Vanjaar se aartappelseisoen in oorsig
Vanjaar se aartappelseisoen het afgeskop met aanvanklike nat toestande, opgevolg deur ʼn lang droë periode, wat weer opgevolg is met baie laat reëns aan die einde van die groeiperiode.
Die winter het besonder lank geneem om sy opwagting te maak en die lang, warm en klam groeiperiode het siektes soos swartspikkel en aartappelmot bevorder. Die hele sentrale produksiegebied van aartappelmoere in die land is nadelig daardeur geraak. Byna alle vroeë aanplantings moes knolbehandeling ontvang om te sorg dat dit steeds gesertifiseer kon word. Die lang seisoen het ook bygedra dat daar minder moere en meer groot aartappels geproduseer is, wat dan op die tafelmark beland het.
Daar is vanjaar weer soos gewoonlik blaarmonsters getrek voordat die loof afgesterf het, om te bepaal hoeveel virus met die landmonstertoetse te wagte kon wees. ʼn Rekord-aantal blaarmonsters is vanjaar getrek en die toetse het betreklik skoon getoets, wat ʼn goeie virusjaar voorspel. Tans (einde Julie 2024) is GWK Aartappels naby aan die einde van die landmonsteruitslae en die resultate wat ons reeds ontvang het, toon dat die blaarmonsters, soos gewoonlik, ʼn baie goeie manier is om vooruit te voorspel en ontvang ons goeie virus-uitslae.
Verder het GWK Aartappels gedurende Junie die plaaslike kultivarproewe uitgehaal en is in die proses om dit te sorteer en te evalueer. Hierdie proewe word vir drie jaar herhaal om seker te maak dat die volle potensiaal of probleme duidelik by elke teellyn sal wys. Daar is reeds verskeie nuwe teellyne wat blyk om baie belowend te wees.
Die oesproses was teen einde Julie so twee derdes in proses en begin stadig die einde te nader. Hierdie oes word gekenmerk deur heelwat aalwurmprobleme, wat moontlik toegeskryf kan word aan die laat reëns wat eerstens die chemie kon uitwas en tweedens die aalwurms in staat stel om in die grondwater op te beweeg vanuit die dieperliggende dele. Die winter wat so lank geneem het om sy opwagting te maak, het egter gekom met mening en ʼn paar weke is gekenmerk deur heelwat ryptoestande. Dit veroorsaak dat daar nie te vroeg in die oggend begin kan word om te oes nie, om te verhoed dat daar kouekneusings veroorsaak word. Min bruinskurf word egter vanjaar opgelet, en afgesien van die enkele probleme hierbo genoem, vertoon die aartappelmoere oor die algemeen goed.
GWK Aartappels se hoofkultivar en vlagskip, Lanorma, het op verskeie aanplantings by verskillende produsente oor die 100 ton bemarkbare aartappels gelewer! Dié kultivar groei steeds in gewildheid by ons produsente, kliënte én die verbruiker. ʼn Groot aantal produsente oorweeg groter aanplantings van Lanorma vir die komende seisoen. Verder is die kultivar ook baie gewild onder verwerkers wat groot hoeveelhede vir die fabrieke opkoop vir die verwerking daarvan tot ʼn reeks verbruikersprodukte. Lanorma word selfs in groter getalle gebruik vir die vervaardiging van droëskyfies in Suid-Afrika.
Markpryse vir tafelaartappels was deur die seisoen bogemiddeld en produsente het goeie pryse behaal, veral op Lanorma wat ʼn pragtige skil het met ʼn bogemiddelde uitpakpersentasie. Die koue winter het ook ʼn groot aantal aanplantings in Limpopo doodgeryp, wat in die komende maand (Augustus 2024) ʼn opwaartse markprys tot gevolg kan hê.
In ander nuus: Een van ons produsente, Wynand Human van Henbrie Boerdery, is in Julie vanjaar as een van die drie finaliste vir vanjaar se Moerprodusent van die Jaar aangewys by Aartappels Suid-Afrika se kongres in die Kaap. Die finaliste word elke twee jaar gekies uit al die moerprodusente in die land. Dit is voorwaar ʼn prestasie. Hartlik geluk aan Henbrie Boerdery!