Wees pasaangeër óf agteros: KI is hier om te bly

Die eerste industriële revolusie (1IR) het aan die einde van die 18de eeu begin. In 1765, word dit aangeteken. Die grootste veranderinge wat in industrieë te siene was, was die gebruik van meganisasie, en meganisasie was die rede hoekom dié bedryf, in hierdie tyd, landbou verby gesteek het as die ruggraat van ekonomieë. Hierdie tydperk word veral geken aan die ontwikkeling van die stoomenjin.
Sowat ʼn eeu later in 1870 het die tweede industriële revolusie (2IR) begin. Laat in die 19de eeu word daar massiewe spronge vorentoe gegee in die ontwikkeling van tegnologie, veral in bedrywe wat energiebronne ontgin – elektrisiteit, gas en olie. Die uitvinding van telefone was deel van hierdie tydperk, en uiteindelik ook voertuie en vliegtuie. Daar word algemeen na 2IR as die belangrikste revolusie verwys.
Die derde industriële revolusie (3IR) is die begin van kernkrag. Elektronika, telekommunikasie en rekenaars word in hierdie tyd ontwikkel, en deure word oopgemaak na moontlikhede om die buitenste ruim te verken en na te vors.
Digitaal. Dít is hoe die vierde industriële revolusie (4IR) opgesom kan word.
Dit verwys na die integrasie van gevorderde tegnologieë en produksietegnieke, wat die manier waarop mense werk en lewe, verander. Dit sluit tegnologieë soos kunsmatige intelligensie (KI), die internet (of die Internet of Things – IoT), 3D-drukwerk en robotika in.
Sommige mense verskil en verwys na huidige ontwikkelinge as Industry 4.0 eerder as ʼn revolusie omdat, indien dit as een geklassifiseer word, ons sal moet erken dat ons tans te midde van ʼn revolusie is. Hierdie mense verwys só daarna omdat die omvang hiervan nog nie begryp kan word of gedefinieer is nie. Hoe dit ook al sy, hierdie verandering het afgeskop aan die begin van die derde millennium met iets wat elkeen daagliks gebruik: die internet.
Groter bevolking, groter behoefte
Wêreldwye bevolkingsgroei beteken wêreldwye groei in die behoefte aan voedsel, wat nuwe ekonomiese druk – en geleenthede – vir produsente skep. Terselfdertyd moet die landboubedryf die dryf na meer volhoubare praktyke akkommodeer.
Die ontwikkeling van tegnologieë soos KI bied aan spelers in die landbouspasie nóg ʼn kragtige hulpmiddel om hierdie uitdagings aan te spreek en groter effektiwiteit in hul besighede te ontsluit. Veral generatiewe KI (gen-KI) trek aandag onder leiers in landbou (en wyer) en kan die hupstoot wees om nodige verandering te bewerkstellig. Verder het dit die kollig gewerp op baie ander bestaande benaderings, soos analitiese KI, wat ʼn bewese rekord het, maar steeds nog nie in baie praktyke aangewend word nie.
Wanneer die twee gekombineer word, het analitiese KI en generatiewe KI die potensiaal om waarde te skep regdeur die waardeketting en besighede se operasionele funksies.
Besighede en produsente kan ekonomiese waarde skep in twee areas: in die veld, deur funksies soos arbeid, insetkoste en opbrengste te verbeter, en in die onderneming, deur groei in verkope en verbeterde produktiwiteit.
Ventures – onder leiding van Llewellyn Brooks – ʼn nuut-gevestigde besigheid in die groter VKB Groep waarvan GWK deel is, se hoofdoelwit is spesifiek om die nuutste tendense in terme van innovering te ondersoek. Volgens dié besigheid verander die wêreld – en tegnologie – daagliks, wat beteken dat die maatskappy áltyd gerat moet wees om te verander en aan te pas. Hulle ondersoek, identifiseer en monitor eksterne tegnologieë om te bepaal of daar ʼn geleentheid is om dit intern toe te pas tot voordeel van die maatskappy, sy aandeelhouers en produsente. Verder analiseer hulle interne besighede in die Groep om moontlikhede vir verbetering en vooruitgang te identifiseer.
