Redakteursbrief
ʼn Mens kan nie regtig besluit of die herinstelling van die 30% invoertarief deur president Donald Trump werklik onverwags was nie. Oor ‘onregverdig’ kan ons verder debatteer.
Maar hierdie besluit, wat soos ʼn donderstorm oor ons uitvoermark uitgesak het, tref ʼn sektor wat reeds op baie fronte die elemente moet weerstaan – beurtkrag, droogte, stygende insetkoste en ʼn wêreldekonomie in herstrukturering.
As daar een ding is wat die Suid-Afrikaanse landboubedryf nog altyd gewys het, is dit volharding. Die soort wat plant in geloof, ploeg met durf, en oes met trots – selfs wanneer die ‘weer’ teenspoedig is.
Dit is rugbyseisoen, en elke naweek word ons herinner aan Suid-Afrikaners se karakter. Niks som dit beter op as die lied wat elke landsburger hoendervleis gee nie. ʼn Gedeelte, in Afrikaans vertaal lui só:
Here, seën Afrika
Verban oorloë en twis
Here, seën ons nasie
Die nasie van Suid-Afrika.
Hierdie boodskap maak die geraas stil en skep nuwe moed, ten spyte van gure weersomstandighede en weerligstrale wat gesystap moet word. Niemand kry dit beter reg as mense in landbou nie, en dit is elke twee maande ʼn voorreg om daaroor in Kommuniek te kan berig.
Die tariefinstelling is nie net ʼn slag teen ons landboubedryf nie, maar ook ʼn toets van ons buigsaamheid en veerkragtigheid.
Suid-Afrika het nie net graan, vleis, sitrus en wyn om te bied nie – ons het karakter. En karakter gee nie pad vir internasionale druk sonder om nuwe rigtings te verken nie. Stories uit die GWK-kamp bewys dit keer op keer.
Tussendeur wys ons die wêreld waarvan ons gemaak is.
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom,
In South Africa our land.





