‘n 2025 vol sëen en dankbaarheid
As ‘n jaar so vinnig verby vlieg soos die afgelope een, is dit eers wanneer ‘n mens stil gaan staan en terugkyk wanneer jy werklik jou seëninge tel. By GWK en die groter VKB Groep kyk ons met dankbaarheid terug oor 2025: dankbaarheid vir die suksesse én die uitdagings. Hier is maar net ‘n paar lekker stories uit die afgelope jaar wat ons opgewonde gehad het.
Handelstakke opgegradeer
In baie areas is handelstakke die lewensaar vir mense wat vinnig iets nodig het en nie die gerief van stadslewe het nie. Om hierdie inkopie-ervaring so aangenaam as moontlik te maak, word GWK se handelstakke een vir een opgegradeer en vernuwe. Kimberley was eerste aan die beurt in 2024, en dié jaar het ‘n ‘nuwe’ Douglas en Barkly-Wes (lees meer by ***) kopers tussen die rakke verwelkom.

‘n Smaaklike inkopie-ervaring by die opgegradeerde handelswinkel in Douglas
Die spanne van dié twee takke het vir ‘n tydjie lank planne beraam om steeds kliënte te diens, ten spyte van die uitdagende omstandighede.
“Die hele proses het ons net weer laat besef hoe belangrik spanwerk is om die beste ervaring vir ons kliënte te skep,” sê Elreze Faber, assistent-takbestuurder van GWK Handel in Douglas.
GWK Grondbone kry internasionale gradering
GWK Grondbone het vanjaar ‘n A+ BRCGS-gradering ontvang. Hierdie gradering is een van die hoogste internasionale erkennings in voedselveiligheid en -gehalte. Dit beteken dat elke stap in die proses – van produksie en bestuur tot higiëne en nakoming – aan internasionale standaarde voldoen.
Lede van die Grondbone-span is gevra wat hulle motiveer, en hulle antwoorde het lig gewerp op die gees agter dié prestasie. Hier is wat hulle gesê het:
- Bereidwilligheid en aandag aan detail bring resultate
- Presisie en probleemoplossing hou dinge aan die beweeg
- Vind krag in saam-staan en spanwerk
- Dien ‘n groter doel – met trots
- Lewer slegs die beste, elke keer
- Werk met integriteit en duidelike beginsels
- Toon betroubaarheid waarop ander kan staat maak

Die span mense by GWK Grondbone wat dinge laat gebeur
Op hoogte van aartappeltendense

“Die hoeveelheid kos wat jy met minder geld kan voorsien, is een van aartappels se beste eienskappe,” sê Johan Botes, bemarking by GWK Aartappels.
Dié span het vanjaar besoeke afgelê aan die varsproduktemarkte in Kaapstad (27 Mei) en Johannesburg (16 Julie), om meer van die unieke dinamika van die mark en verbruikerspatrone te leer, sowel as hoe markagente elkeen se behoeftes met sukses bedien. Een doelwit van die besoek aan die Kaapse mark was om die Lilly-kultivar aan verbruikers bekend te stel. Kapokaartappels is hiervan gemaak en proe-happies is uitgedeel sodat kopers dié kultivar se ryk smaak en gladde tekstuur eerstehands kan ervaar. Skyfies van die bekende Lanorma-kultivar is gemaak en uitgedeel – Lanorma blyk steeds ‘n gunsteling onder verbruikers te wees.
Die Johannesburgse besoek het ook ‘n draai by McCain ingesluit, waar insig gedeel is oor produksiepraktyke en gehaltevereistes. ‘n Groep aartappelprodusente het die span vergesel, met die hoofdoelwit om vas te stel hoe produkte in die mark vaar.
Geleenthede soos hierdie verseker dat markkanale onderhou word, wat uiteindelik volhoubaarheid vir ons produsente beteken.

