Mpumalanga Landbou hou jaarlikse kongres
Mpumalanga Landbou se jaarlikse kongres het plaasgevind op 1 Junie 2023 by Badplaas. Die tema van was “Die W-uitdaging”. Wat kan Wie, Waar, Wanneer doen in ’n poging om volhoubare landbou te beskerm te midde van ’n disfunksionele owerheid.
Sprekers het waardevolle bydraes gelewer wat die tema ondersteun het en bygedra het tot die sukses van die geleentheid.
- Cobus van Zyl, boer van Noordwes en voorsitter van Agri SA se SvU Ekonomie
- Uys van der Westhuijzen, boer van die Wes-Kaap en voorsitter van Agri SA se SvU Veiligheid
- Kobus Visser, direkteur verantwoordelik vir Landelike Veiligheid en Provinsiale-aangeleenthede by Agri SA
- Lennox Plaatjies, uitvoerende bestuurder van SA Pals
- Johann Weber, uitvoerende direkteur van Zahara Co
- Christo van der Rheede, hoof uitvoerende beampte (HOB) van Agri SA
NG Kerk Lydenburg-Suid se Antoinette Wilson en haar man, Fredrick, het ’n spesiale program vir die kongresgangers se metgeselle aangebied.
Christo van der Rheede het, sonder om doekies om te draai, sommige van die huidige risiko’s geïdentifiseer en in perspektief geplaas. Hy het verwys na:
- Gebrek aan staatsleierskap
- Die owerheid se populistiese ideologie
- ’n Staatsbegroting wat ’n kultuur van afhanklikheid kweek
- Staatsbesteding wat op die finansiering van ’n burokrasie fokus
- Toenemende staatsverval sigbaar ten opsigte van swak infrastruktuur
Cobus van Zyl het gesels oor die ekonomiese uitdagings en wat landbou te doen staan. Hy beklemtoon eerstens dat landbouers hard werk ter wille van hul nageslag. Ons wil vir hulle ten minste die opsie bied om in SA ’n bestaan te maak. Vandag is die beste tyd om skouer aan die wiel te sit. Gister sou beter wees. Cobus se advies ten opsigte van wie iets moet doen is om op plaaslike vlak die net so wyd moontlik te span. Skep verhoudinge van welwillendheid. Probeer om die uitdagings nie as ’n “boer-probleem” aan die groot klok te hang nie. Betrek die totale gemeenskap. Hou in gedagte dat misdadigers ook gereed staan om gapings te vul wat deur ’n disfunksionele owerheid gelaat word. Gelyklopend met privaat-inisiatiewe moet die owerheid steeds aanspreeklik gehou word om hulle verantwoordelikheid na te kom.
Cobus wys daarop dat Suid Afrika tans in die midde van ’n energierevolusie is. Hierdie revolusie se ekonomiese impak is groot en lei tot baie frustrasies. Eskom gaan waarskynlik verdwyn of totaal anders daar uitsien binne die volgende paar jaar.
Johann Weber is ’n gesoute jong besigheidsman en kreatiewe probleemoplosser wat fokus op die ekonomiese herlewing van die platteland. “Plaaslike ekonomiese ontwikkeling raak ’n kwessie van nasionale sekuriteit,’’ sê hy. Die resep vir sukses is gebaseer op ’n gemeenskap wat eienaarskap neem. Die swaartepunt van enige inisiatief moet plaaslik gefokus wees.
Uys van der Westhuijzen en Kobus Visser het te midde van ’n donker prentjie tog ’n boodskap van hoop aan die kongres gebring. Lede is weer herinner aan die noodsaaklikheid van plaaslike veiligheidstelsels en gebeurlikheidsplanne. Riglyne in die verband word gereeld afgestof en aan lede versprei.
Uys het spesifiek aandag gegee aan die veiligheidsdriehoek:
- Moenie ’n teiken wees nie
- Hou gemotiveerde misdadigers uit ’n gebied. Maak dit vir hulle moeilik
- Sorg dat daar ’n aanwesige en bevoegde beskermer is
Uys het daarop gewys dat die owerheid wel by magte is om dit vir ons almal makliker te maak sodra hulle verantwoordelikheid neem en ’n politieke wil openbaar.
Kobus het verwys na die belangrike rol van plaaslike boereverenigings met die toepassing van veiligheidstelsels en gebeurlikheidsplanne. Hy verwys ook na die belangrike rol van die Agri Securitas Trustfonds oor baie jare in die beveiliging van plattelandse gemeenskappe.
Lennox Plaatjies van SA Pals het die PASLS raamwerk beskryf as ’n werkbare en volhoubare alternatief tot die staat se mislukte pogings tot grondhervorming. Dié raamwerk is gebou op:
- Die privaatsektor se inisiatief en beheer
- Behoorlike besigheidsplanne
- Die vermoë om geleenthede te deel
- Gesonde besigheidsbeginsels
- Opleiding en deurlopende mentorskap
- Die insluiting van ’n uittreestrategie as deel van die besigheidsplan
- Die noodsaaklikheid van ’n ondersteunende omgewing
Uiteindelik is Mpumalanga se landbouers huis toe met baie om oor na te dink. Elkeen moet nou vasstel wat hulle kan doen en waar hulle dit kan doen om om volhoubare landbou te beskerm te midde van ’n disfunksionele owerheid.
– deur Robert Davel, Uitvoerende Bestuurder van Mpumlanga Landbou