Slimmer met kos om minder te mors
Baie van ons is bevoorreg genoeg om aan te sit by Kerstafels wat kreun onder feesmaaltye. Ongelukkig is kosvermorsing wêreldwyd ‘n groeiende bekommernis, en iets waaraan ons onsself gereeld skuldig maak.
Volgens die World Wildlife Fund (WWF) eindig ‘n derde van alle eetbare kos in Suid-Afrika op vuilgoedhope. Dit is in skrille kontras met die miljoene Suid-Afrikaners wat ‘n gebrek aan kos het.
Daar is ‘n paar eenvoudige goed wat ons in ons eie huise kan doen om kosvermorsing hok te slaan, soos om oorskietkos reg aan te wend.
Bêre dit veilig
As jy oorskietkos het wat jy vir later wil bêre, doen dit só:
- Maak seker dat enige warm kos ten volle afgekoel het voor jy dit in die ys- of vrieskas sit – verkieslik binne twee ure ná ete. Dit verhoed dat bakterieë in kos kan groei.
- Gebruik houers wat dig seël of draai kos deeglik in foelie toe voor dit in die ys- of vrieskas geplaas word. Oop houers, onbedekte borde en half-gebruikte pakkies moet altyd geseël word of oorgeplaas word in die regte houers voor dit verkoel of gevries word om oorkruis-kontak of vriesbrand te voorkom.
- Merk oorskietkos met etikette wat die datum aandui waarop dit gekook of gestoor word. Oorskiet in die yskas moet verkieslik binne drie dae geëet word, en oorskiet in die vrieskas binne drie maande.
- Gebruik die regte rakke in jou yskas wanneer jy oorskiet bêre om kruisbesmetting tussen rou en gaar kos te voorkom. Vermy om oorskiet in die yskasdeur se rakke te hou, dit is gewoonlik die warmste deel van die yskas.
- Vries alle oorskiet wat jy nie binne ‘n paar dae gaan eet nie.
Nuwe skeppings met “ou” kos
Om die meeste van oorskietkos te maak, beteken nie dat jy dieselfde dis oor en oor hoef te eet nie!
- Quiche, tert en pasteie: Quiche bestaan uit korsdeeg, eier en room. Vir die res kan jy jou kreatiwiteit gebruik – oorskiethoender en groente maak ’n heerlike quiche-vulsel. Fyn skaap- of beesvleis is die perfekte vulsel vir ’n skilferkors-pastei.
- Maklike kosblik-happies: Toebroodjies, omelette of fritatta’s kry nuwe geur met oorskietgroente
- Sop en bredies: Voeg oorskietvleis en -groente by aftreksel en ander bestanddele om ’n heilsame sop of bredie te maak
- Lasagne: Pak oorskietvleis tussen pasta-lae om ’n nuwe lasagne te skep
- Quesadillas: Sit oorskiet saam met kaas in tortillas of wraps, en bak tot die kaas gesmelt en die tortilla krakerig is
- Roerbraai-rys: Oorskietrys kan gegeur word met eier, groente en ’n proteïen soos hoender of vis
- Frittatas: Kombineer oorskietpasta, -groente en -vleis met geklitste eier om ’n souttert of frittata te maak
- Slaai: Voeg geroosterde oorskietvleis by vars slaai vir ‘n ekstra energie-hupstoot.
Mors minder en maak ’n verskil aan die omgewing – én aan jou beursie.
*Bronne:








