Cyber Days – die kuberkat is uit die sak!
In die ou dae was notaboeke nog ‘n groot deel van ons daaglikse lewe. Dit is gewoonlik by die draaitelefoon in die sitkamer gebêre of in die voertuig gelos, om belangrike inligting, soos telefoonnommers of selfs die PIN (persoonlike identifikasienommer) van ‘n bankkaart neer te skryf.
Vandag het ons wêreld egter verander. Met ‘n tik op die slimfoon of ‘n bankkaart kan ‘n betaling gemaak word of selfs ‘n stemboodskap gestuur word. Hierdie gemak hou egter ook ‘n groter risiko van kuberaanvalle in. Ons word elkeen daagliks daarmee gekonfronteer en dit kan in ‘n oogwink gebeur: ‘n WhatsApp-boodskap of SMS wat jou vra om op ‘n skakel te kliek wat aanvanklik onskuldig lyk, ‘n grappie of ‘n uitnodiging van ‘n “vriend”, maar agter die skerms is daar ‘n bedrieër met ‘n slinkse plan om jou persoonlike inligting te bekom.
Dit is juis hoekom die bewustheid van gevare in die kuberruimte so belangrik is. Met daardie doelwit voor oë het die VKB Groep se Inligting- en Tegnologie-span (I&T), saam met hul vennote, Snode Technologies en SNG Grant Thornton, asook die span van VKB Ventures, in Oktober hul superheldkostuums aangetrek om praktiese inligting en wenke na personeel en kliënte van die VKB Groep te bring, in die vorm van ‘n reeks Cyber Days.
Die doel? Om mense met inligting te bemagtig om makliker die (kuber) kat se skelmstreke uit die boom te kan kyk én hulle met praktiese kennis toe te rus om kuberbedreigings die hoof te bied.
Soos Marius Dreyer, die VKB Groep se Uitvoerende Hoof van I&T, in die vorige uitgawe van Kommuniek gesê het: “Saam kan ons seker maak ons beskerm dit wat regtig belangrik is. Deur waaksaam en ingelig te bly, kan ons potensiële probleme voorkom en almal se gemoedsrus verseker.”
Met voorspellings dat die koste van wêreldwye kuberkriminaliteit teen 2024 tot R166 triljoen sal styg, en Suid-Afrika wat ‘n geraamde R2,2 miljard jaarliks weens kuberaanvalle verloor, was die tyd om inligting te deel en veiligheidsmaatreëls aan te pas nog nooit so belangrik soos nou nie.
Cyber Days het op 17 Oktober in Reitz gekuier, 22 Oktober in Modimolle en uiteindelik in die GWK-streek in Douglas op 31 Oktober afgesluit. Hier is gaste met versnaperinge soos springmielies, kondensmelkkoffie en slush puppies bederf en verwelkom, voor almal met nuwe perspektief na die kuberwêreld gaan kyk het.
Dreyer het tydens die geleentheid beklemtoon dat dit belangrik is om te fokus op die veiligheid van jou en jou gesin in ‘n digitale wêreld, veral wat kinders betref.
Kubermisdadigers is meedoënloos en sal enige manier denkbaar gebruik om inligting te bekom, te bedrieg en uiteindelik finansieel daarby te baat. Dit is dus belangrik dat mens seker maak dat digitale profiele beveilig is en dat die inligting wat aanlyn gedeel word, slegs tussen vriende en familie is wat jy ken en vertrou.
“Wees waaksaam en bevraagteken eerder of dit waarmee jy gekonfronteer word veilig is of nie – só kan jy jouself en jou geliefdes bemagtig om veiliger in die digitale omgewing te wees,” sê Dreyer. “Net een oomblik van twyfel of ekstra versigtigheid oor of iets regmatig is, kán die verskil maak om dit wat vir jou die belangrikste is, te beskerm.”
Die span van Snode het by Dreyer aangesluit om oor sosiale ontwerp (oftewel social engineering) in Suid-Afrika te praat, spesifiek hoe aanvallers hierdie tegnieke gebruik om mense en maatskappy te teiken. Eenvoudige strategieë is voorgestel om digitale veiligheid by die huis toe te pas, terwyl ‘n demonstrasie die slinkse tegnieke van kuberkriminaliteit ontbloot het. Die VKB Ventures-span het ‘n prettige praktiese demonstrasie gegee met behulp van ChatGPT oor hoe kunsmatige intelligensie (of AI soos daarna in Engels verwys word) tot voordeel van die landbou-omgewing gebruik kan word.
Hierdie geleentheid was meer as net ‘n reeks lesings: Dit was interaktief en insiggewend wat ‘n praktiese oorsig gegee het oor hoe om slim te wees wanneer dit by kuberbedreigings kom. Van gesprekke oor hoe om jou wagwoord soos ‘n juweel te beskerm, tot die herkenning van ‘n “katvis”-oomblik (phishing) in ‘n bedrieglike e-pos of SMS.
Hier is ‘n paar vinnige wenke deur die kenners wat dadelik toegepas kan word:
- In die algemeen, gebruik wagwoorde wat jý kan onthou, maar verseker dat dit sterk is deur onder meer spesiale simbole soos !, @, en # in te sluit of tale te meng. Voorbeeld: Br@@ivl3isish3@lthy – braaivleis is healthy.
- Verander jou wagwoorde gereeld en moenie dieselfde wagwoord op verskillende platforms gebruik nie.
- Hou jou huis se Wi-Fi-netwerktoestel (of router) se naam anoniem; moenie jou van gebruik nie, aangesien dit jou identiteit kan blootstel. Kies ‘n unieke wagwoord, nie die een wat die installeerder opstel nie.
- Laai ‘n VPN-toepassing (Virtual Private Network) op jou foon af. Dit is ‘n hulpmiddel wat jou internetverbinding beskerm deur ‘n veilige portaal vir jou data te skep. Dit versteek jou ligging en aanlynaktiwiteite, wat dit vir bedrieërs moeilik maak om jou op te spoor. Maak ook seker dat toepassings (apps) op jou foon nie toegang tot jou foto’s het nie; dit help om jou privaatheid te beskerm.
- Verwyder enige apps op jou foon wat jy nie meer gebruik nie. Hoe minder ongebruikte programme jy het, hoe kleiner is die kans dat iemand jou inligting kan steel. Dateer gereeld jou foon se sagteware asook apps op na die nuutste weergawes (updates) – dit verhoog die sekuriteit van jou toestel.
- As jy ‘n e-pos of boodskap ontvang, maak seker dat jy die persoon ken wat dit gestuur het en dat die adres geldig is. Moet nooit dadelik op skakels waaroor jy onseker is kliek nie. Bel eerder die persoon wat dit gestuur het om hul identiteit of die e-pos of boodskap te verifieer.
In die digitale era is dit belangrik om ingelig te wees en nie deur onkunde uitgevang te word nie. Wees waaksaam, tree voorkomend op en bevraagteken iemand se bedoelings voordat jy in ‘n kubermisdadiger se strik trap.
Vir diegene wat nie ‘n Cyber Day kon bywoon nie en meer inligting of ondersteuning benodig, kontak die VKB Groep se I&T-span deur ‘n e-pos te stuur aan itcomms@vkb.co.za.
*Artikel saamgestel deur Marlee Vorster en Madri Scheepers