Oplossings wat deur Ventures geïdentifiseer word, word deur die span se lede met diverse spesialiskennis geïmplementeer.
KI is wel iets wat mense skepties en versigtig-opgewonde laat, dalk juis omdat die moontlikhede – die goeie én die slegte – daarvan nog nie ten volle bekend is nie. Volgens die span van Ventures is KI nog baie vars en die ontwikkeling daarvan word deurlopend dopgehou.
Kunsmatig, dog intelligent
Kunsmatige Intelligensie is ʼn breë term wat verwys na ʼn stel tegnologieë wat rekenaars in staat stel om take te verrig wat tipies menslike intelligensie sou benodig, soos:
- Leer: KI presteer deurlopend beter deur die opbou van kennis en ervaring
- Redeneringsvaardighede: KI kan logika en redenasie gebruik om oplossings vir probleme te vind.
- Besluitneming: KI kan besluite neem gebaseer op data en ander insette.
- Kommunikasie: KI kan menslike taal verstaan en genereer.
- Persepsie: KI kan visuele inligting interpreteer.
Beteken dit dat die mensehand oorbodig word? Hoe verander dit die landskap van die landboubedryf?
Volgens BPM, ʼn konsultasiemaatskappy in Kalifornië, staar die landbousektor ongekende uitdagings in die gesig weens wêreldwye bevolkingsgroei en die behoefte aan verhoogde voedselproduksie, soos voorheen genoem. KI in landbou bied innoverende oplossings vir hierdie knelpunte.
Daar word voorsien dat KI-gebruik in die landboumark sal groei van $1,7 miljard in 2023 na $4,7 miljard teen 2028. Hierby is verskeie toepassings, voordele, uitdagings en toekomsneigings ter sprake.
KI in landbou toegepas
KI beskik oor die potensiaal om boerderypraktyke te revolusioneer, deur presisietegnieke, voorspelling-analises, outomatisering, en selfs gevorderde lewendehawebestuur.
In presisieboerdery verander KI tradisionele grondbestuur deur data te analiseer om optimale voedingstofvlakke te bepaal. Algoritmes word gebruik om inligting te prosesseer wat verkry word uit sensors, historiese data en grondmonsters. Satellietbeelde en hommeltuie wat met KI toegerus is, moniteer gewasgesondheid intyds, sodat produsente aksie kan neem indien daar enige tekens van siektes of plae is. KI-gedrewe besproeiingstelsels bepaal optimale watertoedieningskedules gebaseer op verskeie faktore, waaronder grondvog, weervoorspellings en gewasse se waterbehoeftes.
Wat voorspelling-analises betref, kan KI-modelle weerpatrone met toenemende akkuraatheid voorspel. Dit word ook gebruik om markneigings en kommoditeitvraag- en aanbod te voorspel.
Die akkuraatheid wat KI na outomatisering bring, verseker presiese saadplasing en -spasiëring, wat weer grondgebruik optimaliseer en gesonde gewasgroei verseker. Ander voorbeelde van KI in outomatisering sluit effektiewe stroop- en plukprosesse en verlaagde arbeidskoste in.
Waar KI tot landbou se voordeel is:
- Verhoogde effektiwiteit (bv. herhalende take word geoutomatiseer en skep ruimte vir boere om op strategiese aktiwiteite te fokus, soos data-analise en bestuur. Arbeidskoste verlaag, terwyl operasionele koste verbeter deur beter hulpbronverbruik)
- Verbeterde produktiwiteit (bv. beter gewas- en lewendehawebestuur lei tot verhoogde produksie en presisie-aanwending van produkte lei tot minimale vermorsing)
- Volhoubaarheid (verminderde watergebruik en chemiese insette lei tot beter grondgesondheid)
- Datagedrewe besluitneming (KI verskaf intydse, of real-time, inligting vir besluite oor gewasgesondheid, grondtoestande en markneigings)
Oorwegings wanneer daar in KI belê word
Klein- tot mediumgrootte boerderye kan finansiële uitdagings ervaar wanneer KI-praktyke geïmplementeer word. Daar is (soms hoë) kostes verbonde aan sensors, hommeltuie en KI-aangedrewe masjinerie en die aanvanklike belegging kan groot wees, wat struikelblokke vir baie produsente veroorsaak.
