Johann Kotzé nuwe HUB van Agri SA
Agri SA is verheug om die aanstelling van Johann Kotzé as sy nuwe hoof uitvoerende beampte (HOB) aan te kondig. Johann sal in Oktober by die huidige HOB, Christo van der Rheede, oorneem. Intussen het Jaco Minnaar, Agri SA President, Kotzé gelukgewens en sy opgewondenheid oor die nuwe fase wat voorlê, uitgespreek:
Kotzé se aanstelling kom op ’n kritieke tyd in Suid-Afrika se trajek. Ons het leierskap oor verskeie sfere van die groter Suid-Afrikaanse samelewing sowel as die landboubedryf nodig. In die komende jare sal landbou die gekombineerde impak van uitdagings soos klimaatsverandering, agteruitgang van infrastruktuur, verval van dienslewering, landelike veiligheid, verskuiwings in die globale markte en beleidsonsekerheid moet navigeer.
Kotzé het groot geword in ’n boeregemeenskap in Noordwes. Hy het later ’n graad in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria voltooi, ’n meestersgraad in besigheidsbestuur en administrasie asook ’n uitvoerende ontwikkelingsprogram by die Stellenbosch Besigheidskool.
“Kotzé is ’n kreatiewe leier met ’n passie vir boerdery en die volhoubaarheid van die voedselstelsel. Hy bring ’n rykdom van ervaring as voormalige bankier in die landbousektor en ’n bekende leier in georganiseerde landbou,” sê Minnaar.
Kotzé het sy loopbaan as ’n boer begin. Daarna het hy ’n landboubankier by Absa Bank geword. Nadat hy as korporatiewe bankier in Mosambiek gewerk het, het hy ’n onafhanklike besigheidskonsultant geword. Kotzé het teruggekeer na die bankwese en was verantwoordelik vir Landbou in Afrika by FNB. Sedert 2017 dien hy as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente Organisasie (SAVPO).
“Gedurende my loopbaan het ek geleer dat Suid-Afrikaanse landbou wêreldwye respek geniet vir sy doeltreffende boerderypraktyke. As ’n landbougemeenskap moet ons die natuurlike hoop wat Suid-Afrikaanse boere daagliks uitleef, kombineer met pragmatiese oplossings vir die komplekse uitdagings wat ons in die gesig staar. In die toekoms sal ons ons denke oor wat realisties moontlik is in die huidige sake-omgewing, moet uitdaag om landbou in staat te stel om vennootskappe in die breër sake- en internasionale gemeenskap meer volhoubaar te benut.
“In die huidige omstandighede moet ons nie deur frustrasie meegesleur word nie, maar gesamentlik met innoverende oplossings vorendag kom. Die etos en integriteit van ons strukture moet die nodige klimaat skep vir ‘n kultuur wat ontvanklik is vir verandering,” sê Kotzé.
“Ek het die vertroue dat ons as ’n bedryf ’n nuwe verhaal kan skryf en die groeipotensiaal van landbou in Afrika kan ontgin. Toekomstige volhoubaarheid is fundamenteel ’n vraagstuk van leierskap.”
Kotzé se termyn by Agri SA sal op 1 Oktober 2023 aanvang neem.
– Persverklaring deur Agri SA