Twee kante van die kanola-munt

Kanola is die laaste twee jaar aangeplant as alternatiewe wintergewas in die GWK-besproeiingsgebied. Soos met elke nuwe gewas is daar twee kante aan die munt.
Die vergelykende syfers (winsgewendheid) word natuurlik beïnvloed wanneer goeie koringopbrengste gerealiseer word, soos in die laaste seisoen gebeur het. Kanola-aanplantings in die GWK-gebied was ongeveer 750 hektaar in die 2024-seisoen, met opbrengste wat gewissel het tussen 2 en 5,2 ton her hektaar. Die koringseisoen was egter baie beter as die vorige twee jaar en opbrengste van bo 9 ton per hektaar is wyd aangemeld. Met dít as agtergrond is daar produsente wat sê dat hulle weer kanola gaan plant, terwyl ander produsente voel dat daar nog te veel vrae rondom die produksie van kanola is. Hoe lyk die twee kante van die munt?
Kopkant van die kanola-munt
Kanola is ʼn gewas wat redelik wyd aangepas is en wat ʼn breëblaar-opsie in ons wisselbou skep. Produsente wat ʼn positiewe ervaring met die gewas gehad het, let veral op na die volgende voordele.
Wisselbou: Die grootste voordeel van kanola lê seker in die opsie om wisselbou in die winter te kan toepas. Indien probleme met grasonkruide ondervind word, kan die aanplant van kanola gebruik word om die probleem aan te spreek. Clearfield- en Triazien-bestande (TT) kultivars kan gebruik word. Daar is data beskikbaar dat Clearfield-kultivars direk met konvensionele kultivars kompeteer. TT-kultivars toon egter ʼn vyf tot veertien persent laer opbrengs as konvensionele kultivars.
Plantdatum: Plantdatum is belangrik by kanola en produsente ervaar die beste opbrengs as kanola in die eerste week van Oktober klaar geblom het. Die beste plantdatum is vroeg in Mei. Kultivars met groeiperiodes tussen 123 en 150 dae is beskikbaar. Die aanbeveling is dat kanola nie binne drie jaar op dieselfde grond weer aangeplant word nie.
Bemesting: Belangrik in die bestuur van bemesting is om ʼn realistiese opbrengsmikpunt te stel en nie onder die versoeking van oorbemesting te swig nie. Dit is ook baie belangrik om te onthou dat kanola ʼn gemiddelde opbrengspotensiaal van tussen 4 en 4,5 ton per hektaar het. Daar is wel geleentheid om op kunsmis te bespaar. Data uit Australië toon ʼn optimum van tussen 120 en 160 kg stikstof (N) per hektaar. Bykomende bemesting het ʼn klein positiewe effek op opbrengs, en oorbemesting (vermorsing) van kunsmis kan maklik geskied. Produsente ervaar dat bemesting redelik vroeg moet geskied; volgens data uit die Wes-Kaap moet die laaste stikstof tydens stamverlenging geskied en is kalium as topbemesting belangrik. Bespuiting van mikro-elemente moet op die laatste tydens stamverlenging geskied.
Waterbestuur: Kanola gebruik minder water as koring. Die optimum vir kanola wissel rondom 500 millimeter per hektaar. Die algemene aanvaarding is dat minstens een besproeiing op kanola minder nodig is as by koring. Die laaste besproeiing op kanola is 14 dae ná die einde van blom, wat beskryf word as die periode wanneer 95% van die plante uitgeblom is.
Oesdatum: Die oesdatum is gedeeltelik onder die produsent se beheer. Kanola kan, nadat einde blom bereik is, doodgespuit word met Diquat. Oes kan gewoonlik binne drie dae ná doodspuit begin. Produsente moet net onthou dat Diquat ʼn droogmiddel is en nie die saad se volwassenheid sal bespoedig nie. Die doodspuit kan dus wel die opbrengs negatief beïnvloed.
Kontantvloei: Een van die grootste voordele van kanola is laer insetkoste. Ontleding deur GWK se landbou-ekonoom het uitgawes van 4 ton/ha kanola bereken op R18 850 (vir die 2024-seisoen) teenoor R26 000 per hektaar vir 10 ton/ha koring. Volgens die Profarmer elektroniese kostegids vergelyk ʼn 4 ton kanola- (R3 678 bruto wins per ha) met ʼn 7 ton koring- (R3 678 bruto wins per ha) -oes. Insetkostes en pryse is gebruik soos wat dit op 15 Februarie 2025 was. Tydens druktyd van hierdie artikel was die werklike syfers soos deur die produsente verkry nog nie beskikbaar nie. Kanola word ook normaalweg voor koring gestroop wat ʼn vroeër kontantvloei tot gevolg het.
Die ander kant van die munt hou uitdagings in
Grondbewerking: Kanola-saad is baie klein, met die gevolg dat saailinge ʼn gelyk saadbed benodig om egalig op te kom. Die uitdaging hiermee is dat saailinge uiters gevoelig is vir windskade, wat beteken dat lande nie te skoon gewerk moet word nie.
