Van lag tot lewe – dit is vriendskap

Die Japannese woord “kenzoku” definieer ʼn seldsame, diep band – vriendskappe wat soos familie voel en sterk bly, ongeag die afstand of tyd. Ware vriende is diegene wat deur dik en dun by jou bly, wat die lewe verryk.
Dit voel letterlik soos gister wat ek vir Helette ʼn WhatsApp gestuur het. Sy het altyd ʼn tyd lank geneem om te antwoord, maar as sy het, was dit ʼn drie tot vier minute stemboodskap, met baie updates. Helette was die tipe vriendin waar jy met jou voete op die bank kon sit, sonder enige skewe kyk. Jy kon net weg glip bed toe tydens ʼn kuier as jy op die plaas gekuier het: ons het dit die ninja genoem, en die volgende oggend gaan die gesprek aan sonder enige oordeel. Ware vriendskap is skaars en wanneer jy hierdie tipe vriendskap beleef, gryp dit aan met twee hande en tien vingers want ons is net hier vir ʼn geleende tyd.
Vriendskap is een van die grootste geskenke wat ʼn persoon kan ontvang in die lewe. Dit is ʼn band wat nie net deur lag en geluk gemeet kan word nie, maar ook deur die uitdagings en storms wat ons in die lewe ervaar. Dit is nie net iets wat jy per ongeluk vind nie, dit is harde werk om tot daar te kom, want jy bou, koester en beskerm. Dit is die tipe vriendskap wat nie deur tyd of omstandighede beïnvloed word nie, maar wat standvastig bly, selfs in die moeilikste tye.
Dit gaan verder as die oppervlakkige konneksies wat ons soms in ons daaglikse lewens maak. Dit is nie net oor die lekker tye of die “ek is in die moeilikheid” tye nie, maar oor die dieper vlak van vertroue, verstaan, en lojaliteit. Dit is die vriendskap waar jy jouself ten volle kan wees, waar jy nie vir ʼn oomblik oor jou geheime of tekortkominge hoef te bekommer nie, omdat jy weet die ander persoon aanvaar jou 100% nes jy is.
Dit gaan ook oor die vermoë om jou vriend te ondersteun, selfs as dit moeilik raak. Ware vriendskappe is gebou op empatie, waar jy nie net jou vriend se sukses vier nie, maar ook jou hand uitsteek in die moeilike tye. Dit is die tipe vriendskappe wat nie vou wanneer die lewe jou toets nie.
Hoe is jy as vriend of vriendin, maak jy verskonings en sê jy meer dat jy besig is of maak jy werklik meer moeite as die gewone mens? Elke vriendskap begin met ʼn keuse om die ander persoon se waarde te erken en om te besef dat die persoon in jou lewe geplaas is vir ʼn rede.
Maar hoe bou jy ʼn ware vriendskap?
- Deur eerlik te wees, lê jy die grondslag vir ʼn gesonde vriendskap. Wanneer jy jou hart en gedagtes met ʼn ander deel, maak jy die deur vir daardie persoon oop om dieselfde te doen.
- Of dit nou ʼn gelukkige geleentheid is of ʼn moeilike oomblik, jou teenwoordigheid in die lewe van jou vriende is een van die grootste geskenke wat jy kan gee.
- Vriendskappe sal nie altyd perfek wees nie. Daar sal tye wees wanneer jy en jou vriende nie heeltemal saamstem nie, maar geduld en begrip help om die verhouding te versterk.
Ware vriendskap berus op vertroue, waar jy weet jou geheime is veilig, jy ervaar lojaliteit en jy weet jou vriende sal daar wees, al is dit in die donkerste tye. Dit sluit empatie in, om die ander se gevoelens te verstaan en te ondersteun en te respekteer. Gee erkenning aan jou vriende se unieke eienskappe, dit is tog eintlik die rede vir julle vriendskap. Vriendskap beïnvloed nie net hoe ons onsself sien nie, maar ook hoe ons die wêreld ervaar. Die emosionele steun wat ware vriendskappe bied, dra by tot ons geestelike en fisieke welstand, en mense wat goeie vriende het, is dikwels gelukkiger en gesonder.
Soms ervaar ons verlies in vriendskappe, en dit kan ʼn moeilike emosie wees om te hanteer. Maar, ware vriendskap is nie altyd dieselfde nie, en ander vriendskappe kan genesing bring. Dit is ʼn kosbare geskenk wat bewaar en gekoester moet word – daardie gelag, troos, en eerlike gesprekke wat ons lewens verryk.
Vriendskap is meer as net ʼn band, dit is gewortel in wetenskap. Hier is ʼn paar fassinerende feite:
- Ware vriendskap behels opoffering, gesamentlike oomblikke en wedersydse geluk.
- Babas so jonk as nege maande kan vriendskappe herken, wat ons vroeë begrip van sosiale bande wys.
- Diere, van dolfyne tot olifante, vorm lewenslange vriendskappe en trek voordeel uit verminderde stres en ʼn goeie gesondheid.
- Om saam met vriende te wees kan ons meer aantreklik laat lyk, danksy die cheerleader-effek.
- Nuwe vriendskappe eindig dikwels vinniger as gevolg van verskille, alhoewel versoenbaarheid meer saak maak soos ons ouer word.
- Sosiale media help om meer vriendskappe te behou, maar minder hegte bande te bou.
- Wanneer jy ʼn nuwe romantiese maat kry, kan jy twee van jou naaste vriende verloor.
Koester jou vriendskappe, wees die vriend wat jy graag in ander sou wou hê.
*Bronne:
*Foto’s: