Wees bedrogbewus en bly beskermd
Praat met enigiemand en hulle sal jou sê: bedrieërs is buite beheer. Of dit nou aanlyn, oor ‘n telefoonoproep, of in persoon is – kansvatters is volop en raak ál slimmer.
Wêreldwyd word daar elke jaar in November gefokus op bewusmaking oor bedrog omdat die impak daarvan so verwoestend is. Die Internasionale Bedrogbewusmakingsweek het hierdie jaar van 16 – 22 November plaasgevind, en word ook in Suid-Afrika erken.
Wat is bedrog?
In breë terme verwys ‘bedrog’ na aksies wat daarop gemik is om te mislei – vir finansiële of persoonlike gewin. Dit is enige doelbewuste of opsetlike daad om iemand anders van eiendom of geld te ontneem deur misleiding of ander onregverdige middele. ‘Beroepsbedrog’ is bedrog wat gepleeg word deur mense wat werk vir, of sake doen met, ‘n organisasie.
Hoekom maak dit saak?
Deur bedrog word daar jaarliks miljarde rande se skade aangerig aan maatskappye, regerings en individue. Bedrog het ‘n dramatiese impak op slagoffers – en die werknemers van dié slagoffers, wat insluit werksverliese, ‘n verlies aan fondse en beleggings, verlaagde vertroue in openbare instellings en groot druk op hulpbronne.
In die Association of Certified Fraud Examiners (ACFE) se Report to the Nations beraam kundiges in bedrogvoorkoming dat die gemiddelde besigheid jaarliks ongeveer 5% van sy inkomste verloor weens bedrog.
Maar nie net maatskappye word geteiken nie. Bedrog teenoor individue neem toe in Suid-Afrika. Na raming het 811 000 gevalle van verbruikersbedrog in die 2024/2025-periode plaasgevind en meer as twee derdes van Suid-Afrikaners sê dat hulle deur ‘n vorm van digitale bedrog geteiken is, met beduidende finansiële gevolge.
Onder verbruikers in 18 lande en streke wat aan ‘n TransUnion-opname in November en Desember 2024 deelgeneem het, het 29% gesê dat hulle geld verloor het deur e-pos-, aanlyn-, telefoonoproep- of teksboodskap-bedrog. Die opname het vasgestel dat die gemiddelde verlies per verbruiker R34 447 beloop het. Diegene wat aangedui het dat hulle geld weens bedrog in Suid-Afrika verloor het, se gemiddelde verlies was R12 518.
Statistieke
- Verbruikersbedrog was die tweede mees algemene misdaad wat deur individue in Suid-Afrika (16 jaar en ouer) ervaar is in 2024/2025 (naas diefstal).
- Individue met hoër opleidingkwalifikasies, vroue, en inwoners van metro-areas word tot ‘n baie groter mate geteiken, wat daarop dui dat bedrieërs hulself toespits op verbruikers wat digitaal-slim is.
- Die gebrek aan rapportering is ‘n groot uitdaging, met 65,1% van slagoffers wat nie insidente aan die polisie in 2024/2025 rapporteer het nie.
- Bankbedrog het 45% van gerapporteerde gevalle in 2023 uitgemaak, met ‘n 86% verhoging in verliese tot sowat R1,9 miljard in 2025.
- Bedrieglike en oneerlike lewensversekeringseise het van 4 130 in 2023 gestyg tot 5 505 in 2024.
Mees algemene soorte bedrog
Bedrieërs raak meer gesofistikeerd en gebruik hoofsaaklik digitale kanale. In laat 2024 is die volgende metodes die meeste gerapporteer:
- Phishing/Smishing: Bedrieglike e-posse of teksboodskappe wat ontwerp is om persoonlike data te steel
- Derdeparty-verkoper-slenters: Slenters op geloofwaardige aanlynverkopewebtuistes
- Geldmuil-slenters: Slenters waar individue aangesê word om geld wat onwettig verkry is, oor te plaas
- Gesteelde identiteit/voorgee om iemand te wees: Identiteitsdiefstal het tussen April 2023 en April 2024 met 400% toegeneem – die groen ID-boekies is veral ‘n risiko.
Hoekom pleeg mense bedrog?
