Saadbehandelings vergelykings op koring (2024)
Met die oes van die koringkultivarproef naby Cookhouse in die Oos-Kaap gedurende 2023 is opgemerk dat die kontrolekultivar konstant beter presteer het as die proef-inskrywings oor die breedte van die proef. As ʼn vergelyking het dieselfde kultivar as ʼn proefinskrywing meer as 200 kg minder geweeg as die kontrolebane waarvan die saad laat behandel is en verskaf is deur die produsent. Die veldgewigte word geïllustreer in tabel 1.

Tabel 1: Veldgewigte van die kontrolebane vergelyk met die proef-inskrywings
Uit Tabel 1 kan die verskil in gewig tussen die kontrole bane teenoor die proef-inskrywings duidelik gesien word. Dit is ook veral opvallend dat die tendens regoor die breedte van die proef voorgekom het en nie net ʼn gedeelte van die proef nie. Die veldgewig van kultivar 11, wat dieselfde genetika as die kontrolekultivar was, se veldgewig was ook betekenisvol laer as die kontroles.
Die vraag is gevra of die saadbehandelings ook ʼn positiewe impak op opbrengs sal hê in die besproeiingsgebiede van die Vaal- en Oranje-riviere. Die doel van hierdie studie was nie om ʼn sekere maatskappy se produkte te toets nie, maar om die produkte wat reeds naby Cookhouse in die Oos-Kaap ʼn verskil gemaak het, verder te toets. Die swakker koringoeste vir 2022 en 2023 het as verdere motivering gedien.
Materiaal en metodes
Vir praktiese doeleindes is slegs een kultivar (SST8205) gebruik en ekstra saadbehandelings is bygevoeg. Sakke met die standaard saadbehandelings van die saadmaatskappy is as kontrole gemerk wat as vergelyking gedien het.
Standaard saadbehandelings: Kontroles
Die standaard saadbehandelings wat as die kontrole gedien het, soos verskaf deur die saadmaatskappy, was:
- Dividend Extreme: sistemiese swamdoder konsentraat
- Disco Red: stimuleer die ontwikkeling van fyn wortelhare
- K-Obiol: beskerm opgebergde saad teen insekte
Die produkte wat bykomend tot die standaard saadbehandelings gebruik is, was as volg:
Produk 1
- Handelsnaam: Carbo Man
- Lisensiehouer: Metson
- Beskrywing: Carbo Man is ʼn koolhidraat cheleerde mangaan met gepatenteerde tegnologie. Dit word aanbeveel as ʼn blaarbespuiting maar is bekend dat produsente dit ook as ʼn nat saadbehandeling gebruik in areas waar mangaan vlakke laag in die grond is.
- Aanwending: 1.5ml/kg saad
Produk 2
- Handelsnaam: Premium Germination Bucket. (Vir produsente se gemak word SupaSede en Seed Dressing in een houer verpak, wat benoem word as Premium Germination Bucket.)
- Lisensiehouer: Metson
- Beskrywing van Seed Dressing: Seed Dressing bestaan uit die volgende elemente met talk en grafiet as draer: kalsium (Ca), swael (S), magnesium (Mg), yster (Fe), sink (Zn), mangaan (Mn), koper (Cu), kobalt (Co) en molibdeen (Mo).
- Aanwending: 125g per 100kg saad as ʼn droë saadbehandeling voor plant
- Beskrywing van SupaSede: SupaSede bestaan uit diazotrofiese en outotrofiese organismes. Hierdie organismes bind atmosferiese stikstof (N2) uit die atmosfeer. Outotrofiese bakterieë sintetiseer hul eie voedsel. Dit gebruik anorganiese verbindings (soos byvoorbeeld koolhidrate en proteïen). Hul bron van energie is lig en of chemiese reaksie. Die diazotrofiese en outotrofiese organismes is:
- Azotobacter chroococcum: bakterieë verantwoordelik vir omskakeling van atmosferiese stikstof na ammoniak
- Pseudomonas fluorescens: bakterieë verantwoordelik om gewasse te help beskerm teen patogene wat deur grond en saad gedra word
- Bacillus spp: kombinasie van verskillende spesies bakterieë in die Bacillus-groep. Bacillus is ʼn endofiet (leef binne-in die gewas) en sy primêre funksie sluit die produsering van metaboliete, antibiotika en ensieme in.
- El-I gepatenteerde tegnologie spp: dit is tegnologie wat gepatenteer (gelisensieer) is en beteken niemand anders in die wêreld mag dieselfde vervaardig nie. EL-I staan vir early-life initiation.
- Trichoderma spp: kombinasie van verskillende spesies swamme in die Trichoderma-groep. Primêre funksies sluit die noemenswaardige onderdrukking en beheer van plantpatogeniese mikro-organismes en die regulering van plantgroei in. Meer bekend aan produsente is swamsiektes soos wortelvrot.
- Stikstof- en fostaatvoordeel vir die plant met SupaSede: Fikseer stikstof (N) en solubiliseer vasgelegde fosfaat (P) en Kalium (K) in grond en maak die elemente meer plant beskikbaar. Stikstof-fiksering word omskryf as die omskakeling van stikstof-gas (N2) vanuit die atmosfeer na ʼn vorm wat die plant kan gebruik. Solubilisering van fosfaat geskied deur bakterieë (ook bekend as PGPR’s) wat nie-plantbeskikbare fosfaat afbreek tot op die vlak wat dit wel deur die plant opgeneem en effektief gebruik kan word.
- Aanwending: 120g per 100kg saad as ʼn droë saadbehandeling voor plant. Die meer korrekte toediening is 30g/25kg saad (Metson-groep).
Produk 3
- Handelsnaam: Celest Top
- Lisensiehouer: Syngenta
- Beskrywing: ʼn Vloeibare konsentraat swam- en insekdoder met kontak en sistemiese eienskappe. Die spesifieke produk is gebruik om ook koringluise en fusarium te teiken.
- Aanwending: 240ml/100kg saad
Carbo Man, Seed Dressing en Celest Top is tesame met die standaard saadbehandelings van die saadmaatskappy op die saad toegedien voor plant. Vir die rede dat dit lewendige organismes is, is Supa/Sede tydens plant in die saad ingemeng teen 60g/25kg saad. Hierdie dosis moet volgens Metson verander na 30g/25kg soos ook na verwys onder aanwending.
Opsommend het die toets as volg gelyk
- Onbehandel (kontrole) – soos maatskappyverpakking
- Carbo Man + Seed Dressing + Celest Top
- Behandeling b + SupaSede by die saad ingemeng tydens plant
Volgens Metson kan die bykomende droë behandeling van SupaSede tydens plant opbrengs op belegging (ROI – return on investment) negatief beïnvloed weens die feit dat ʼn saad slegs ʼn sekere oppervlak het waarop al die poeiers moet kleef. SupaSede is wel as ʼn wortelstimulant beskikbaar en word dan aangewend as ʼn nat saadbehandeling alvorens die droë behandeling gedoen word.
Die saadbehandelings is langs die kultivarproewe by die volgende lokaliteite in tabel 2 geplant.

