Hoe word mielie-opbrengste beïnvloed deur klimaat-chemikalieë-kombinasie?
Met die 2024-mielieseisoen wat afgehandel is, is daar ʼn paar onbeantwoorde vrae in die bedryf oor sekere lande se opbrengste wat nie aan verwagtinge voldoen het nie. Daar is verskeie faktore wat mielie-opbrengs negatief kan beïnvloed. Die kombinasie van klimaat en chemikalieë kon ʼn groot impak op produsente se mielie-opbrengste in die 2023/24-seisoen gehad het.
Wat is AES?
“Arrested ear syndrome” (AES) is ʼn fisiologiese afwyking wat ʼn groot impak op produsente se mielie-opbrengste kan hê. Dit staan ook as “blunt ear” of “beer can syndrome” bekend. Hierdie verskynsel word al sedert die 1990’s sporadies in Amerika waargeneem. Navorsers is dit eens dat AES nie deur siektes of peste veroorsaak word nie, maar dat stres op ʼn plant in sensitiewe groeistadiums die ontwikkeling van die kop kan beïnvloed. In baie erge gevalle kan dit veroorsaak dat daar glad nie eens ʼn kop ontwikkel nie.
Koue tydens die vegetatiewe groeistadium
Kortstondige koueskok tussen die groeistadiums V8 tot V12 kan AES veroorsaak. Navorsers in België het bevind dat koue in die kopvorming-stadium (ongeveer V5) selfs geen kop-ontwikkeling tot gevolg kan hê. Die koue waarna hier verwys word, is nie ryp nie – enige temperatuur onder 10°C kan dit vererger as die volgende dag matig warm tot baie warm is.
In hierdie groeistadiums kan temperature onder 10°C – gevolg deur warm temperature –klein koppe en ʼn laer aantal pitte per ry tot gevolg hê. Die plant sal egter heel gesond en normaal vertoon. Hierdie simptome dui daarop dat ʼn enkele insident in ʼn spesifieke stadium kopvorming beïnvloed het en nie geleidelike stres soos byvoorbeeld ʼn voedingstekort nie.
Wat is die rol van chemikalieë?
Die toediening van swamdoders in die 2000’s het tot ʼn hoër voorkoms van gebrekkige koppe gelei. Navorsers by Purdue Universiteit het bevind dat die persentasie nie-ioniese benatters in ʼn mengsel ook ʼn invloed op die aantal gebrekkige koppe in ʼn land het. Baie chemiese produkte bevat reeds ʼn benatter wat net soos ʼn nie-ioniese benatter werk. Die byvoeging van nóg ʼn benatter en ander produkte soos insekdoders verhoog die risiko van AES. (Sien figuur 1.)
Uit Purdue Universiteit se navorsing waar hierdie bespuitings in verskillende groeistadiums toegedien is, kon hulle vasstel dat V12 tot V14 die mees sensitiewe stadiums is. Hulle het tot 10% AES-koppe by twee standplase gevind waar daar tydens die V8-stadium gespuit is. Variasies in die proewe het daarop gedui dat die bespuiting nie alleen vir AES verantwoordelik was nie, maar dat klimaatsfaktore beslis ook ʼn rol gespeel het. (Sien figuur 2.)
Daar bestaan ʼn vermoede dat sekere tipe onkruiddoders wat in die verkeerde groeistadium gespuit word (dus ná V5) ook hierdie simptome kan veroorsaak. Die skutblare en aantal rye per kop sal normaal vertoon, maar die plante kan later in die seisoen weens verhoogde suikervlakke pers verkleur.
Seisoenale waarnemings (2023/24)
Lande het teen die middel van en tot einde Februarie 2024 tekens van AES begin toon. Daar is ook ʼn groot verskeidenheid van simptome in die bedryf waargeneem, wat daarop dui dat verskillende landerye in verskillende stadiums beskadig is. Dit is veral die vinnig-groeiende kultivars wat die meeste simptome wys, hoewel daar simptome op ʼn verskeidenheid van kultivars waargeneem is.
Die 2023/24-somerseisoen was een van uiterstes. Januarie en Februarie was baie warm sonder enige reën, met twee koue naweke aan die begin van Februarie, gevolg deur nóg warm dae. Die meeste lande met AES-simptome is tussen 10 en 14 Desember 2023 aangeplant. Daar was egter ook ʼn aantal lande met soortgelyke simptome wat vroeër en later as hierdie tydgleuf aangeplant is.
Die spesifieke groeistadium waarin die mengsel van swamdoders, insekdoders, en blaarvoeding gespuit is, kan nie met 100% akkuraatheid bepaal word nie, maar daar kan wel uit verslae gesien word dat baie van hierdie bespuitings ná V8 toegedien is.
Die afgelope seisoen was dus die “perfekte storm” vir so iets om te gebeur. Die klimaat was nie net gunstig vir die voorkoms van AES nie, die mielies het aanvanklik ook baie vinnig gegroei en bespuiting was in baie gevalle ʼn paar groeistadiums te laat. Daarmee saam het produkte in die spuitmengsel – om verskeie peste en plae te probeer beheer – ook die risiko van AES verhoog.
Wat kan produsente doen om AES te voorkom?
- Bly in die veilige spuitperiode. Hoewel die mees sensitiewe stadiums V12 tot V14 is, is daar gevalle waar dit met vroeër bespuitings waargeneem word. Probeer dus om nie tussen V8 en die pluimstadium te spuit nie.
- Moenie te veel produkte saam spuit nie. Waar slegs swamdoders gespuit is, het hierdie simptome nie voorgekom nie. Maar, sodra benatters, insekdoders, en selfs voeding bygevoeg word, is die risiko hoër.
- Probeer sover moontlik om nie plante te spuit wat onder stres verkeer nie, soos erge hitte en veral koue.
Die foto’s hierby is van mieliekoppe wat in die afgelope seisoen waargeneem is. Sommiges wys tipiese simptome van “silk bailing” waar die kop ontwikkel het, maar die baard nie kon uitgroei en bestuif word nie, terwyl ander tipiese simptome van AES vertoon.
*Bronne:
- Arrested ear development in hybrid corn (Purdue University)
- Blunt ear syndrome in corn (Purdue University)
- Arrested ear syndrome sticks its head out in South Africa (Graan SA. 2016)
- Abnormal ear development in corn (Golden Harvest Seeds)
- Corn ear growth in response to foliar crop protection treatments (Pioneer)
- Symptomology of arrested ear development in corn (Purdue University)