Verkryger en verbinder: Van die land tot in die mark

Wanneer ʼn mens verantwoordelik daarvoor is om ʼn produk by produsente te verkry om in die mark te plaas, is dit nodig dat jy daardie produk binne en buite, bo en onder, verstaan. Jaco Marais is ʼn GWK-lusernverkryger vir wie jy nie veel van lusern kan leer nie.
Hy is deel van die lusernverkrygingspan sedert November 2018, toe hy aangestel is vir verkryging in die Douglas- en Benede-Oranje-areas, wat Prieska, Groblershoop, Upington, Keimoes, Kakamas en Augrabies insluit. Marais het hierdie area behartig tot Oktober 2024, waarna hy die pos as Spesialisbestuurder: Uitvoere en Logistiek in GWK Lusern en Veevoere opgeneem het en nou die Douglas- en Prieska-areas, en ʼn gedeelte van Hopetown, dien.
“As ʼn lusernverkryger is jou hoofdoel om ʼn verhouding te bou met lusernprodusente,” sê Marais. “Ons onderhandel dan met hierdie produsente op die graad van die produk en wat die huidige markprys daarvoor is, en bemark dan die produk na die kanale.”
Die kanale waarna Marais verwys, is plaaslik sowel as internasionaal. “Ons groot markte is die Kaap en Suid-Kaap, terwyl die Hopetown-area weer byvoorbeeld lewer aan Oos-Kaapse melkerye. Gewoonlik weet ons by wie ons die produk gaan kry en waarheen ons dit gaan bemark.”
Lusern word na die buiteland uitgevoer, met die grootste markte in Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate, met ʼn kleiner hoeveelheid wat van tyd tot tyd na China toe uitgevoer word.
“Die Midde-Ooste is waar die meeste waarde vir GWK se lusernbesigheid lê,” sê Marais. “Suid-Afrika is – volgens ons kennis – in die laagste 3% lusernproduseerders in die wêreld in terme van volumes wat verbou word, maar onder die top 3% van die beste kwaliteit lusern in die wêreld. Die gehalte is die rede waarom die Midde-Ooste lusern uit Suid-Afrika invoer.”
Hoewel daar meer winsgewende gewasse is vir produsente om te plant, is lusern ʼn gewas wat kontantvloei ondersteun, volgens Marais. “Tussen elke 21 en 28 dae is daar ʼn snit om te verkoop, wat rekeninge en lone kan betaal. Ook, in die hele geskiedenis van voer en ruvoer was daar nog nooit ʼn gewas of kultivar waarvan die ruvoer die hoeveelheid proteïene bevat wat lusern inhou nie. Daarom sal produsente amper altyd lusern plant.”
Die prys van lusern wissel egter en verkrygers moet daarby aanpas. Die vraag en aanbod is nooit dieselfde nie. “In ʼn ideale wêreld sou ons net met seisoenskontrakte kon werk, waar ʼn melkery byvoorbeeld vooruit sal beplan op grond van die behoeftes wat hulle voorsien, hetsy dit prima-graad of hoë-gehalte graad 1 is. Die wisselende prys, soos deur vraag en aanbod bepaal, lei egter daartoe dat die sluit van seisoenskontrakte nie altyd moontlik is nie. In ons wêreld is geen jaar dieselfde as die vorige een nie.”
Die ekonomie, politieke onrus en die wisselkoers het alles ʼn invloed op die lusernprys, maar die grootste faktor wat ʼn impak het op hierdie verskille, is klimaat, sê Marais. “Niemand het beheer oor of dit ʼn nat of droë jaar, of dit langer warm of koud en of die omstandighede stormagtig of ideaal gaan wees nie. Hierdie faktore beïnvloed die kwaliteit – of graad – van lusern, wat natuurlik die prys bepaal.”
Hy sê ʼn ander bepalende faktor wat amper gelyk staan aan klimaat, is die bestuur van lusernproduksie. “Klimaat is nie binne ons beheer nie, maar ons kan beheer hoe dit bestuur word. Wanneer lusern gesny word, die regte hoeveelheid water – dit dra alles by tot die gehalte, en dus die voedingswaarde van die produk.”
Oor plant- en strooptyd, gradering, kultivars, in- en uitvoere en selfs die fisiologie van die lusernplant praat Marais passievol. Kennis hieroor is nodig om die verhoudings waaroor vroeër gepraat is, te bou en beskerm, omdat “daar nie ʼn one size fits all resep is vir alle lusernprodusente nie. Wat ons in Douglas doen, verskil hemelsbreed van die omstandighede in Limpopo. Daarom kan ons slegs riglyne verskaf op grond van die kennis wat ons het.”
Op enige gegewe oomblik is Marais gereed om lusernprodusente en -kopers te verbind en te ondersteun. Oor sy kennis van die gewas kan nog baie paragrawe geskryf word. Hy is egter beskikbaar om sy passie en ondervinding te deel met enigiemand wat wil luister, en dit is iets wat die Kommuniek-span kan aanbeveel.