Lusernhooi vir melkproduksie: Bewerkingspraktyke om hoë blaarinhoud te verseker
Lusern bly die hoeksteen van hoëprestasie-herkouervoeding in Suid-Afrika, veral binne die melkbedryf waar konstante ruproteïen-verteerbaarheid en veselgehalte krities is vir volhoubare produksie. Die ekonomiese waarde van lusern word grootliks bepaal deur die verhouding tussen blaar en stingel. Omdat tot 70% van die ruproteïen en ‘n groot deel van die oplosbare energie in die blare gekonsentreer is, lei enige blaarverlies direk tot hoër ADF (Acid Detergent Fibre) en NDF (Neutral Detergent Fibre), en gevolglik laer verteerbaarheid en dus bio-beskikbaarheid van voedingstowwe.
Doeltreffende bewerkingspraktyke van sny tot baal is daarom noodsaaklik om hooi met ‘n hoë blaarinhoud, lae ruveselwaardes en goeie voedingswaarde te produseer. Hierdie artikel bespreek die belangrikste beginsels en verduidelik waarom ADF en NDF so ‘n groot invloed op melkproduksie en totale voedingsprestasie het.
Waarom ADF en NDF belangrik is vir melkproduksie
ADF (Acid Detergent Fibre): ADF meet die onverteerbare veselkomponente, hoofsaaklik lignien en sellulose. Hoe hoër die ADF, hoe laer die energiewaarde (NEL) van die voer. Lusern met ‘n ADF bo ±34% begin ‘n merkbare daling in energie toon. Melkkoeie reageer direk op energie-inname; laer ADF beteken hoër melkopbrengs en beter liggaamskondisie.
NDF (Neutral Detergent Fibre): NDF meet totale strukturele vesel, ‘n sleutelkomponent in die rumen se funksie. Hoër NDF verminder droëmateriaal-inname (DMI). ‘n Te lae NDF kan herkou-aktiwiteit benadeel en suurpens veroorsaak, maar hoë kwaliteit lusern val gewoonlik binne ‘n ideale reeks. Vir melkkoeie is DMI die grootste voorspeller van melkproduksie. Wanneer blaarverliese tydens bewerking plaasvind, verhoog stingelfraksie, wat NDF en ADF laat styg en dus produksie verlaag. Lusern met 28–32% ADF en 36–42% NDF bied tipies ‘n uitstekende balans vir hoë melk produksie.
Bewerkingspraktyke om maksimum blaarinhoud te behou
- Snytyd en fenologiese stadium: Lusern se voedingswaarde daal vinnig namate die plant ouer word weens verhoging in die Acid detergent Lignien (ADL)-waardes. Blaarinhoud neem af en lignifisering neem toe. Die ideale snytyd is vroeg-blom (maksimum 5% blom) vir ‘n balans tussen kwaliteit en opbrengs. Vir uitstaande kwaliteit (bv. vir hoë produksiemelk), kan sny voor of tot knopstadium oorweeg word, maar opbrengs sal laer wees.
- Snyhoogte: Sny 7–10 cm bokant die grond om hergroei te bevorder en vuilinsleep te vermy. ‘n Te lae snyhoogte verhoog asinhoud en verhoog ADF indirek deur stukkende materiaal en gronddeeltjies wat opgetel word en in die lusern beland.
- Snytoerusting: Skerp lemme beperk stomp breekpunte aan stingels, wat vinnige hergroei bevorder en ‘n vatplek vir siektes voorkom. Kondisionering moet matig wees, genoeg om droogtyd te versnel, maar nie blare afskud nie. ‘n Te lae snyhoogte kan die hergroeipunte beskadig.
- Harkpraktyke: Die grootste blaarverliese in lusern vind plaas tydens hark, sweef (omdraai) en opraap deur die baler. Die dunner blare droog vinniger af as die stingels, raak bros en val maklik van die stingel af tydens hanteringsprosesse.
Belangrike beginsels:
- Hark slegs wanneer die lusern 40–60% droë materiaal bereik het.
- Te droë materiaal (65–75% DM) lei tot dramatiese blaarverliese.
- Verlaag die spoed: Die trekker- en harkspoed het die grootste impak op blaarverlies. Stadiger bewerking behou blare.
- Gebruik ‘n wiel- of rotorsnyer op die laagste aggressiewe instelling.
- Hark vroegoggend terwyl daar ligte dou is. Die dou-vogtige blare word minder bros.
Die doel is om ‘n netjiese, lugtige windry te vorm sonder om die materiaal herhaaldelik om te draai.
Droging en hantering in die land: Die uitdaging by lusern is om vinnig genoeg te droog om blaarverliese te beperk, maar stadig genoeg om eweredige uitdroging van blare en stingels te verseker. Vorming van muf weens te nat kolle moet ook voorkom word.
Droogstrategieë: Wye verspreiding net ná sny verhoog sonblootstelling en verkort die droogtyd. Vermy oorverspreiding in warm, droë toestande wat die blare vinnig laat uitdroog en bros maak. In natter toestande kan die tyd langer uitgerek word om droging te bevorder.
