Span gerat vir veranderende graan-omgewing
Met Graan SA se kongres wat plaasgevind het op 12 en 13 Maart 2025 by NAMPO Park, Bothaville, is die fokus weer geplaas op aanpassing by omstandighede. Die tema van vanjaar se kongres was: “ʼn Produsent se reis, van oorlewing tot floreer” (A producer’s journey, from surviving to thriving).
Daar was besprekings oor belangrike uitdagings en geleenthede in die graanbedryf, met die uittredende voorsitter Derek Mathews wat die veerkragtigheid van Suid-Afrikaanse graanprodusente aangespreek het. Die minister van landbou, John Steenhuisen, het gesels oor kwessies soos klimaatsverandering en grondhervorming, en ondersteuning van die regering vir die bedryf belowe. Die hoofspreker, Paul Temple, het lesse uit Brexit gedeel en die belangrikheid van bewaringslandbou beklemtoon, terwyl Todd Heap van Bayer innovering in mielieboerdery bespreek het.
Aan die einde van die kongres het bedryfsleiers die behoefte aan voortgesette innovering, beleidsbetrokkenheid en kennisdeling beklemtoon om te verseker dat Suid-Afrikaanse graanprodusente aan die voorpunt van wêreldwye landbouvooruitgang bly. (Die volledige opnames van die kongres kan gekyk word op GrainSA se YouTube-kanaal: https://www.youtube.com/@GrainSA)
In die lig van hierdie kwessies, is dit ewe belangrik dat die mense wat produsente ondersteun, ook verandering omarm en geleenthede ontgin wat volhoubare graanproduksie verseker.
Span by GWK rég belyn
Die GWK Graan-span se integrasie op grondvlak met hul eweknieë aan die VKB-kant vorder baie goed – operasioneel én in terme van sosiale integrasie (soos by die kenmekaar-spanbou, “waar sommige van ons geleer het dat nie almal in die wieg gelê is vir gholf nie” sê Renita Fourie van die span.)
Francois Froneman is verwelkom as die besturende direkteur van Graan en Korporatiewe Dienste vir die VKB Groep. Funksies wat in die verlede ineengevleg was, is nou meer gefokus, met Phillip van Vuuren, uitvoerende hoof van Graanbemarking vir die VKB Groep en sy span (waaronder Francois Lendes, streeksbestuurder vir graanbemarking en Duwayne Buffel, graanverhandelaar) in beheer van verkope. Aan die verkryger-kant neem Giepie Craffert, uitvoerende hoof van graanverkryging, beheer, en Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van graandienste, neem leiding by die silo’s. Die ingenieur-span, onder leiding van Wandré Fourie, het groot planne en harde werk wat voorlê.
Die span het afskeid geneem van ʼn paar ou staatmakers, soos Dewald Burger en Renaldo Goosen, asook Fritz Bartsch, wat diep spore getrap het met sy kennis en insig in die markte.
Die nuwe jaar het nietemin weer op ʼn hoogtepunt afgeskop met die aanstelling van Jaco Voges, voorheen verkryger en silobestuurder in Douglas, wat aangestel is as streeksbestuurder van graan in die Noord-Kaap. Berto Janse van Rensburg, voorheen deel van die presisieboerdery span, is nou die graanverkryger in die Prieska-area. Nuut in die span is Wico Oberholzer wat nou verkryging in die Modderrivier-area behartig.
Die span wat reeds bekend is aan produsente en kliënte is Bertus Pienaar, verkryger in Hopetown, Luckhoff en nou ook die Oos-Kaap. Renita Fourie is administratiewe streeksbestuurder, asook verkryger vir die Barkly-Wes omgewing en Vaalharts-skema. Alex Wallace swem nuwe rekords los ná hy die diep kant moes trotseer – hy behartig die Douglas-area. Byron George, een van die YES-studente wat ʼn internskap in die span gedoen het, het homself bewys as onmisbare lid van die graanverhandelingspan in Douglas.
Uitdagings gaan daar beslis wees, met onsekerheid oor oesgrootte, kompetisie in markte met invoere, en plaaslike produsente-winsgewendheid wat onder druk is. Ná ʼn tydperk van omwentelinge is die graan-span egter volstoom aan die beweeg en sien hulle uit daarna om oplossings te dryf.
*Bronne:
- Renita Fourie (GWK Graan)
- Graan SA








