Vertroue, vooruitgang bou aan ‘n toekoms in Barkly-Wes
Langs die bekende silo van Barkly-Wes staan daar nou iets vars, modern, met rakke vol nuwe voorraad – die opgegradeerde GWK-handelswinkel, ‘n simbool van vernuwing, samewerking en groei in die streek. Hierdie heropening is nie bloot die voltooiing van ‘n bouprojek nie, maar ‘n dinamiese bevestiging van die begin van ‘n opwindende nuwe era wat vir GWK Handel aanbreek.
Venster op vernuwing
Vir Christoff Smit, Uitvoerende Hoof van Handel in die GWK-streek, is hierdie projek deel van ‘n groter strategie.
“Ons doel is om ons handelstakke te belyn met dié van ander streke in die VKB Groep. Ons wil die oplossing wees vir mense in die platteland – ‘n plek waar jy alles kan kry, van landboubenodigdhede tot huishoudelike produkte.”
Smit beklemtoon dat kliënte én werknemers ‘n groot rol speel in hierdie proses. “Deur ons kliënte se ondersteuning en terugvoer kan ons aanhou verbeter. En vir ons werknemers is dit belangrik om te weet dat verandering moontlik is. Hierdie projekte wys dat ons saam groei, saam leer en saam beter raak.”

Die personeel van die handelstak op Barkly-Wes is entoesiasties oor wat voorlê. Van links is Bokamoso Makaties, Gert Nieuwoudt, Channell van Wyk, Maralize Solomon, Samuel Thekiso, Yolanda Bothma, Nielo Germishuyzen, Sasha-Lee van Wyk, Trisha Stephens, Llu-Shan Louw en Kopano Thomas. (Foto: Christoff Els)
Van planne op papier…
Vir Louis Ferreira, Streeksbestuurder van Eiendomme in die GWK-streek, is die projek veel meer as net ‘n opgradering. “Wat vir my besonders is van die Barkly-Wes-projek, is hoe mooi dit langs die ou silo staan en as beeld dien van vernuwing. Dit maak ons baie opgewonde oor wat voorlê.”

Die ingang na die nuwe winkel in Barkly-Wes. (Foto: Christoff Els)
Teen April 2025 is die terrein aan die kontrakteur oorhandig en binne slegs ‘n paar maande het Barkly-Wes ‘n winkel gekry wat nie net funksioneel is nie, maar ook ‘n baken van groei geword het. Die winkel is volgens skedule voltooi en die opening op 31 Oktober 2025 is met groot trots gevier.
Ferreira vertel dat die gebou sy eie uitdagings ingehou het. “Die winkel was oorspronklik ‘n ou kaasfabriek, so ons het baie interessante verrassings gekry tydens die uitbreek van vloere en strukture.
“Die grootste uitdaging was wel die hoogteverskil tussen die parkeerarea en die ingang. Om dit toeganklik te maak, het ons ‘n kenmerkende trap- en loopbaanontwerp geskep. Dit gee uiteindelik die tak ‘n unieke karakter.”

Seun Pampoen laai voorraad op ‘n kliënt se bakkie. Matthew Moilwa help dit aanry met die vurkhyser. (Foto: Christoff Els)
…tot die handelstak se mense
“Ons wou ‘n eenstopwinkel skep vir ons kliënte sodat hulle nie na Kimberley hoef te ry nie. Die winkel is vandag baie goed ontvang – almal is positief oor die nuwe uitleg, die groter verskeidenheid en voorraad,” sê Nielo Germishuyzen, die takbestuurder wat al agt jaar deel van die Barkly-Wes-span is.

Nielo Germishuyzen en sy span het in 2024 drie toekennings verwerf – as die beste handelstakbestuurder in die streek; as die derde beste handelstak wat betref groei; en laastens die derde beste groot tak van die jaar. (Foto: Christoff Els)
Germishuyzen vertel dat hul span tydens die opgradering hul winkeldeure oopgehou het, regdeur die bouery. “Ons het uit die stoor besigheid gedoen – alles was vol stof en deurmekaar, maar ons het deurgedruk. Ek is ongelooflik trots op my span vir hul harde werk en op ons kliënte wat ons steeds ondersteun het. Hierdie winkel is vir húlle.”

Die opgegradeerde GWK-handelswinkel bied selfs meer as ‘n vennoot én vriend in die gemeenskap. (Foto: Christoff Els)
Span met nuwe energie
Vir Channel van Wyk, ontvangsteklerk by die winkel, beteken die nuwe gebou nuwe uitdagings. “Dis baie opwindend met nuwe uitdagings wat voorlê. Die veranderinge maak my werk makliker – daar is meer kantoorspasie en beter vloei. Ons as span het baie goed saamgewerk tydens die opgraderings.”
Haar gunstelingdeel van die nuwe winkel? “Die ingang is pragtig, en die rakke en uitleg gee vir kliënte ‘n baie beter koopervaring.”

Die handelstak dien as ‘n voorbeeld van wat GWK Handel regoor die streek nastreef. (Foto: Christoff Els)
Vennoot én vriend in Barkly-Wes
Die opgegradeerde GWK-handelswinkel is ‘n vennoot én vriend in die gemeenskap. Produsente koop hul veevoer en rantsoene hier, skole kom vir noodsaaklikhede, en gesinne vind alles wat hulle nodig het onder dieselfde dak. En ander kom loer tot drie keer ‘n dag in vir ‘n lekker geselsie “in Barkly se nuwe mall”.
Met sy toeganklike ontwerp, moderne uitleg en toegewyde personeel, dien die handelstak as ‘n voorbeeld van wat GWK Handel regoor die streek nastreef: volhoubare groei, uitstekende diens, en ‘n gevoel van trots vir elke gemeenskap waarin die groep bedrywig is.
Soos Louis Ferreira dit mooi opsom: Hierdie projek wys dat vernuwing nie beteken om van die verlede weg te beweeg nie – dis om daarop voort te bou. “Die silo herinner ons aan waar ons begin het, en die nuwe handelstak wys waarheen ons op pad is.”