Doelwit-droëmateriaal teen baaltyd:
- Kleinbale: 18–20% vog
- Groot vierkantbale: 12–16% vog
- Rondbale: 15–18% vog
Droging tot die regte vogvlak verlaag hitteontwikkeling, skimmelvorming en hooi-verhitting wat ruproteïen kan beskadig en selfs onbranding aanhelp.
Baalpraktyk en die rol van balerdruk:
- Balerdruk en digtheid: Hoë digtheid verbeter logistiek deur swaarder baalvragte, maar te hoë druk op te droë lusern veroorsaak blaarvergruising. Te hoë druk op te nat lusern veroorsaak verhitting en moontlike bederf. ‘n Goeie balans word bereik wanneer lusern in die ideale vogreeks gehaal word sodat die materiaal natuurlik bind.
- Baaltyd: Baal vroegoggend of laatmiddag wanneer dou die blare effens buigbaar maak. Vermy baal tydens warm middagtemperature.
- Balerinstellings: Verstel knoper- en baaldruk-persentasie om aggressie te verminder. Hou plukkerhoogte effens hoër om grondinsleep te voorkom, grond (as) verhoog ADF en verlaag verteerbaarheid.
- Teenwoordigheid van blaarverliese in die baal: Maak gereelde sny-inspeksies in die windry: indien blare agterbly tydens baal, moet die spoed en aggressie onmiddellik aangepas word.
Die impak van droë blaarverliese op voedingswaarde
Blaarverliese is nie net visueel merkbaar nie, dit het ‘n direkte lineêre effek op voedingswaarde.
1. Verhoging in ADF en NDF:
Omdat stingels meer lignien (ADL) en strukturele vesel bevat, verhoog selfs ‘n 10% blaarverlies die ADF en NDF noemenswaardig. Dit beteken:
- Laer energie
- Laer verteerbaarheid
- Stadiger rumen-deurvloeitempo
- Laer droëmateriaal-inname
2. Verlaging in ruproteïen:
Blare dra hoofsaaklik proteïen. Enige verliese:
- Verlaag totale RP
- Verhoog koste van aanvullende proteïen
- Verswak verbyvloei-proteïenwaarde (RUP)
Impak op melkproduksie: Melkkoeie reageer uiters sensitief op energie en DMI-veranderinge. Lusern met 3–4% hoër ADF en 4–6% hoër NDF kan melkopbrengs met 2–3 liter per koei per dag verlaag, afhangend van die rantsoenformulering.
Praktiese aanbevelings vir produsente
- Sny op optimale stadium en hoogte om die hoogste kwaliteit te verseker.
- Gebruik matige kondisionering wat stingels breek, maar blare beskerm. Bewerk (hark, windrol, baal) wanneer blare nie bros is nie, verkieslik in dou.
- Monitor droëmateriaal voortdurend: die grootste probleem in Suid-Afrika is te droë lusern voor baling.
- Pas baaldruk aan volgens voginhoud en vermy aggressiewe baleraksie.
- Minimaliseer hantering: hoe minder die lusern beweeg word, hoe minder blare verloor dit.
Gevolgtrekking
Hoë kwaliteit lusern word nie net in die landery geproduseer nie, maar deur die hele bewerkingsketting beskerm. Produsente wat die praktyke van sny, hark, droog en baling optimaliseer, kan hooi met ‘n hoë blaarinhoud en lae ADF/NDF lewer wat waarde toevoeg vir hul kopers, veral in die intensiewe melkbedryf. Deur blaarverliese tot die minimum te beperk, verbeter nie net die voedingswaarde nie, maar ook die markwaarde en prysstabiliteit van die produk. Hoë kwaliteit begin by goeie bestuur en in lusern maak elke blaar die verskil tussen gemiddelde voer en ware premium hooi.
*Bronne:
- Allen, M.S. 1996. Physical Constraints on Voluntary Intake of Forages by Dairy Cows. Journal of Dairy Science, 79: 1568–1580.
- Collins, M. & Fritz, J.O. 2003. Forage Quality. In: Barnes, R.F. et al. (eds.) Forages, Volume 2. Iowa State Press.
- Dairy One Forage Laboratory. 2023. Forage Nutrient Composition Tables.
- Hall, M.B. 2013. Forage NDF and Animal Performance. University of Florida Extension.
- Undersander, D., Putnam, D., & Robinson, P.H. 2011. Interpreting Forage Quality Reports. University of California Alfalfa & Forage Program.
- Putnam, D.H. et al. 2019. Alfalfa Harvest Management. University of California Agriculture & Natural Resources.
- Rotz, C.A. & Muck, R.E. 1994. Changes in Forage Quality During Harvest and Storage. In: Fahey, G.C. (ed.) Forage Quality, Evaluation, and Utilization. American Society of Agronomy.
- Van Soest, P.J. 1994. Nutritional Ecology of the Ruminant. Cornell University Press.
- Wisconsin Extension. 2020. Alfalfa Harvest and Preservation Guidelines.
- Lourens, D.C. & Meissner, H.H. 1992. Die invloed van ruvoerkwaliteit op melkkoei-prestasie. South African Journal of Animal Science.








