Redakteursbrief
Daar is ʼn nuwe, vars energie wat wortel skiet in ons lande en in ons toekoms: jongmense.
Die landboubedryf word deur baie gesien as ʼn sektor vir ouer mense, of mense wat baie gebonde is aan tradisie. Maar Suid-Afrikaanse landbou sien ʼn stil, kragtige transformasie gebeur. Dit word gelei deur jongmense wat nie net herskryf wat dit beteken om ʼn boer te wees nie, maar wat ook die rol van landbou in ons ekonomie en gemeenskappe herdefinieer.
Dit is ʼn eenvoudige waarheid: die toekoms van landbou rus op die skouers van jongmense. En dit is verblydend om te sien hoe baie van hulle reeds die landbouspasie betree het en verandering bring. Die beste voorbeeld hiervan is waarskynlik die Jongboer van die Jaar-kompetisie, waar jongboere erkenning kry vir ánders dink en doen. Hulle is innoveerders en entrepreneurs, wat in dieselfde asem as “tegnologie” en “volhoubaarheid” genoem word.
Ons het hierdie kompetisie aandagtig gevolg, die finaliste en semi-finaliste se suksesse saam gevier, en ons was saam trots oor die voorkoms van vindingrykheid waarmee dié boere landbou verf. Lees meer in hierdie uitgawe oor die Noord-Kaap se eie finalis, Stephan Becker, en sy vars uitkyk op veldbestuur.
Liefde vir en kennis van landbou word egter veel vroeër gekweek. Kommuniek gee ʼn oorsig oor loopbaangeleenthede in landbou wat nie noodwendig op die plaas is nie. Ons het saam gekuier by Agri Noord-Kaap se jaarlikse kongres en die Loots-gesin wys wat hulle reggekry het deur generasies wat sáám werk om ʼn reuseontwikkeling op die plaas te doen.
Van wingerde in die Wes-Kaap en sitrusboorde in Mpumalanga tot graanverbouing in die Noord-Kaap hoor ons stories van jongboere wat nie net oorleef nie, maar floreer. Hulle wys dat landbou nie ʼn pad vol uitdagings en onsekerheid is nie, maar bou eerder winsgewende besighede, skep werksgeleenthede en voed gemeenskappe.
Dit is hierdie entoesiasme en innovering wat deur landboubesighede gevoed moet word – langdurende verandering sal afhang van die ondersteuningstrukture wat rondom jong produsente gebou word. Doelgerigte aksie deur die sektor – privaat en publiek – bly nodig om landbou ʼn aantreklike, lewensvatbare loopbaanroete vir jongmense te maak.
As jongmense landbou nie sien as ʼn ‘laaste uitweg’ nie, maar eerder as ʼn ‘eerste keuse’, sal die res van Suid-Afrika voordeel daaruit trek.
Die saadjie van verandering is reeds geplant. Dit is nou die tyd om dit te versorg.








