Stoorprodukte tot sielkunde, Marika luister

Marika Steenkamp is nie ʼn onbekende gesig by GWK nie, en nog minder in Kimberley. By GWK se handelstakstoor is sy die een wat jou help van wonder na wéét.
Dit is seker te verstane, as ʼn mens in ag neem dat sy al sedert 1991 deel van die span is. Nou, meer as drie dekades later, gebeur daar niks in GWK Handel se stoor waarvan sy nie weet nie.
Destyds, nog voor die handelstak GWK s’n was, is sy as kassiere aangestel, toe alles nog met die hand in boeke opgeskryf moes word. Daar was geen lugverkoeling in die winkel nie en Kimberley word warm. Min het sy geweet dat die bestuur van die stoor – handearbeid in die Noord-Kaapse son – tien jaar later op haar wag.

Marika het steeds die plaat wat opgerig is toe die handelstak in 1991 geopen is
Partykeer is dit goed om aan die diep kant ingegooi te word, want daar is geen ander uitweg as om te swem nie. Maar, sê sy, “dink ek terug, kan ek maar net sê ek weet nie hóé nie. Dis net die Vader se genade.” Sy het geen ervaring of ondervinding daarin gehad om ʼn stoor te bestuur nie.
Want ná skool het Marika haarself nie in die koöperasiewêreld gesien nie. Sy het haar graad in L.O.-onderwys aan Kovsies in Bloemfontein verwerf en daarna ʼn honneursgraad in sielkunde aangepak. Omstandighede het egter verander en sy het nie die jaar voltooi nie.
Haar pa het baie jare in ʼn koöperasie in die Oos-Vrystaat gewerk voor hulle Kimberley toe getrek het en het ʼn besondere liefde daarvoor gehad. In Kimberley het hy kontak met die handelstak gemaak, en só het Marika as tydelike werker begin, daarna as kassiere en toe store toe.
Gelukkig, sê sy, kon sy leer by ʼn ander personeellid wat baie kennis oor dierevoeding en veemedisyne gehad het, wat haar spasie gegee het om haar voete in die stoor te vind. Sy het ʼn goeie verhouding met produkte se verkoopsverteenwoordigers wat werklik die produkte verstaan en by wie sy leer. Saans het sy boeke en produkpamflette bestudeer om presies te weet wat is wát, “want ek moet ʼn antwoord kan gee as iemand my iets vra.” Jy moet ekstra ure insit – dit is onmoontlik om dié tipe werk as ʼn agt-tot-vyf te sien.
Marika het ʼn span van veertien regterhande in die stoor, “en dít voel selfs soms te min.” Op ʼn besige dag is die stoor agter die winkel ʼn miernes. In Covid-tyd veral, toe die tak een van die min plekke was wat oop was en die span met minimale personeel moes regkom.
“Ons moes almal pype sny, draad sny, sakke van trokke aflaai en ek moes tussendeur bestellings doen. Dit is ver verwyderd van toe ek aan die begin rakke gepak het en alles met handskoene wou doen.”
“Daar moet regtig iets soos ʼn koöperasieskool wees. Voor jy aangestel word, moet jy deur opleiding gaan wat jou leer waarvoor om te kyk, waarna om op te let, produkkennis. Ná al hierdie jare – en ek het gedink ek het nou al skoolgeld betaal – is ‘n mens nooit immuun teen foute maak nie, en moet ek steeds seker maak al my produkte is van hoë gehalte.”
En ongelukkig is kwaliteit egter ononderhandelbaar vir Marika – in produk én diens.
Sou daar ooit ʼn probleem insluip, is eerlikheid en deursigtigheid die enigste manier om die situasie te hanteer. “As ek eers geloofwaardigheid by kliënte verloor het, gaan ek dit nie weer kan terugkry nie. Ek gee die feite en ek maak ʼn belofte en dit moet nagekom word.”

By haar kantoor, waar sy na haar kliënte omsien
Sonder formele opleiding, maak sy staat op aanvoeling, selfleer en waarneming. Sy bestuur nie ʼn voertuig nie, sy kyk eerder rond. “Goed wat vir my soos asemhaling is, is om te kyk hoe boere se kampdrade gespan is. Dan maak ek somme in my kop oor watter draad saam met watter sparre gebruik word, en die hoeveelhede. Sodat ek genoeg van albei in die stoor het – die een ding kan nie sonder die ander nie. Dieselfde met veevoere. Sekere produkte vul mekaar aan, so die regte hoeveelhede moet op die vloer beskikbaar wees. Nou kan jy vir jouself dink hoekom ek sê daar moet ʼn koöperasieskool wees!”
Marika is reguit, en skrikkerig dat sy dalk soms té reguit is. Die GWK-span glo egter dit is een van haar grootste bates. Want wanneer Marika praat, gee sy raad, deel sy inligting en maak sy aanbevelings oor die regte produkte vir die regte doel. Terwyl ons gesels, steek ʼn kleinboer wat sy bokke wil vet kry sy kop by haar kantoor in en vra oor voer. Sy vra uit oor ander voeding, of die bokke lusern kry, kry die regte inligting. Daarna sê sy vir hom wat hy nodig het, en sien hom af met “there is no magic way to get them to put on weight, it takes time” as ʼn laaste brokkie raad.

ʼn Vinnige geselsie met ʼn kliënt
Daar is ʼn ander kant aan kliënte se interaksie met Marika – die kant waar hulle praat en sy luister. Een voorbeeld is tydens en ná die verwoestende brande in die omgewing, toe sy probeer het om vir elke boer wat geraak is, soveel waarde as moontlik te gee vir die geld wat hulle uit ramphulpfondse ontvang het. “Want begryp jy die trauma waardeur daardie mense gegaan het?” vra sy. “Daar is boervrouens wat in hulle huise vasgekeer was en nie geweet het waar hulle mans of kinders of troeteldiere was nie. Daardie boere moes sien hoe hulle diere ly met oop brandwonde en moes hulle van kant maak. Die eerste plek waarheen mense kom, is die koöperasie.”
Om te begin herbou? Nee, ook om af te pak.
Dít, sê Marika, het haar lankal laat sien dat die Here haar in die pos gesit het vir ʼn ander rede as om net produkte te verkoop. “My kliënte is my vriende en my familie.” Sy luister en bemoedig, of dit nou oor die droogte of hulle kinders of hulle bekommernisse is. Hulle kom lag en huil in haar kantoor. In ʼn stadium het sy werk toe en terug begin stap om haar siel skoon te kry vir elke dag.
Het sy enige planne om die weg te gaan by die Groep?
“Nee, ek het nog werk om hier te doen.” En dit het nie alles met stoorbestuur te doen nie.