Leer ken vir Franlie van den Berg
Ontmoet Franlie van den Berg, Agri SA se nuwe administrateur van handel en ekonomie. Franlie is gek oor die Lord of the Rings-trilogie, asook haar twee honde, Napoleon en Luna. Oefen is nie haar ding nie en vir ’n skyf pizza en glas Coke, sê sy moeilik nee. Ons leer ken haar beter.
Hoe lyk die pad wat jy tot hier gestap het?
Ek gaan verwys na my gunsteling boeke, The Lord of the Rings – as jy dit nog nie gelees het, of die flieks gekyk het nie, stel ek dit sterk voor – ek is ’n prentjie mens. Aan die begin was dit soos Bilbo se partytjie, het ’n wonderlike tyd gehad, deur wonderlike mense omring, dit was ’n goeie tyd. Toe, deur my eie onwyse keuses, het ek opgeëindig op die pad na Mordor, oorloë en als, Gollum was daar, dit was chaos en ’n baie lang pad. Maar soos alle stories, is ek daar uitgetrek en ryklik en met baie dankbaarheid, deur die Here geseën wat my hier laat beland het.
Wat is die belangrikste les wat jy tot hier geleer het?
Wees inskiklik teenoor alle mense, jy ken nie die pad wat hul gestap het of besig is om te stap nie, of die innerlike struwelinge wat hulle moet oorkom nie. Moet ook nie oordeel nie, dit is nie ons plek nie.
Wat is jou raad aan jong mense wat ’n loopbaan in landbou oorweeg?
As ek luister na die stories wat my ma altyd vertel het (my oupa was ’n skaapboer in Namibië) dan is dit ’n baie moeilike beroep. Ek dink as jy raad deel, moet die positiewe sowel as die negatiewe ingesluit word. Boere is afhanklik van die weer, hulle het geen beheer oor droogtes en vloede nie, hulle moet peste verdra, en dan nog, ’n meer moderne probleem, beurtkrag. Ek glo dit is ’n baie bevredigende beroep, wetende dat jy bydra tot die oorlewing van mense. Ek dink dit moet ’n passie wees wat nie monetêr gedrewe is nie, en ek reken mens moet baie deursettingsvermoë en ’n hele stapel vertroue in die Here hê.
Jou droom vir landbou in Suid-Afrika?
Dat dit die respek sal kry wat dit verdien. Sonder die sektor kan ons as mense nie oorleef nie, want ons het voedsel nodig om te kan oorleef; dit gaan werklik oor lewe-en-dood. Ek dink meeste mense, insluitend ek, vergeet soms waar die kos op ’n winkelrak vandaan kom.
Vertel ons oor jouself – gunsteling kleur, ete, en motto vir die lewe
My gunsteling kleur is wit. Ek het twee honde vir wie ek baie lief is. Ek is die onfiksste, en moontlik die ongesondste, mens wat ek ken – my dieet bestaan meestal uit pizza, lekkergoed en Coke, en ek is bitter trots op myself as ek groente eet! Fisiese aktiwiteit vir my is om na my kar toe en terug te loop. Ek sal derhalwe nie oorleef in ’n post-appokaliptiese wêreld nie, want ek sal ’n maklike teiken wees. Ek hou daarvan om Playstation te speel en ek lees baie, van fiksie en nie-fiksie tot sielkundige boeke. As ek ’n superheld kon wees, sou ek Captain Marvel wou wees, want sy’s ’n loods, sy is die sterkste in die Marvel-groep, en dis bitter-cool dat sy kan vlieg!
’n Aanhaling wat ek gedurig in my gedagtes het kom ook van Lord of the Rings af. Frodo vertel vir Gandalf hy hoop dit gebeur nie in sy tyd nie, en Gandalf antwoord hom: “So do I and so do all who live to see such times. But that is not for them to decide. All we have to decide is what to do with the time that is given us.”
Uit ’n literêre oogpunt kan dit gesien word dat jy bo die uitdagings van jou tyd moet styg, dis nou die tyd waarin jy lewe, nie hoe jy jou tyd gebruik nie. Jy is op ’n sekere plek gebore vir ’n voorafgaande rede. In hierdie opsig, het mens geen keuse nie. Ek glo ook hoewel ons nie kan beheer wat met ons gebeur nie, het ons beheer oor ons reaksies. Ek sien dit as ’n aansporing om ’n goeie lewe te leef, om tyd reg te spandeer, sodat jy aan die einde van jou lewe kan sê dit was goed.
Deur die Redaksionele Span