Colombar: van stiefsussie tot superster
Daar is min dinge wat die verband tussen kultuur en landbou so treffend uitbeeld as ʼn goeie bottel wyn. Een kultivar wat dikwels met Chenin Blanc vergelyk word, maar nie naastenby soveel aandag kry nie, is Colombar.
Wyn: Landzicht Colombar
John Platter-sterre: 3 (vol karakter, aantreklik)
Jy mag dalk nog nie daarvan gehoor het nie, maar jy het dit beslis al gedrink. Dié kultivar word dikwels as ʼn basiswyn gebruik om ʼn versnit met Sauvignon Blanc, Chardonnay of Chenin Blanc te maak.
Nes Chenin Blanc leen Colombar hom tot die maak van byna enige soort wyn. Die gehaltebrandewyn in jou kas is moontlik 100% van Colombar gemaak. Jou droë tafelwyn het heelwaarskynlik Colombar as basis. Met baie semi-soet- en soetwyne word Colombar se hulp ook ingeroep.
En die meeste gehaltewyne in drie- of vyfliterverpakkings … dankie, Colombar.
Maar hoekom moet ons Colombar ʼn ander naam op ʼn boks gee? Landzicht het besluit om die wyn te eer vir wat hy is en wat hy vir die wynbedryf beteken deur dit trots as ʼn kultivar te bottel. (Daar is net enkele ander Suid-Afrikaanse kelders wat ook al dié besluit geneem het.)
By Landzicht, gesetel in die uitgestrekte vlaktes van die Noord-Kaap, vind ʼn mens die ideale groeitoestande vir dié druif: ʼn warm klimaat met los sediment uit die Vaal- en Oranjerivier.
Vir die maak van Landzicht Colombar word die beste uitsoekdruiwe gebruik wat die Groter Karoo hul bied. Die druiwe word gewoonlik volledig ryp geoes en die wyn word koud gefermenteer. Hierna word dit vir twee tot drie maande op die moer verouder om dit voller te maak.
Die Landzicht Colombar is doodeenvoudig ʼn lekker drinkwyn. As jy by die huis kom, skop jy jou skoene uit, haal ʼn Colombar uit die yskas en geniet jou eerste glas ná ʼn moeilike dag. Dit is ʼn wyn wat nie ontleed hoef te word nie – dit dra al die komponente van ʼn tropiese vrugteslaai.
As jy begin kos maak, skink jy jou tweede glas. Soos jy woel in die kombuis en aan alles proe soos jy jou glas wyn geniet, besef jy dat dit eintlik saam met enigiets gaan. Gooi sommer tussendeur ʼn skoot in jou pastasous!
En vir die ernstige wyndrinker: Wie het gesê Colombar kan nie verouder nie? Landzicht het spesiaal vir jou ʼn paar bottels in hul verouderingskelder gebêre. Met die komplekse smaakprofiel wat deur dié verouderingsproses veroorsaak word, sal jy twee keer moet proe om seker te maak of die wyn nie dalk in ʼn vaatjie verouder is nie. Maar nee wat. Dis net ʼn voller wyn wat in perfekte omstandighede verouder is.*
Landzicht se wyne het verskillende gehaltepunte en die Colombar is in hul topreeks, naamlik die Winemaker’s Selection, verpak. Tans eksperimenteer die kelder ook met ʼn organiese Colombar (maar dit word nog nie bemark nie).
Die Landzicht Colombar is nie net ʼn uitsonderlike wyn nie, maar ook ʼn viering van die area en die passie van goeie mense om goeie wyn te maak. Waarvoor wag jy? Skink ʼn glas op die stiefsussie.
En dan skink jy sommer nog een.
Vir meer inligting oor die Landzicht en hul wyne, besoek hul webwerf by www.landzicht.co.za.
(Mariette Olwagen)