Die seisoene van GWK Pecans
![](https://www.ecne.co.za/wp-content/uploads/2024/02/Pecans_featured-960x640.jpg)
Die seisoene by GWK Pecans vloei saam met die groeiproses en -stadium van die pekanneutbome – die einste bome wat die lewensaar van dié besigheid is. Dit beteken dat werksaamhede in die besigheid en ondersteuning aan produsente op verskillende vlakke nooit stilstaan nie. Lank voor die leweringseisoen afskop, is die span van GWK Pecans besig op plase, in die fasiliteite en kantore, asook in die mark met onderhandelinge en vestiging van verhoudings met kopers.
![](https://www.ecne.co.za/wp-content/uploads/2024/02/Pecans_1.png)
Valdor Dudley
Kommuniek het gaan aanklop by Valdor Dudley, GWK Pecans se Algemene Bestuurder, om eerstehands uit te vind waarmee die span besig is en wat hul verwagting is vir die 2024-seisoen. Hier is sy terugvoer.
Hoe lyk die voorbereiding vir die 2024-seisoen?
Die tegniese voorbereiding van die fabrieke word gedurende Februarie afgehandel met spesifieke verwysing na voorkomende onderhoud. Daar word verbeteringe by die Douglas-fabriek gedoen om effektiwiteit te bevorder en ook die aanwending van hulpbronne (spesifiek mense) te verbeter. Daardie proses is reeds begin en sal lank voor die begin van die leweringseisoen afgehandel wees. Daar is nuwe spanlede by verkryging aangestel wat ook tans tussen die produsente in die onderskeie areas beweeg.
Hoe lyk die oesskatting vir die seisoen?
Die oes lyk oor die algemeen goed en natuurlik heelwat beter as die 2023-oes. In die Benede-Oranje is die skatting bogemiddeld en ander areas het ook ʼn gemiddelde tot bogemiddelde oesverwagting. Hael het wel skade aangerig in sekere areas, maar die normale fisiologiese gebeure in die natuur werk goed saam. Die skatting in dié stadium word geraam tussen 28 000 en 32 000 ton en mag selfs beter wees.
Enige beduidende verskille tussen die gehalte van 2023 en 2024 se produk?
Die produkgehalte van die 2023-seisoen was oor die algemeen baie goed as ʼn mens in ag neem dat dit ʼn ‘af’ jaar was. GWK Pecans het gedurende die 2023-seisoen feitlik geen eise vir produkgehalte van kopers gehad nie. Dit was eintlik ʼn baie suksesvolle jaar in terme van gehalte, sowel as terugvoering vanaf die Chinese kopers. Dit is moeilik om reeds nou die gehalte van die neute vir die 2024-seisoen te bepaal, maar dit wat ons nou sien, is oor die algemeen goed. Dus word ʼn goeie gemiddelde oes met goeie gemiddelde gehalte word verwag.
Watter aksies beplan GWK Pecans vir 2024?
Daar gaan op 5 April 2024 ʼn amptelike pekan-boeredag wees op Hartwater vir Vaalharts-produsente, hoewel alle produsente welkom is om die dag by te woon. Die inligting sal binnekort aan produsente beskikbaar gestel word. Daar word ook beplan om ʼn boeredag te hou op Douglas in 2024 – die datum en plek sal gekommunikeer word wanneer die besonderhede bevestig is. GWK Pecans gaan ook deelneem aan die A – Z Pekanneutkonferensie op Orania, waar die Pecans-span ʼn uitstalling sal hê en beskikbaar sal wees om met produsente gesprekke te voer. Hierdie datum sal ook direk gekommunikeer word.
Wat is die huidige tendens in die mark?
Die GWK Pecans-span was gedurende Januarie 2024 in China om ʼn beter idee van die mark te kry en om gesprekke met kopers te voer op die vooraand van die Chinese nuwejaar. Volgens die kopers was die fabrieke se pekanvoorraad baie laag aangesien meeste produk reeds na die groot- en kleinhandel geskuif het vir die nuwe jaar. Daar was reeds baie aktiewe direkte bemarking via TikTok gedoen. Die kopers is positief, veral as daar vergelyk moet word met die vorige jaar toe Covid-19-reëls van toepassing was. Die Chinese ekonomie is wel onder druk met die gemiddelde koper wat ook die druk van kostestygings ervaar. Die Chinese regering het onlangs die uitleenkoers verlaag om die ekonomie te stimuleer. Die verbruiker in China is baie meer pryssensitief, wat tot gevolg het dat daar ʼn groter vraag na goedkoper neute is.
Wat is die vooruitsigte in die mark hierdie seisoen?
Die uiteinde van die Chinese nuwejaar moet nog finaal bepaal word aangesien voorraadvlakke ʼn groot rol speel. Dit wil voorkom asof die Chinese kopers baie huiwerig is vir hoër pryse op pekanneute as die vorige jaar, veral weens die pryssensitiwiteit van die kopers. Die nuus van ʼn groter pekanneut-oes in Suid-Afrika maak die kopers ook huiwerig om hoër pryse as verlede jaar te betaal. Die Suid-Afrikaanse se pekanneut het egter steeds ʼn baie goeie naam in China en sal in aanvraag bly. Die pryse van pekanneute relatief tot ander neute is ook belangrik.
Julle het personeelskuiwe gemaak – vertel ons meer hiervan?
Louis Coetzee is onlangs aangestel as die nuwe senior verkryger vir Vaalharts en ondersteun in KwaZulu-Natal en Limpopo, sowel as uitgebreide gebiede in Noordwes en die Vrystaat. Francois Cilliers (beter bekend as Tjokkie) van GWK Internasionaal gaan ook verkryging doen in Douglas en omliggende gebiede. Die Wes-Kaap en Oos-Kaap word tans deur Louis hanteer tot daar ʼn verkryger vir daardie area aangestel is. Leoné Zeelie is aangestel as Fabriekbestuurder op Magogong. Johan Els en Teresa van Loggerenberg is verantwoordelik vir die Douglas-fabriek. Henning Burger sal voortgaan om verkryging in die Benede-Oranje te doen. Humboldt Cilliers sal steeds die KwaZulu-Natal-gebied as verkryger bedien.
Wat is jou boodskap vir pekan-podusente in 2024?
Pekanprodusente moet veral na die wisselkoers kyk vir goeie geleenthede. Geleenthede tussen R19,00 en R 19,50 is baie goeie vlakke om te verskans en daar word voorsien dat die rand wel in die tweede helfte van die jaar mag versterk. Kies julle verwerker oordeelkundig en maak seker dat julle die prosesse en voorwaardes verstaan. GWK Pecans is voorbereid om die groter inname suksesvol te hanteer. Lees gerus GWK Pecans se weeklikse boodskappe en opdatering om julle te vergewis van vars inligting vanuit die pekan- en finansiële markte.