2024-koringopbrengs getuig van groot dankbaarheid

Die 2024-koringseisoen is agter die rug en ons kan met groot dankbaarheid terugkyk op ʼn goeie seisoen. Voorlopige waarneming toon dat die seisoen een was met gemiddelde opbrengste van tot bo 9 ton/ha. Dit is in sterk kontras met opbrengste van rondom 6,8 ton/ha in 2022 en gemiddeld 7,6 ton/hektaar in 2023 (gemiddeld van GWK-strookproewe). Dit laat natuurlik die vraag ontstaan: waaraan kan die goeie seisoen toegeskryf word?
Kan ʼn kykie na temperature dalk lig werp op die vraag?
Klimaatsdata word daagliks deur die Landbounavorsingsraad (LNR) gemeet. GWK bekom reeds vanaf 1996 data vir verskeie weerstasies. Die data kan saam met fokusklant–opbrengste ontleed word om ondersoek in te stel na die invloed wat gemiddelde, maksimum en minimum temperature op opbrengs het. Die fokusklant–opbrengste en gemiddelde seisoensklimaat word kortliks in Tabel 1 opgesom.

Tabel 1: Gemiddelde opbrengs van fokusklante in die GWK-gebied
Tabel 1 toon dat die opbrengs van die Fokusklant–projek die afgelope ses seisoene in twee groepe in gedeel kan word, naamlik Onder– (laer as 8,8 ton/ha) en Bogemiddeld. Die gemiddelde temperature (Grafiek 1) toon egter min verskille en dit lyk of die temperatuur oor die seisoen nie ʼn groot invloed op opbrengste gehad het nie. As daar egter fokus op sekere tye van die seisoen geplaas word, kom duideliker tendense na vore.

Grafiek 1: Gemiddelde temperatuur vir koring in die GWK-gebied
Wanneer is die kritiese periode wat opbrengs bepaal by koring?
Koring ontwikkel in verskillende periodes oor die seisoen. ʼn Algemene verdelingsgroeipatroon is in Tabel 2 opgesom. Temperature vir optimale groei by lentekoring wissel, afhangend van die periode, tussen ʼn minimum van 3°C tot 32,7°C met ʼn optimum gemiddelde temperatuur van 20°C. Koring kan koueskade onder 3°C ondervind met rypskade wat kan voorkom onder 0°C. Die maksimum temperatuur tydens die gevoelige blomstadium is 27°C, wat toeneem tot 32,7°C tydens graanvulperiode, hoewel temperature tot 35°C onder besproeiingstoestande nie groot skade sal veroorsaak nie.
Tabel 2 gee ʼn uiteensetting van die gevoeligheid van koring opbrengs komponente vir lae temperature (ryp) en hoë temperature per groeistadium.

Tabel 2: Invloed van temperature op verskillende groeistadiums by koring
Minimum temperatuur tydens die gevoelige stadiums
Koring kan koue temperature voor halmverlenging hanteer met koue wat tydens dié stadium aanleiding gee tot beter spruitvorming en dus meer halms/korrels per oppervlak. Die eerste stadium wat gevoelig is vir temperatuur is vanaf halmverlenging tot vlagblaar. Die groeipunt sit bokant die grondoppervlak en koue kan veroorsaak dat die groeipunt beskadig word. Grafiek 2 toon dat daar in 2024 aan die begin van halmverlenging wel ʼn koue periode voorgekom het, maar tydens vlagblaar was die temperature bo die verlangde minimum. Evaluering van die bo– en ondergemiddelde jare toon dat ondergemiddelde jare gemiddeld ʼn koue periode tydens vlagblaar ondervind het. Bogemiddelde jare en 2024 het nie die daling getoon nie.

Grafiek 2: Minimum temperatuur vir koring in die GWK-gebied tussen halmverlenging en blom
Die groeistadium tussen vlagblaar en einde van blom is die mees gevoelige stadium vir lae temperature. Grafiek 2 toon dat koue nie groot probleme veroorsaak het nie behalwe moontlik by laat aanplantings in 2024.
Maksimum temperature se invloed op opbrengs
Temperature bo 30°C kan vanaf aarverskyning tot melkstadium tot groot verliese lei. Literatuur toon potensiële opbrengsverliese van tot 10% per graad Celsius bo 30°C aan. Temperature vanaf aarverskyning tot blom en blom tot water-stadium is belangrik. Opsomming van die temperature toon dat temperature in jare met bogemiddelde opbrengs wissel vanaf 25,7 tot maksimum van 28,2°C. Die 2024-seisoen was die hoogste temperatuur 30,3°C terwyl die ondergemiddelde jare ʼn gemiddeld van 31,2°C vir die periode na blom getoon het (Grafiek 3).

Grafiek 3: Maksimum temperatuur vir koring in die GWK-gebied ná vlagblaar
Die kwaliteit van die koring, naamlik proteïen, hektolitermassa en 1000-korrelmassa, is belangrik tydens die graanvulperiode. Die jare waar ondergemiddelde opbrengste waargeneem is, het hoë temperature vir nege dae net ná blom voorgekom. Temperature bo 32,7°C het vir drie dae tydens die sagte tot harde deegstadium voorgekom. In die 2024-seisoen het hoë temperature vir vyf dae in die harde deeg stadium voorgekom.
Opsommend
Dit is met dankbaarheid dat ons terugkyk op die 2024-koringseisoen. Daar is egter ʼn duidelike aanduiding dat die klimaat ʼn rol speel in opbrengste. Klimaatsverandering is met ons en temperature gaan toeneem; gaan dit veroorsaak dat ons swakker opbrengste gaan realiseer? Wat kan die produsent daaraan probeer doen? Die belangrikste is om kultivarnavorsingsresultate en langer termyn data te gebruik om beste planttye te bepaal en om beskikbare klimaatsdata te ondersoek vir optimum temperatuur-gebonde blomdatums.
Die produksie van kleingraan bly steeds een van die ekonomiese pilare in Suid-Afrika. Een van ons groot produsente het met ʼn ander hoek na die belangrikheid van koring gekyk. Vir elke ton graan wat ons produsente lewer, kan 7 000 mense van drie snye brood voorsien word. Met ʼn gemiddelde opbrengs van 8,8 ton/ha kan 61 600 mense per dag brood eet. Die koringprodusent bly dus belangrik en ons moet ons deel doen om die beste produk bekostigbaar te lewer.
Navrae kan gerig word aan: