“2050 is nóú” sê ASA by kongres
“Ons het 495 aartappelprodusente in die land, wat beteken ʼn groot deel van ons produsente is in die Wes-Kaap-streek (meer as ʼn 100) en die res van die 350 afgevaardigdes is rolspelers soos navorsers, landboukundiges en verteenwoordigers van die insetverskaffers,” sê Dirk Uys, die Bestuurder van Navorsing en Vernuwing by Aartappels Suid-Afrika (ASA) tydens dié organisasie se jaarlikse kongres.
ASA, die amptelike liggaam en verteenwoordiger van aartappelprodusente in Suid-Afrika, en ASD (Aartappelsertifiseringsdiens) wat namens die departement van landbou inspeksies by aartappelprodusente hanteer, hou elke tweede jaar ʼn gesamentlike moerkwekersforum en kongres wat oor twee dae strek. Hierdie geleentheid betrek aartappel- en moerkwekerprodusente, landbou-organisasies, gifmaatskappye, industrierolspelers, verwerkers en markagente vir aartappels uit elke streek regoor Suid-Afrika. Vanjaar is die kongres, te midde van die baie reën en verspoelings in die Wes-Kaap, op 16 en 17 Julie in Kaapstad aangebied.
Sprekers het die geleentheid bygewoon om inligting, gebeure en die finansiële stand oor die afgelope twee jaar oor verskeie onderwerpe wat die aartappelbedryf raak, te deel. Verskeie sessies en paneelgesprekke wat oor die jaar se kongrestema, 2050 Is Nou, handel, is aangebied.
“Boerderytoestande het vir produsente moeiliker geword en kongresse soos dié probeer om die nodige ondersteuning aan hulle te gee,” sê Gert Bester, Voorsitter van ASA. Wat die kongres aanbetref was daar onder meer gesprekke oor die doeltreffendheid in produksie, die logistiek en roete na die kliënt, die verbruiker, biosekuriteit en volhoubaarheid asook tegnologie en die toekoms.
Die moerkwekersforum het drie moerkwekerfinaliste, wat ook die funksie bygewoon het, vir die 2023-seisoen aangewys. Hierdie finaliste is deur ASD gekies op grond van, onder meer, die uitslae van boerderydata, die hoeveelheid aartappelsakke wat sorteer word, inspeksies wat op die produsente se lande gedoen word en ook die virusuitslae van die produsent se aanplantings. ʼn Welbekende produsent in die Douglas-distrik, Wynand Human van Henbrie Boerdery, is in hierdie kategorie as een van die finaliste aangewys is. Saam met hom is Rob Carrol van Carbrecht (Pty) Ltd en Rudi Heilein van Sirkel N Landgoed ook as finaliste aangewys, met Heilein wat uitendelik as die wenner deur die moerkwekersforum aangewys is.
Uys deel verder dat Suid-Afrikaners se aartappelverbruik redelik laag is met 35 kg per kop per jaar, teenoor plekke soos Pole (meer as ʼn 100 kg), Malawi (meer as 50 kg) en ander topverbruikers soos Egipte en Algerië. “Wat ons dus moet vra, is hoe kan ons Suid-Afrikaners kry om die goedheid van ʼn aartappel te waardeer? ASA het daarom ʼn leuse wat roep dat elke Suid-Afrikaner een aartappel meer per week moet eet. Dit kan die waarde van die bedryf van ongeveer R12 miljard tot R17 miljard laat styg.”
André Coetzee, Ondervoorsitter van ASA-direksie en ook Hoof van GWK Aartappels, Attie van den Berg, Bemarker by GWK Aartappels en Ruben Rens, Produksiebestuurder by GWK Aartappels het die GWK-streek verteenwoordig by die kongres.
Rens, wat al byna sy hele loopbaan in die aartappelbedryf werk, vertel dat die nuwe tegnologie en die bespreking en hantering van die nuwe pepper ringspot virus veral interessant was om na te luister. Die pepper ringspot virus, of soos hy daarna verwys, peperkringvlekvirus, kom hoofsaaklik op tamaties en rissies voor en is verwant aan die tabak-mosaïek-virus. ASA het voorstelle ingedien oor hoe die virus hanteer moet word en hierdie voorstelle is tydens die kongres bespreek.
Nuwe tegnologie vir aartappelprodusente was iets om dié jaar na uit te sien. Rens verwys spesifiek na die kameras wat op spilpunte geïnstalleer word en foto’s neem soos die spilpunt beweeg. Dié kameras is geprogrammeer om siektes op die aartappelplant te identifiseer sodat produsente vroegtydig die regte gif kan toedien. Hierdie program maak dit moontlik om eers te spuit as die siekte daar is (maar ook betyds). Dit verminder dus die gif- en chemieseprogramme wat plante ʼn weerstand laat opbou.
Rens vertel dat die kongres daarvoor sorg dat jy op hoogte van die nuutste verwikkelinge in die aartappelbedryf bly “Dit is ʼn fantastiese geleentheid om netwerke en verhoudings in die aartappelbedryf te bou en te versterk”.