Dit is belangrik om die aanvanklike kostes op te weeg teenoor die langtermynvoordele, soos moontlike opbrengste en kostebesparings, asook die terugbetalingsperiode vir KI-beleggings.
ʼn Ander moontlike uitdaging kan die integrasie wees tussen KI en bestaande toerusting, veral waar ouer masjinerie nie by KI-tegnologie aangepas kan word nie en hierdie toerusting vervang of opgegradeer moet word. Hierdie proses kan operasionele funksies op die plaas striem en gaan met baie beplanning benader moet word. Daar word aanbeveel dat dit in fases uitgerol word.
Vir suksesvolle implementering, is dit van kardinale belang dat boere en plaaswerkers opgelei word om KI-hulpmiddels te gebruik. Om die gaping tussen ‘tradisionele’ boerderypraktyke en moderne tegnologieë te oorbrug, sal tyd en geduld verg.
Om te verseker dat die versameling, stoor en deel van landboudata op ʼn veilige manier gedoen word, is waarskynlik een van die grootste oorwegings in die gebruik van KI. Produsente se sensitiewe inligting oor hul bedrywighede en opbrengste moet met die nodige sekuriteit beskerm word. Dít vereis robuuste kubersekuriteit-maatstawwe en databestuurpraktyke.
Verder bestaan daar op die oomblik nog vrae oor die eienaarskap van data wat deur KI-stelsels gegenereer word – ʼn vraagstuk wat deeglik bespreek moet word tussen produsente en tegnologieverskaffers.
Wat wag vir ons in die KI-sfeer?
Vordering in masjienleer is besig om voorspellingsvermoë in landbou te verbeter. Nuwe algoritmes kan toenemend meer komplekse datastelle verwerk en omskakel in akkurate inligting, terwyl integrasie tussen stelsels aanhoudend meer effektief gemaak word.
Regulatoriese- en beleidsveranderinge is ook op die horison, wat die gebruik van KI in landbou kan beïnvloed. Regerings mag moontlik nuwe reëls instel in terme van databeskerming, omgewingsimpak en sertifiseringsvereistes. Boere moet op hoogte hiervan bly om nakoming hieraan te verseker.
VKB Ventures voorsien dat KI ʼn groot rol gaan speel in hoe prosesse deurlopend vinniger en makliker gaan word. In die landboubedryf het die gebruik van KI al baie versterk, maar nog nie oral tot op die vlak waar dit dadelik geïmplementeer kan word nie. Dié span vergelyk KI met die Internet in 1995: ʼn mens kon daarsonder klaarkom, maar met ʼn groot gesukkel en sonder om vooruit te beweeg. Net so sal besighede en boerderye in die toekoms gekniehalter word indien KI nie aangeneem en toegepas word nie.
Ten spyte van die snelle pas waarteen KI ontwikkel, bly dit steeds ʼn masjien, sê Ventures. Die mensehand gaan altyd nodig bly om te verseker dat die stappe gevolg word en dat die stelsel sy werk reg doen – KI is slegs ʼn uiters handige hulpmiddel in die landboubedryf.
In slotsom is KI iets wat moontlik boerdery en besigheid soos ons dit ken, mag transformeer. Hoë koste en stelselintegrasie is egter uitdagings wat nog aangespreek moet word. Ondernemings in die landboubedryf móét egter mededingend bly om in die groeiende voedselvraag te bly voorsien, gewortel in die data-gedrewe, volhoubaarheids- en effektiwiteitsbeginsels wat as die toekoms van landbou gesien word.
Die regte aanwending van KI kan help om hierdie doelwitte te bereik.
*Bronne:
- Institute of Entrepreneurship Development
- mckinsey.com