Wisselbou: Kanola is baie gevoelig vir Mesotroon en Triaziene. Beplanning van onkruiddoders op voorafgaande gewasse is van uiterste belang om ʼn goeie stand by kanola te verseker. Mesotroon het byvoorbeeld ʼn baie lang nawerking en kan die opkoms van kanola negatief beïnvloed. Verskillende kultivars soos Clearfield en TT reageer anders op onkruiddoders as konvensionele kultivars. Dit is baie belangrik om te onthou dat kanola-lewering onderworpe is aan ʼn Kanola-paspoort (beskikbaar op www.soill.co.za).
Plantdatum: Die sukses van kanola as gewas is duidelik gekoppel aan plantdatum. Kanola kan suksesvol ná vroeë mielies geplant word. Met ander woorde, suksesvolle aanplantings moet rondom die begin van Junie afgehandel wees. Later aanplanting het uitdagings rondom temperature. Kanola is nie baie gevoelig vir koueskade tydens die saailingstadium nie, maar koue tydens blom, vroeg in Oktober, kan lei tot dowwe peule. Aan die warm kant is kanola baie gevoelig vir temperature bo 28°C tydens die rypword-stadium. Tabel 1 toon die gemiddelde dae waar temperature onder 0°C tydens blom en temperature bo 28°C tydens rypwording in die GWK-besproeiingsgebied voorkom. Die data dui daarop dat die risiko vir hitte tydens rypwording vinnig toeneem met later plantdatums. Waarnemings deur Piet Lombard dui op ʼn 18% opbrengsverlies vir gemiddeld 1°C bo 28°C vir twee agtereenvolgende dae tydens die 60 dae ná blomperiode.

Tabel 1: Gemiddelde risiko van lae en hoë temperature tydens blom en rypwording binne die GWK-besproeiingsgebied
Onkruidbeheer: Kanola is ʼn breëblaargewas en grasse kan dus binne die aanplanting beheer word. Die gewas groei egter baie welig en onkruidbeheer is net moontlik tot die blomstadium, ongeveer 78 dae ná plant. Bespuitings ná hierdie periode kan lei tot dowwe peule. Indien standprobleme ondervind word, kan breëblaar-onkruide ontkiem, wat beheer bemoeilik.
Peste en plae: Kanola is baie gevoelig vir aalwurm en Sclerotinia. Die aanbeveling van produsente is om die lande gereeld te evalueer en daarvolgens bespuitings te doen. In 2024 het Sclerotinia-infeksie laat voorgekom, maar ʼn bykomende swambespuiting kan oorweeg word.
Bemesting: Kanola is ʼn hoë gebruiker van stikstof (N) en fosfor (P). Aanbevelings uit die Kaap is dat fosforbemesting ná die aanplant van kanola aangespreek moet word. Plasing van fosfor naby die kanola-saad is belangrik om effektiewe ontwikkeling van wortels te verseker. Vir die doel en om “brand” van saad te vermy, word uitstrooi van kunsmis voor plant aanbeveel.
Stroop van kanola: Stroop van kanola kan ʼn groot uitdaging word as opkoms onegalig was. Plante raak ongelyk ryp en die stroop van “groen” plante is moeilik. Die plante is oor die algemeen natter en die stroper sukkel om skoon te stroop. Kultivars wat minder oopbars is beskikbaar, maar onder die regte toestande kan steeds groot verliese ervaar word.
Ná ʼn jaar (of twee) in die pad af
Kanola as breëblaargewas skep geleenthede as wisselbougewas in die winter seisoen maar daar is egter nog baie vrae wat beantwoord moet word. Van die groot vrae wat nog ondersoek moet word, is:
- Wanneer is die optimale plantdatum?
- Wat is optimale plantestand onder besproeiing?
- Waar pas kanola in die gewasrotasie?
- Hoe gereeld kan kanola onder besproeiingstoestande op dieselfde grond aangeplant word?
- Wat is die effek van kanola op grondgesondheid?
- Die impak op die opvolgende gewasse?
- Hoe lyk die ekonomiese vergelyking van kanola teenoor koring? Huidige data toon dat kanola opbrengs tussen 50-60% van koringopbrengs is.
- Huidige pryse kan positief onderhandel word – hoe lyk die toekoms as produksie toeneem?
- Gaan marktoestande positief bly weens ʼn tekort aan goeie olies?
Opsommend
Kanola skep geleentheid as alternatiewe gewas. Produsente se ervaring van die gewas verskil en sommige voel dat hulle die gewas weer gaan aanplant. Ander produsente voel daar is net nog te veel skoolgeld om te betaal. Die gewas het beslis uitdagings, maar word gesien as ʼn goeie opsie as kontantvloei onder druk is. Die ander vraag is rondom die “kristalbal”: indien die seisoen koel is tydens die graanvulperiode van koring (dus opbrengs binne die hoër band) kan kanola nie maklik kompeteer nie, maar as koringopbrengs onder druk is, is kanola ʼn positiewe alternatief.
*Hooffoto: Canva