Planne vir ʼn beter platteland
Op 20 en 21 Februarie het Landbouweekblad ʼn konferensie by Nampo-park buite Bothaville aangebied met die tema ‘Oplossings vir Suid-Afrika se platteland’. Die doelwit hiervan was om, aan die hand van suksesvolle gevallestudies, ʼn bespreking te lei om oplossings vir die verval van die platteland te vind.
Landbouweekblad sê “sonder boere kan daar nie ʼn Suid-Afrika wees nie, maar sonder ʼn gemeenskap kan daar ook geen boere wees nie.” Dit sê verder dat die agteruitgang van Suid-Afrika se platteland ʼn resultaat is van breër maatskaplike probleme – van onderwys en gesondheid, tot infrastruktuur, en selfs wyer. Hierdie simptome van swak bestuur is nóg erger in die landelike dele van Suid-Afrika.
GWK, met sy setels in die Noord-Kaapse platteland, verstaan hierdie behoefte. En nou, as deel van die VKB Groep, lê die groter groep se voetspoor oor die hele Suid-Afrika se platteland. Vir baie jare al besef GWK sy afhanklikheid van die gemeenskappe in die areas waar ons besighede geleë is, en belê die maatskappy in die ontwikkeling en opheffing van hierdie gemeenskappe.
Neil de Klerk, GWK-streeksdirekteur vir die VKB Groep, het konferensiegangers toegespreek oor die oplossings wat dié groep ontwikkel en implementeer om die platteland te laat herleef.
Almal het ʼn storie
De Klerk sê dat elke mens ʼn storie het wat hulle bring tot waar hulle hulself vandag bevind. Dit sluit almal in die geskiedenis en hede in, en ook mense in die toekoms.
“Hoe maak mens van die wêreld ʼn beter plek?” vra De Klerk. “Deur positief by te dra tot mense se stories. Vandag is ons almal hier bymekaar om ook by mekaar se stories te leer – dit is nog ʼn manier om die wêreld beter te maak.
De Klerk het verder stories gedeel wat die agtergrond vorm van projekte wat die maatskappy in die platteland ontwikkel het. Een hiervan was ʼn aanvanklike projek om hoërskoolleerlinge by te staan met onderrig in sekere vakke.
“Wat ons egter hieruit geleer het, is dat dit die leerders wel gehelp het om beter te presteer, maar dat hulle agtergrond van só aard is dat die gebrek aan die régte onderrig op die régte tyd ʼn agterstand veroorsaak. Met spesialiste se insette het ons besef dat kinders in hul kleuterjare die regte breinvoeding en motoriese ontwikkeling moet ontvang om te verseker dat hulle later in hulle skoolloopbane goed presteer.”
Hier verwys hy na die ECD-projek wat deur die nie-winsgewende maatskappy, H2O, bestuur word en waardeur daar al vier sentrums op plase in samewerking met boere geopen is.
“Die Instituut vir Veiligheidstudies het bevind dat een van Suid-Afrika se groot veiligheidsrisiko’s die gebrek aan ʼn gesonde onderwysstelsel is,” sê De Klerk. “Daarom het ons nog verder gaan dink aan oplossings om by te dra tot die onderwysstelsel se gesondheid. Ons het koppe bymekaar gesit met spesialiste wat prestasie-ingesteldheid in sport dryf – mense wat by van die grootste sportspanne in die land betrokke is en tot hulle internasionale sukses bydra, soos die Springbokke en die Proteas.”
Hy sê dat hulle tot die gevolgtrekking gekom het dat onderwysers en afrigters ʼn geweldige groot invloed op leerlinge het.
“Almal wat hier sit, kan dadelik dink aan ʼn onderwyser of afrigter wat ʼn groot invloed op jou lewe gehad het,” sê hy. Hierop het hy ʼn video-opname gespeel van JP Triegaardt, hoofafrigter van die Vrystaatse krieketspan. Die spesialiste wat saam aan die oplossing vir die onderwysstelsel werk, werk ook met Triegaardt en sy span.
In die video vertel Triegaardt van die moeilike omstandighede waarin hy grootgeword het, en hoe sekere afrigters ʼn ommekeer in sy lewe teweeg gebring het om hom uiteindelik te motiveer om ʼn prestasie-ingesteldheid (performance mindset) te kweek.
Edutrace is gebore uit die vraagstuk oor hoe onderrig kan verbeter kan word. Hierdie nuwe maatskappy is deur VKB saam met spesialiste geskep om ʼn program te ontwikkel wat in skole in die platteland – en later alle skole – geloods gaan word as hulpmiddel vir leerders om hul volle potensiaal te bereik, met die inkoop van onderwysers, afrigters en ander mentors.
“Die beste wetenskap wat in sport toegepas word, gaan nou na skole gevat word,” sê De Klerk. “Ons is op die oomblik besig om die program te toets in twee skole in die platteland. Want, hoe maak ons die wêreld beter? Hoe verander ons die lewe van mense in die platteland? Jy begin om die ‘goed’ in hulle lewe meer te maak as die ‘sleg’. Daar is geen beter plek om te begin as om ʼn gesonde onderwysstelsel in Suid-Afrika te help bou nie. Ons gaan ʼn reus in die platteland laat opstaan wat ʼn toekoms gaan bou wat ons vandag nog nie eens kan dink moontlik is nie.”
Rol moue op vir eie planne
Altesaam 77 sprekers het oor die twee dae suksesverhale gedeel van gewone mense wat grense verskuif met projekte wat deur samewerking en ʼn gedeelde visie gedryf word. Hierdie stories het alles ingesluit van groentetuine wat gemeenskappe voed en onderwysprojekte, tot samewerking tussen opkomende en kommersiële boere om uiteindelik ʼn Suid-Afrika te bou wat tot almal se voordeel is.
Oor die byeenkoms sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad: “As ʼn publikasie wat al vir meer as ʼn eeu landelike Suid-Afrika dien, het Landbouweekblad nie net ʼn verantwoordelikheid om landelike Suid-Afrika te help herleef nie, maar ken ons ook die mense wat reeds ʼn verskil maak deur beter, ryker en meer inklusiewe landelike gemeenskappe op te bou.”
Hooffoto: Neil de Klerk aan die woord tydens die konferensie