Koringkultivars se proefresultate vir 2024 beskikbaar

GWK Landboudienste, in samewerking met produsente, GWK-landboukundiges, en saadmaatskappye, evalueer jaarliks koringkultivars met die aanplant van strookproewe oor verskeie lokaliteite. Die voordeel vir produsente is dat GWK onafhanklik die evaluerings doen en oor ʼn meerjarige databasis per streek beskik. Kultivars verskil ten opsigte van aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal.
Hierdie eiesoortigheid stel elke boer in staat om kultivars te plant wat die beste in sy streek aangepas is. Kultivarkeuse behoort jaarliks hersien te word. Maatskappye wat vanjaar aan die proewe deelgeneem het is Pannar Saad, Syngenta South-Africa, Agricol en Limagrain Zaad South-Africa.
Metodiek

Figuur 1
Vir die 2024-seisoen is agt strookproewe aangeplant by die volgende lokaliteite (sien figuur 1):
· Douglas (1)
· Jacobsdal (1)
· Hopetown (1)
· Magogong (1)
· Marydale (1)
· Cradock/Cookhouse (1)
· Prieska (1)
· Barkly-Wes (1)
Op versoek van die produsent is slegs kultivars met ʼn medium en lang groeiperiode getoets by Douglas en Prieska (vroeë aanplanting). Die rede hiervoor was dat die proewe al vroeg in Junie aangeplant word. Met ʼn vroeë plantdatum is vreetskade wat deur voëls veroorsaak is in die verlede op die vinnige kultivars waargeneem. Die proewe is almal gestroop. Ten minste 200m van elke strook is gestroop.
Elke vierde aanplanting was ʼn kontrolekultivar (produsent se kultivar) om die stabiliteit van die proef te bepaal en regstellings te maak om kultivars regverdig te vergelyk. Laasgenoemde help dus om moontlike grondverskille, hellings, ensovoorts te neutraliseer.
Vir elke lokaliteit is die kultivars ook verskillend gerandomiseer. Die voordeel in randomisering is dat kultivars nie altyd langs dieselfde kultivars staan nie. Die kultivars is teen verskillende plantpopulasies aangeplant volgens elke maatskappy se behoefte. Die planters is gekalibreer met die doel om die populasiedoelwit te kon bereik. Die populasiedoelwit kan gesien word in die resultatetabelle.
Elke kultivar en kontroles word gestroop en ʼn monster word geneem wat binne 24 uur by ʼn GWK-silo gegradeer word. Die opbrengs word na 13% vog verwerk. Die finale resultaat is bereken op inkomste per hektaar, met die koring se graad ingereken. Die bepaling van die graad is egter slegs gebaseer op die hektolitermassa en proteïenwaardes.
Vogbepaling is net ná stroop vir alle kultivars gedoen. Die monsters van die kultivars wat nog nat was tydens stroop, is verder gedroog om ʼn meer korrekte hektoliterlesing te kry. Alle monsters is ook eers gesif sodat vreemde materiaal nie die hektoliterlesing beïnvloed nie.
Die randwaarde is slegs ʼn aanduiding van wat die produsent vir die spesifieke graad en opbrengs ontvang. Omdat dit proewe is en ʼn klein oppervlakte is, is dit slegs ʼn aanduiding van moontlike inkomste. Die gemiddelde koringprys waarop gewerk is, is R6 150 per ton, waarna die aftrekkings per gebied en die prysverskille tussen die grade ook in berekening gebring is. Die data word na die betrokke saadmaatskappye gestuur nadat dit verwerk is en eers gepubliseer as daar geen probleme gevind word nie.
Saadbehandelings
Die saad is ontvang as reeds behandel vanaf die saadmaatskappye. Die saadbehandelings wat gebruik was, is dan ook hoe die saad kommersieel verkoop word.
Inligting omtrent lokaliteite vir 2024

Figuur 1
Interpretasie van data
Die opbrengs en vog vir die 2024-oesjaar word vir elke lokaliteit getoon. Die koëffisiënt van variasie (kv) word ook aangedui. Die koëffisiënt van variasie dui die statistiese korrektheid van ʼn proef aan. ʼn Waarde laer as 6 word as statisties goed beskou vir besproeiingsproewe. Hoe laer die koëffisiënt van variasie, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid. Die kv-waardes vir die 2024-proewe is laag, wat daarop dui dat die proewe akkuraat uitgevoer is. Om interpretasie te vergemaklik, word elke kultivar se prestasie ook as ʼn indeks (% van proef) aangedui vir 2022, 2023 en 2024. ʼn Indekspersentasie-voorstelling werk as volg:
· 100% = Gemiddeld van die proef
· <100% = Swakker as proefgemiddeld
· >100% = Beter as proefgemiddeld
In Tabelle 2 – 8 word die inligting per lokaliteit vertoon. Tabelle 9 – 11 is opsommende tabelle wat die kultivar prestasie vir eenjaar, tweejaar en driejaar aandui.
Die kultivars SST8205 en SST8135 het by die Prieska-proef koueskade gekry. Dit is dan ook die rede vir hierdie kultivars se swakker prestasie vir Prieska. Albei kultivars word geklassifiseer as kultivars met ʼn medium/kort groeiperiode. Die 04 Junie plantdatum vir Prieska is ook baie vroeg vir kultivars in hierdie groeiperiode. Verder was Junie 2024 was ʼn relatiewe warm maand, wat daartoe bygedra het dat die kultivars met ʼn korter groeiperiode vinniger ontwikkel het en dus op ʼn meer gevorderde stadium sou wees met die laat koue. Die variasie in opbrengs tussen die kontroles vir die Hopetown-proef is ook te groot. Vir hierdie rede word die data vir 2024 vir Hopetown nie getoon, omdat die kontroles se invloed op die aangrensende kultivars te groot is en dus as minder betroubaar beskou word.
Navrae kan gerig word aan:
Laai die proefresultate af
Bedankings:
· Maatskappye wat saad voorsien het: Pannar, Syngenta, Agricol & Limagrain Zaad South-Africa.
· ʼn Spesiale woord van dank aan die produsente, medewerkers en GWK-landboukundiges vir hulp verleen.