Vertroue, verhoudings dryf sukses in graanverkryging
Jaco Voges is nie iemand wat wegskram van uitdagings nie – nee, dis juis waar hy floreer. Sy loopbaan in die landboubedryf getuig van ʼn merkwaardige patroon: elke nuwe pos of uitdaging is vir hom ʼn kans om te groei, en elke terugkeer ʼn geleentheid om met meer waarde en vars insigte terug te gee.
Voges is van nature ʼn introvert. “Ek is wel ʼn mense-mens, maar ek is eintlik ʼn introvert – dit sal meeste mense wat my ken, verras,” sê hy. “Ek moes leer om met mense te werk. Dit was nie altyd maklik nie, maar ek het geleer om ʼn bietjie meer uit te reik, ʼn bietjie meer met mense te gesels en verhoudings te bou.”
Geleentheid om te groei
Voges het die uitdaging om ʼn introvert in ʼn mens-georiënteerde bedryf te wees nie as ʼn hindernis gesien nie, maar as ʼn geleentheid om te groei. Hy erken dat die landboubedryf, en veral graanverkryging, ʼn bedryf is wat nie net gebaseer is op transaksies nie, maar op langtermynverhoudings en vertroue.
Jy kan nie ʼn graanverkryger wees as jy nie mensekennis het nie. Jy moet weet hoe om met mense te werk, want jy werk nie nét met graan nie. En vertroue is die grondslag, die kern van sukses.
Hoe sy pad in landbou begin
Ná matriek gaan werk Jaco Voges vir ʼn boer in die Douglas-omgewing. Twee jaar later sluit hy by GWK aan as waterskeduleringsbeampte en raak later betrokke by die graangradeerkamer – sy eerste kennismaking met silo’s.
Hy werk volgende byna vier jaar as graangradeerder op Barkly-Wes, waar sy passie vir landbou en die boeregemeenskap begin groei. Hy sluit daarna aan by Kaap Agri in Vredenburg as silobestuurder, waar hy homself bemarkingsvaardighede aanleer en die silo se markaandeel aansienlik help vergroot.
In 2007 keer hy en sy vrou Elmain terug na Douglas. Kort daarna word hy deur GWK aangestel as depotbestuurder, tot 2015, toe hy begin studeer aan Kovsies. In 2016 skuif hy oor na die graanverkrygingseenheid, waar hy tot 2022 werksaam is.
Volgende werk hy by ADAMA, ʼn maatskappy wat chemiese middels verkoop om onkruid, insekte en siektes te bestry. “Dit was nou weer ʼn ander deel van die landbou. Die chemiese middels is verkoop aan agente, dan gaan jy saam met die agent na die produsent toe. Ek het daar baie geleer van plantstadiums. Dit was lekker om weer ʼn ander deel van die landbou te ervaar.
“Die skuif het my uit my gemaksone gehaal van hoe ons dinge in die korporatiewe wêreld doen, en hoe internasionale maatskappye soos ADAMA dit doen. Dit het my gedwing om te dink oor hoe ek self besigheid doen. Ek was net meer as twee jaar daar.”
Goeie dinge gebeur in drieë
Intussen gooi die VKB en GWK Groepe toe saam die breër landbouwêreld se deure opnuut vir hom oop…
In Januarie 2024 sluit hy weer by die VKB Groep aan as die streeksbestuurder van graanverkryging in Douglas – sy derde termyn vir die maatskappy. “In retrospek was ek gelukkig om daardie onderbreking van die graanbedryf te hê, want dit het my nuwe perspektiewe gegee. Maar ek was nuuskierig om terug te keer en te groei binne die nuwe maatskappy.”
Sy jongste loopbaanskuif vul hom met nuwe opwinding.
Verhoudings bo pryse
Vir Voges is verhoudingsbou die hart van sukses in die graanbedryf en nie blote netwerke nie – dit is vertrouensbande wat opgebou word oor tyd. “Vertroue het ʼn prys,” sê hy. “As jou kompetisie R10 meer betaal, maar jy het die verhouding, dan weeg dit swaarder want die produsent weet jy gaan jou beloftes nakom.”
Hy dink nie net aan die transaksie van vandag nie, maar aan die verhouding oor vyf jaar. Hierdie benadering inspireer mense op alle vlakke om saam met hom te werk en hom te vertrou.
Sy filosofie oor die lewe en besigheid is eenvoudig, maar diep: “Ek glo in myself en in wie ek is. Ek is nie bang om my man te staan nie. Al gaan dinge soms moeilik, weet ek daar is ʼn rede en ʼn bedoeling met alles wat gebeur. Die Here gaan jou help om daar te wees waar jy moet wees, al neem dit langer as wat jy wil hê dit moet neem.”
Ondanks uitdagings soos klimaatsverandering, markdinamika en nuwe tegnologieë, vertrou Voges dat alles vir die regte redes gebeur. Hierdie vertroue in homself en die pad wat hy gekies het, het hom gebring tot waar hy vandag is: ʼn suksesvolle, staatmaker-graanverkryger en streekbestuurder.
Buiten sy professionele prestasies is hy ʼn gesinsman en ʼn passievolle natuur- en sportliefhebber. “As ek tuis kom, ontspan ek saam met my gesin. Ek en Elmain het drie seuns – 17, 14 en 7. Daar is ʼn redelike groot verskil tussen hulle. Die kleinding is nou in graad 1, so ons begin weer van voor af met huiswerk en skooltoere.”
Voges is ʼn aktiewe rugbyafrigter in sy gemeenskap en baie betrokke by sy kinders se skool- en sportaktiwiteite. “Ek het van graad R tot by o.15 rugby afgerig en ook bietjie met krieket gehelp. Naweke ry jy maar agter die kinders aan, ek wil in elk geval kyk hoe ons kinders vaar.
“My oudste seun, Jacques, het nou ʼn rugbybeurs by Diamantveld gekry. Ons is maar ʼn sportmal familie. Ek het self ook sport gedoen en nog tot op 28 rugby gespeel, totdat ek met ʼn motorfiets geval en my rug beseer het.”

Hy en sy gesin geniet die platteland en al die ontspanningsaktiwiteite wat dit bied, van jag tot visvang. “Ons is bitter lief vir die rivier – vir visvang en bootry en sommer net op ʼn warm somersmiddag ná werk langs die rivier te ontspan.
“Baie van my vriende het my al gevra of ek nie stad toe wil trek nie, maar ek sê ‘nee, alles wat ek hier verniet geniet, moet mense in die stad voor betaal’.
“In die winter is ek mal oor jag. Dis lekker want alles is naby en jy is tussen vriende. Die platteland het net ʼn ander gevoel. Jy’s deel van ʼn gemeenskap.”
Jaco en Elmain is verder betrokke by die Round Table-organisasie omdat dit hulle die kans gee om op ʼn praktiese manier by te dra en om te gee vir hul gemeenskap.
Toekoms en raad vir nuwe generasie
Sy raad aan jong mense wat in die graanbedryf wil begin, is duidelik: “Jy moet mensekennis hê, jy moet weet hoe om met mense te werk. Dit is nie net oor getalle en syfers nie. As jy nie kan inskakel in die boeregemeenskap nie, gaan jy nie ver kom nie.
Jy moet die vermoë hê om mense te verstaan, verhoudings te bou, en betroubare geselskap te wees. Jy kan nie vertroue koop nie, jy moet dit verdien en handhaaf.
Die pad wat Voges gestap het, is een van selfontwikkeling, leer en volharding, wat hom in staat gestel het om elke keer sterker en meer vaardig terug te keer, telkens met ʼn dieper begrip van mense, besigheid en sy omgewing. Deur die jare het hy nie net sy vaardighede as graanverkryger geslyp nie, maar ook sy vermoë om vertroue te bou en verhoudings te handhaaf in die landbousektor.
Jan F.E. Celliers, die Afrikaanse digter en denker, het dit treffend opgesom: “Vertroue is die goud van die siel.” In ʼn wêreld waar waarde dikwels aan materiële dinge gekoppel word, staan vertroue uit as ʼn edele kommoditeit – iets wat nie altyd maklik geweeg kan word nie, maar van onskatbare waarde is vir dié wat werklik besef hoe afhanklik ons van mekaar se integriteit is.