Tabel 2: Lokaliteite
Resultate en bespreking
Waarnemings gedurende die seisoen

Figuur 1: Kontroleplant (links) vs. behandelde plant (regs) vir die Jacobsdal-lokaliteit
Gedurende die groeiseisoen is plante van die kontroles sowel as die behandelde bane getrek en vergelyk. Die wortelontwikkeling en spruitvorming was beter by die plante waarvan die saad behandel is, soos gesien kan word in figuur 1. Die opbrengsresultate is egter nie so beduidend verskillend vir Jacobsdal wanneer dit vergelyk word met Cookhouse nie – sien figuur 2.
Opbrengs
Die opbrengs per hektaar vir die verskillende lokaliteite word grafies in figuur 2 voorgestel.

Figuur 2: Opbrengs per hektaar vir saadbehandelings wat getoets is
Die 2024-seisoen is oor die algemeen gekenmerk as ʼn beter koringjaar vergeleke met die vorige twee jaar. Uit figuur 2 is dit interessant dat dit slegs weer in die Oos-Kaap was waar die ekstra saadbehandelings ʼn groot verskil in opbrengs gemaak het. Die marge in vergelyking met die kontroles word verder in tabel 5 aangedui.
Gradering
Bykomende inligting omtrent proteïen, hektoliter en graad word in tabel 3 aangedui.

