Veiligheid is ʼn spanpoging, nie ʼn eenmansaak
Die behoud van ons landelike gemeenskappe is in die hande van elke Suid-Afrikaner en die volhoubaarheid daarvan is ʼn spanpoging waarvan die waarde daarvan nie onderskat moet word nie. Die krag hiervan lê in mense. Mense wat hande vat, oplossings vind en nuwe stories begin skryf.
Een so ʼn voorbeeld is die jaarlikse Landelike Veiligheid-gholfdae wat die VKB Groep aanbied deur samewerking met sy verskaffers en vennote. Hierdie gholfdae word reeds die afgelope nege jaar met groot sukses deur die groep aangebied. Gholfdae vind plaas in die VKB-streek (Vrystaat en omliggend) en die NTK-streek (Limpopo en omliggend), met dié inisiatief wat hierdie jaar uitgebrei is om ook ʼn gholfdag in die GWK-streek (Noord-Kaap en omliggend) in te sluit. Dié gholfdae het in 2025 onderskeidelik op 22 Mei by Kimberley Gholfklub, 22 Mei by Koro Creek in Modimolle en op 12 Junie by Clarens Gholfklub plaasgevind.



Oomblikke vasgevang tydens die onderskeie gholfdae
Die fondse wat hier ingesamel word, is ten bate van die bevordering van veiligheid in die platteland, met R1 miljoen wat in 2024 bewillig is aan georganiseerde landboustrukture om hul projekte vir landelike veiligheid te ondersteun. Meer inligting oor 2025 se insameling sal eersdaags bevestig word. Die toedeling en verspreiding van die fonds word deur die VKB Groep se direkteure in die verskillende streke gekoördineer.
Deur die veiligheidsaksies wat deur georganiseerde landbou-organisasies gedryf word, spoel die voordele daarvan organies oor na die omliggende gemeenskappe – iets wat vir die VKB Groep en sy mense van groot belang is.
Juané Tarr, die VKB Groep se Hoof van Kommersiële Bemarkingsdienste, sê in ʼn vorige onderhoud dat hierdie projek ʼn positiewe ontwikkelingsimpak het en die fokusse en prioriteite van die VKB Groep en sy handelsmerke ondersteun.
“Hierdie projek ondersteun wat in die belang is van ons aandeelhouers, kliënte, personeel en die breër gemeenskap,” sê Tarr. “Dit dra by tot positiewe verandering en dit bied die geleentheid om hande te vat met instansies en die gemeenskap vir wie veiligheid op die platteland net so belangrik is.”
Vra enigeen wat aan hierdie gholfdae deelneem wat hulle gevoel is oor die belangrikheid van landelike veiligheid en die antwoorde wentel almal rondom dieselfde middelpunt – om ʼn verskil te maak wat bydra tot veiligheid en indirek tot voedselsekerheid ook.
Hendrik Reinhardt, Nasionale Verkoopsbestuuder by Total Energies sê dit is vir hulle belangrik om ʼn bydrae te maak tot die bevordering van veiligheid.
Total het verlede jaar sy 70ste bestaansjaar gevier. “As jy terugkyk in geskiedenis is Total Energies in Suid-Afrika sterk gevestig op die landbousektor – dit is iets wat na aan ons hart lê, want landbou is een van die kernboublokke van ons land – sonder voedsel kan die mens nie voortbestaan nie,” sê hy.

Hendrik Reinhardt van Total Energies by die Clarens-gholfdag
Bruce Glenday van Dromex se boodskap sluit hierby aan as ʼn trotse Suid-Afrikaanse maatskappy wat daarop gefokus is om plaaslike gemeenskappe se hande sterker te maak hetsy deur werkskepping of betrokkenheid by geleenthede soos dié wat gemeenskappe ondersteun.

Bruce Glenday van Dromex vertel meer oor hul betrokkenheid
“Ons glo dat plaas- en voedselsekuriteit in die land kernbelangrik is vir almal en waar ons ons deel kan doen, is ons baie bly om daarvan deel te kan wees,” sê Glenday.
Op sy beurt sê Henri-Ben Rheeder van Standard Bank dat dit belangrik is om terug te gee en lê ook klem op die skakel tussen landelike veiligheid en voedselsekerheid.
“ʼn Mens besef dit nie, maar dit wat ons vanoggend geniet het – die melk in jou koffie, die brood wat jy eet, alles wat ons vir middag- en aandete geniet – dit kom van die boere af, sê Rheeder. “Ons wil terug gee vir hulle en dankie sê, dit is een rede hoekom dit vir ons belangrik is om hierby betrokke te wees.”

Henri-Ben Rheeder oor die belangrikheid van plattelandse veiligheid
Tarr sê dat dit wonderlik is om die positiewe impak van goeie samewerking te ervaar by hierdie geleenthede. “Ons is dankbaar vir die ondersteuning van ons verskaffers wat deel hiervan vorm – elke bydrae maak ʼn verskil tot die groter doelwit,” sê sy.
Die VKB Groep bedank vanjaar die reeks se hoofborge, Standard Bank, Dromex en Total Energies, en al die ander verskaffers wat saamgestaan het om ʼn werklike verskil in plattelandse gemeenskappe te maak.
Vir die foto-albums van die gholfdae, besoek VKB en GWK se sosiale media-blaaie.








