Uitheemse plantspesies en ekologiese prosesse

Dr. Hugo Bezuidenhout, ekoloog, deel meer oor die impak wat indringer-plantspesies op die natuurlike Suid-Afrikaanse landskap het.
In die Kommuniek van November/Desember 2024 is die gevolgtrekking gemaak dat, as produsente na die natuur kyk, hul op die lange duur baat sal vind by volhoubare bestuur. Ons het ook gesels oor indringer- en verdigterplantspesies. In hierdie uitgawe word daar gekyk na uitheemse plantspesies.
Hooffoto: Die uitheemse eenjarige Cosmos-spesies wat dikwels langs die pad die dag ophelder.
Die woord uitheems beteken “vreemd”, “buitelands” of “eksoties”. “Heem” is geleen van Nederlands vir “woonplek”. Ongelukkig is daar nie genoeg bewusmaking van uitheemse plantspesies nie, en produsente moet besef dat wetgewing ʼn mens verplig om ingelig en bewus te wees van uitheemse plantspesies. Die vraag bestaan: “wat kan ek doen om die indringing en verdigting van ʼn plantspesie, wat landbougewasse en natuurlike ekosisteme bedreig, aan te spreek?” Maar voor dit gebeur, is dit belangrik dat jy jouself bemagtig met kennis oor uitheemse plantspesies en implikasies daarvan.
Daar kom twee tipes uitheemse plantspesies in Suid-Afrika voor, naamlik waardevolle en problematiese uitheemse plantspesies. Waardevolle uitheemse plantspesies, soos byvoorbeeld mielies (Zea mays, oorspronklik vanaf Sentraal-Amerika) en sonneblomme (Helianthus annuus, Amerika) verskaf voedsel aan die mens.
Dan kry ons problematiese uitheemse plantspesies, soos byvoorbeeld die bekende bome: bloekombome (Eucalyptus spesies, Australië), populierbome (Populus-spesies, Europa, Asië en Noord-Afrika) en die muskietboom of heuningprosopis (Prosopis-spesies, Noordwes-Amerika). Hierdie is slegs maar ʼn paar verklaarde uitheemse indringer-plantspesies.
In 2024 is daar in Suid-Afrika 559 uitheemse indringer-plantspesies geïdentifiseer. ʼn Verdere 560 uitheemse plantspesies is as verklaarde uitheemse indringer-plantspesies geïdentifiseer, en mag nie meer in Suid-Afrika ingebring word nie. Daar kom egter jaarliks nuwe uitheemse plantspesies Suid-Afrika binne, soos byvoorbeeld die Douglas Amaranthus (Amarathus palmeri, suid-westelike Amerika en Meksiko), wat deur dr. Charlie Reinhardt in Douglas se katoenlande (katoen: Gossypium hirsitum van Amerika) ontdek is. Die navorsing ná die ontdekking het egter getoon dat dit eintlik wyer voorkom as wat aanvanklik vermoed is, met nog lokaliteite in die Limpopo, Noordwes en KwaZulu-Natal wat bygekom het (Sukhorukov 2021).
In bogenoemde geval is katoen ʼn waardevolle uitheemse eenjarige plantspesie, wat nie indringer-plantspesiestatus het nie. Dieselfde kan egter nie van die Douglas Amaranthus gesê word nie – dié uitheemse eenjarige plantspesie veroorsaak groot kopsere vir produsente in katoenlande, en dit dring ook die natuurlike ekosisteme in.

Amaranthus palmeri in katoenlande naby Douglas

Amaranthus palmeri, wat meestal op die rand van die katoenlande groei, mag ook soms die land binnedring.
Uitheemse plantspesies is meestal met ʼn spesifieke doel deur mense ingebring, soos byvoorbeeld voedsel, hout, koelte en weiding. Soms voer mense skelm ʼn steggie in ʼn handsak in vir ornamentele plante in die huis en tuin. Dié plante kan ontsnap weens nalatige bestuur daarvan. Dit kan ook saam met ingevoerde “waardevolle” saad die land inkom. As die saad dan geplant word, word die saad van die uitheemse indringer-plantspesie ook geplant. In studies is daar ook gevind dat dit in mense se bagasie of met voertuie ingebring en versprei word. Wind en water, asook migrerende voëls is, van die skaarser maniere waarop plantspesies die land binnekom. Wanneer die plantspesies nie beheer word nie, word dit gewoonlik ʼn reuseprobleem ten opsigte van kostes om dit te bestry, asook kosbare habitat wat die produsent verloor of die natuurlike ekosisteme wat negatief beïnvloed word.

Ornamentele plantspesies wat buite beheer in tuine raak en ontsnap in die natuur
Die uitheemse indringer-plantspesies is uitstekende kompeteerders en groei byvoorbeeld vinniger as inheemse plantspesies. Dit kan vinnig ook by uiterste klimaatstoestande aanpas. Verder is daar te min of geen natuurlike vyande wat die plantspesies onder beheer kan hou. ʼn Interessante feit is dat baie van die plantspesies in lande van oorsprong nou ook probleme veroorsaak met indringing en verdigting. Die saad van dié plantspesies kan vir lank in die grond oorleef voor dit ontkiem. Dit word maklik versprei deur diere, wind en water.
Dit is soms tot ʼn mens se voordeel om nie slegs veld van die pad af te bekyk nie, maar daardeur loop om die omvang (grootte hektaar) te sien.

Figuur 1: Plantegroeikaart van Bergkwagga Nasionale Park
Elke plaas het plantgemeenskappe, en elkeen van die plantgemeenskappe het ʼn unieke plantspesiesamestelling en plantegroeistruktuur (hoogte en kroonbedekking) (Figuur 1). Die plantgemeenskap is geassosieer met ʼn spesifieke terreinvorm, byvoorbeeld dreineringsbaan. Die dreineringsbaan het unieke eienskappe soos sekere grondvorms met verskillende eienskappe, soos byvoorbeeld klei-inhoud. Die grondvorms word beïnvloed deur geologie en plek in die landskap, en dat dit as ʼn dreineringsbaan vir water afloop dien (sien Kommuniek November/Desember 2024).
As ʼn mens dus na indringerplant(e) kyk – of dit nou uitheems of inheems is – moet jy na die omvang van die indringing en verdigting kyk ten opsigte van die plaas se grootte (hektaar). Dit beteken dat ʼn 1 000 ha-grootte plaas waarvan 300 ha deur indringing bedreig word, ʼn redelike bekommernis is wat aangespreek moet word. Indien jy ʼn plaas van 5 000 ha het en 300 ha daarvan is ingedring, is dit steeds ʼn bekommernis, maar die bestuur daarvan mag dalk verskil.
Wanneer ʼn mens weet watter plantspesie of plantspesies indring en verdig, sal jy weet of dit eenjarig of meerjarig is. Die meerjarige uitheemse indringer-plantspesies veroorsaak die meeste probleme, want dit is heeltyd aan die indring en verdig, wat natuurlike plantspesies uitkompeteer, terwyl eenjarige uitheemse indringerplante ʼn kort impak op die omgewing het. Eenjarige indringer-plantspesies se lewensiklus is gewoonlik gefokus om so gou as moontlik te ontkiem, groei en blom, sodat die saadbank in die grond aangevul kan word. Sowel eenjarige as meerjarige plantspesies is altyd opportunistiese plantspesies, wat vinniger as inheemse plantspesies reageer om oop kaal kolle of versteurde areas in te neem. Dit is belangrik om ook te weet dat spesifieke indringer-plantspesies ook sekere voorkeure het wat terreinvorm, grondvorm en water betref, en dat dit nie sommer net oral spontaan groei nie.

Die eenjarige indringerplant Wildesonneblom (Verbesina encelioides) wat alle oop, versteurde dele in sandveld oorneem.
Uitheemse plantspesies word in twee kategorieë verdeel, naamlik dié wat verklaarde indringer-plantspesies is, en dié wat nie verklaarde indringer-plantspesies is nie en wat wel met die nodige permitte ingebring mag word, soos byvoorbeeld katoen. Sodra ons dus die plantspesie(s) geïdentifiseer het, moet vasgestel word of dit ʼn verklaarde indringer-plantspesie is.

Die algemene, bekende misbredie (Amaranthus praetermissus), wat nie ʼn verklaarde onkruid is nie.
Daar is twee wetgewings wat in ag geneem moet word, naamlik:
- Die National Environmental Management: Biodiversity Act (Act 10 of 2004), of kortliks die NEM:BA-wet genoem;
- Die Conservation of Agricultural Resources Act (ACT No. 43 of 1983), of kortliks CARA-wetgewing.
Die nasionale uitheemse indringer-plantspesielys van Suid-Afrika word deur NEMBA in vier kategorieë verdeel; meer daaroor in volgende uitgawes van Kommuniek.
*Bron:
Sukhorukov A.P., Kushunina M., Reinhardt C.F., Bezuidenhout H., Vorster B.J. 2021. First records of Amaranthus palmeri, a new emerging weed in southern Africa with further notes on other poorly known alien amaranths in the continent. BioInvasions Records 10(1): 1–9, https://doi.org/10.3391/bir.2021.10.1.01.