Tabel 3: Proteïen- en hektoliter-waardes
Uit tabel 3 is dit duidelik dat daar geen graderingsverskille was met die saadbehandelingstoets per lokaliteit nie. Selfs vir die Cookhouse-lokaliteit, waar ʼn positiewe verskil in opbrengs aangeteken is, het al die behandelings BS-grade behaal.
Koste-uiteensetting
Tabel 4 gee die koste uiteensetting van die produkte wat gebruik is.

Tabel 4: Koste-uiteensetting per hektaar van die saadbehandelings wat getoets is
Margevergelyking
Die margevergelyking teenoor die onbehandelde kontrole word in tabel 5 aangedui per lokaliteit. Vir ʼn maklike vergelyking word teen ʼn koringprys van R5 735 vir alle lokaliteite gewerk. Gradering word nie in ag geneem nie omdat daar nie graadverskille tussen die behandelings was nie.

Tabel 5: Marge vs. kontrole per lokaliteit
Uit tabel 5 kan die groot positiewe verskil in randwaarde per hektaar vir die Cookhouse-lokaliteit in die Oos-Kaap duidelik gesien word. Kleiner positiewe verskille is by Jacobsdal en Magogong aangeteken. Vir Douglas en Barkly-Wes kon die wins per hektaar nie verhoog word.
Gevolgtrekking
Vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar (2023 en 2024) is ʼn betekenisvolle verskil met die ekstra saadbehandelings naby Cookhouse in die Oos-Kaap aangeteken. Die beter koringjaar vir 2024 in die Noord-Kaap kon dalk ʼn invloed daarop hê dat dieselfde tendens nie waargeneem is nie, hoewel kleiner verskille by Jacobsdal en Magogong aangeteken is.
Om die omgewingsfaktore wat ʼn effek op die resultate gehad het beter te verstaan, kan die volgende gedagtes gedeel word: Elke gewas het ʼn genetiese potensiaal of maksimale opbrengs. Biotiese komponente of lewende organismes en abiotiese komponente of nie-lewende organismes het alles ʼn positiewe of negatiewe effek op genetiese potensiaal. Dan is daar ook faktore soos vog, hael, ryp, son, droogte, ensovoorts wat alles ʼn negatiewe invloed op ʼn gewas se genetiese potensiaal kan hê.
Die voordeel om die gewas voorkomend te behandel, is dat hy basies “aangeskakel” word om selfbeskermend te wees wanneer omstandighede verswak. Die plant weet die beste waar en wanneer om wát te benut. Gevolglik is stremming op die plant minder, so minder energie word deur homself benodig om sy funksies te kan uitoefen en die energie kan dan eerder gebruik word om nader aan sy genetiese potensiaal te produseer.
Dit is so dat onder ideale omstandighede (waar grondvog en voedingstowwe optimaal is en siektedruk laag is) die gewas uiteraard minder stremming ervaar. Gevolglik kan ʼn plant se energie dus beter aangewend word om in produksie gebruik te word. Vir hierdie rede word dan normaalweg nie drastiese verskille met toedienings op die saad gesien onder optimale omstandighede nie. Daar moet egter nie vergeet word wat die waarde van hierdie tipe bakterieë en swamme vir die produsent bied in terme van grondbiologie nie. Wanneer dit vergelyk word met insetkostes van chemiese kunsmis en swam-/insekdoders met regeneratiewe landbou in jou agterkop, is dit iets wat elke landbouer verder te behoort ondersoek.
Aanbevelings
Met ʼn volgende rondte moet nouer saamgewerk word met die Metson-areabestuurder. Produkte wat op die saad toegedien word, kan fyner geselekteer word om onnodige kostes te vermy en “vatplek” op die saad te verbeter. Die proef moet herhaal word om ook die minder goeie koringjare in te sluit. ʼn Verdere idee is om die produkte ook individueel te toets.
Dankbetuigings
Die produsente by wie hierdie proewe gedoen is.
Navrae: Pierre Ferreira (082 904 4769)
*Hooffoto: <a href=”https://www.vecteezy.com/free-photos/wheat-seeds”>Wheat Seeds Stock photos by Vecteezy</a>





