Redakteursbrief
As ‘n mens gaan oplees oor wat op die oomblik die grootste besprekingspunte in landbou is, maak die nuus dit maklik om ‘n lysie saam te stel.
Biosekuriteit en siektebeheer is ‘n groot knelpunt met bek-en-klouseer-getalle wat styg. Uitdagings in infrastruktuur en logistiek belemmer die vervoer en uitvoer van produkte. In dieselfde asem is die toekoms van uitvoermarkkanale onseker weens tariefinstellings. Onvoorspelbare klimaatstoestande is ‘n groot bekommernis onder produsente, net soos grondhervormingsgesprekke. Ontwikkeling in tegnologie en kunsmatige intelligensie, en die koste daaraan verbonde, is op die nasionale agenda vir bespreking.
Dit was ‘n onstuimige jaar as al hierdie onderwerpe in ag geneem word. Kommuniek het sover moontlik alle relevante onderwerpe gedek om die impak daarvan op ons mense te verstaan. Ook in dié uitgawe kan ‘n mens plek-plek raaksien hoe dieselfde temas na vore kom: jongboere se benadering tot invloede op landbou, die geleenthede én gevare in digitale ontwikkeling, en immer-aanwesige soeke na maniere om landbou volhoubaar te hou.
Ons betree nou die feesseisoen – ‘n seisoen waarin dit aanvaarbaar is om ‘n blaaskans van bekommernis te neem en uitdagings te herdefinieer.
Die enigste sekuriteit waarmee ons ons nou moet bemoei, is dié van die mense naaste aan ons – hulle gesondheid, veiligheid, welstand en geluk. Wat infrastruktuur betref, hoef ons net een pad te vat, en dit is die pad huis toe. Daar waar hierdie mense die einde van nog ‘n jaar saam met ons vier in ‘n atmosfeer van liefde.
Uitvoere hoef nie oor grense heen gedoen te word nie. In die seisoen van gee kan ons deel met dié wat minder het, transaksies knoop waar dankbaarheid en vrygewigheid uitgeruil word, en reusewinste in menslikheid aangeteken word.
Die Suid-Afrikaanse klimaat bring sonskyn in die somermaande – vitamiene D, die goedvoel-vitamien. En wanneer die weer verander en die wolke saamtrek, juig ons saam met die veld en die vee vir die seëning en dink ons vir ‘n oomblik nie aan die negatiewe kant van klimaat-wisselvalligheid nie. Ons is dankbaar vir Suid-Afrika, sy vrugbare grond en sy diverse nasie met wie ons dit deel.
Maak gebruik van tegnologie om nuwe flieks te kyk, die beste musiek te luister en na vriende uit te reik. Die digitale wêreld het die gaping tussen geliefdes wat ver van mekaar bly kleiner gemaak.
Staan stil, rus, verander die besprekingspunte in dinge wat saak maak. Want, vir nou, is dit al wat saak hóéf te maak.
Ons wens ons lesers ’n Feestyd vol vrede toe.