Maatskappye is nie immuun teen bedrog deur hul werknemers nie. Dr. Donald Cressey was een van die eerste persone wat ondersoek het hoe ‘witboordjie’-misdadigers verskil van gewelddadige oortreders. ‘n Deel van Cressey se werk oor bedrog in maatskappye het die ontwikkeling van die Bedrogdriehoek ingesluit, met drie elemente wat teenwoordig moet wees vir iemand om bedrog te pleeg. Nuwe navorsing het ‘n bykomende element geïdentifiseer, wat die Bedrogdiamant (figuur 1) vorm.

Figuur 1: Die Bedrogdiamant
Druk (of motivering): Hierdie probleem is tipies finansieel van aard. Voorbeelde sluit in ‘n dobbel- of dwelmafhanklikheid, persoonlike skuld of swak krediet, ‘n groot finansiële verlies, of maatskaplike of familiedruk om sukses te behaal. Hulle kan glo dat bedrog die enigste oplossing is weens skaamte, trots of ‘n behoefte om hulself te bewys.
Geleentheid: ‘n Werknemer moet glo dat hulle die geleentheid het om hul plan suksesvol uit te voer. Hierdie geleentheid kan byvoorbeeld ontstaan as gevolg van ‘n gebrek aan bedrogvoorkomingsmaatreëls.
Rasionalisering: Oortreders gebruik rasionalisering om hul kriminele gedrag te regverdig of te verskoon, en om ‘n positiewe selfbeeld te handhaaf. Mense is dikwels nie bereid om hul eie gedrag as sleg of moreel twyfelagtig te sien nie. Om ‘n positiewe selfbeeld te behou, rasionaliseer oortreders hul bedrieglike dade op verskeie maniere. Hulle kan vir hulself sê dat hulle net die geld “leen” en dit sal terugbetaal sodra hulle kan, of hulle kan glo dat hulle te min betaal word vir hul werk en dus ekstra vergoeding verdien.
Vermoë: ‘n Persoon het die toegang en vaardighede om bedrog te pleeg sonder om uitgevang te word.
Maatreëls in die Groep
Hoewel bedrogvoorkoming ‘n spanpoging is en almal verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar, lê die bestuur van beheermaatreëls om bewusmaking te dryf, bedrog op te spoor en daarteen op te tree in die Groep se Forensies-span.
“Die enigste verdediging teen kriminele is ons interne beheermaatreëls,” sê PC Botha, Interne Oudit-bestuurder by GWK in Kimberley. “Die Forensies-span maak staat op ons personeel en kliënte se waaksaamheid: julle oë, instinkte en integriteit is ons maatskappy se sterkste wapen. Ons krag lê in elke personeellid en kliënt wat rooi vlae raaksien, die beheermaatreëls toepas, en praat wanneer iets nie reg lyk nie.”
GWK, en die groter VKB Groep, erken en neem elke jaar deel aan Internasionale Bedrogbewusmakingsweek. Personeel en kliënte word ook aangemoedig om enige onetiese gedrag te rapporteer deur die volgende kanale te gebruik:
- Tolvrye nommer: 0800 0600 50
- E-pos: vkb@behonest.co.za
Elke insident word deur die span ondersoek. Rapportering kan op drie maniere gedoen word:
- Reveal my identity – jy maak jou identiteit bekend aan die diensverskaffer en die VKB Groep
- Partially anonymous – jy maak jou identiteit bekend aan die diensverskaffer, maar nie aan die VKB Groep nie
- Anonymous – jy bly anoniem vir die diensverskaffer en die VKB Groep
In alle gevalle word inligting met absolute sensitiwiteit hanteer en hoef daar geen vrees vir viktimisering te wees nie.
In ‘n wêreld waar ons sukkel om by te hou met nuwe maniere waarop individue en maatskappye geteiken word, is die enigste beskerming teen bedrog om bewus en paraat te bly. Die Internasionale Bedrogbewustheidmaand se doelwit is juis dít: hoe meer ons weet, hoe veiliger kan ons onsself, ons identiteit en ons bankbalans hou.
*Bronne:
- South African Fraud Prevention Service: www.safps.org.za








