat ons nou aanpas by veranderende tye om relevant te bly vir alle graanprodusente van Suid-Afrika,” het Derek Mathews, voorsitter van Graan SA gesê. Hoewel die nuwe logo tydens NAMPO op die terrein gepryk het, sal dit oor tyd ingefaseer word.
Bly ingeskakel
Vanjaar het die NAMPO-toep besoekers die geleentheid gebied om uitstallers te soek, na stalletjies te navigeer en produkte en spesiale aanbiedinge na te vors. Die toep bly nou lewendig bly met relevante uitstallersinligting, sowel as virtuele toere van die 2023 NAMPO-stalletjies.
Vooruitsigte vir 2024
Volgende jaar se skou sal van 14 – 17 Mei 2024 plaasvind. Graan SA beoog om aandag te skenk aan die volgende sake:
- Verbetering van die vloei van toegangsbeheer by die hekke in terme van die kaartjiestelsel.
- Fokus opnuut daarop om uitstallers en besoekers se NAMPO-ervaring beter te maak deur die verdere aanwending van tegnologie en verbetering van die park se infrastruktuur.
- Graan SA is tevrede met die huidige getal uitstallers en wil eerder deurlopend toesien dat die verskeidenheid van uitstallers relevant bly.
- Bevorder die gebruik van NAMPO Park as besigheidspark se geboue en fasiliteite regdeur die jaar.
Die ander NAMPO-skoue wat onder Graan SA se vaandel aangebied word in 2023 is NAMPO Kaap (13-16 September in Bredasdorp) met ’n wintergraanfokus; NAMPO Alfa (12-14 Oktober op NAMPO Park) met ’n fokus op lewende hawe, jag en buitelewe; en die OFM NAMPO Park Kersmark (1-2 Desember op NAMPO Park). Meer inligting is aanlyn beskikbaar by nampo.co.za.