Martin Smith van GWK Aartappels deel Lilly-kapokaartappels op die Kaapse varsproduktemark uit
Groentoer
“Enige persoon kan ‘n trekker ry, maar dit is belangrik om te verstaan dat boerdery nie net oor masjinerie gaan nie. Dit gaan oor die bestuur van hulpbronne, die neem van finansiële besluite en die bou van ʼn volhoubare besigheid,” sê Michelle Rust, ‘n opvoeder by Bo Karoo Opleiding. “Die Groentoer het die ideale platform gebied vir studente om te sien hoe teorie in die praktyk toegepas word, met praktiese demonstrasies van hoe landbou werklik funksioneer.”
GWK Landboudienste se jaarlikse Groentoer groei jaarliks – in kwaliteit-inligting én bywoningsgetalle. Vanjaar is dit vir die 23ste keer aangebied, hierdie keer op 19 Maart op die plase Lüneberg en De Hoek. Sowat 270 besoekers het aan die dag deelgeneem, waar boerderypraktyke, tegnologie en die belangrikheid van samewerking bespreek is.
“Oor die volgende 10 tot 15 jaar gaan die tegnologie in boerdery aansienlik verander, maar dit gaan nie net oor die besit van die nuutste toerusting of gadgets nie,” het Dup Haarhoff, Uitvoerende Hoof van Landboubestuursdienste, op die dag gesê, “dit gaan oor die gebruik van hierdie gereedskap om opbrengste te optimaliseer, volhoubaarheid te verhoog en uiteindelik ons voedselsisteme vir toekomstige geslagte te beveilig.”

Johann Sounes aan die woord by 2025 se GWK Groentoer
Uitbreidings en erkenning vir GWK Besproeiing
In ‘n area soos Prieska is die oprigting van tien spilpunte ‘n projek wat spesiale vermelding verdien. In slegs ses maande is tien van die nuutste-generasie Valley-spilpunte op 300 hektaar van die Loots-gesin se plaas Nuwejaarskraal geïnstalleer, in samewerking met die GWK Besproeiing-span. In ‘n vorige uitgawe van Kommuniek sê Kurt Loots dat die projek besonders is as die tempo waarteen dit geïmplementeer is in ag geneem word, ten spyte van uitdagings soos beperkende tydskedules, ongelyke terrein, en komplekse hidrouliese en elektriese stelsels. Die projek is wel in ’n kort tydperk uitgevoer, maar die droom bestaan al ’n paar jaar. “Die projek het nie in Februarie begin nie, dit het eintlik al drie jaar gelede begin met die oordrag van waterregte, ploegsertifikate en impakstudies. So dit was maar ‘n lang proses.”

Die uitbreiding op Nuwejaarskraal
GWK Besproeiing het ook op ander gebiede presteer, met Valley Irrigation wat die afgelope jaar drie toekennings aan die span oorhandig het:
- Goud vir Dealer Development Programme
- Naverkope-toekenning vir die hoogste verkoopsyfer
- Tegnologie-toekenning vir die meeste verbinde toestelle
Fokus op veiligheid in landbou-areas
‘n Gholfdag ten bate van landelike veiligheid is vanjaar vir die eerste keer in die GWK-area aangebied.
Landelike veiligheid is ‘n kwessie wat álmal raak wat in voedselproduserende areas in die platteland woon: boere, plaaswerkers, gemeenskappe, besighede. Daarom is dit nie ‘n eenmansaak nie, maar ‘n spanpoging, soos bewys deur hierdie gholfdae wat al vir nege jaar suksesvol deur die VKB Groep aangebied word. Die inisiatief is hierdie jaar uitgebrei om ’n gholfdag in die GWK-streek in te sluit; die ander twee gholfdae is onderskeidelik in Clarens en Modimolle aangebied.
Christoff Smit, Uitvoerende Hoof van GWK Handel, sê dat landelike veiligheid ‘n belangrike besprekingspunt in die Suid-Afrikaanse landskap is. “Dit is belangrik vir die VKB Groep, waarvan GWK deel vorm, om aktief betrokke te wees en om saam met gemeenskappe te werk om veiligheid in plattelandse gebiede te bevorder”.
Die fondse wat hier ingesamel word, is ten bate van die bevordering van veiligheid in die platteland, met R1 miljoen wat in 2024 bewillig is aan georganiseerde landboustrukture om hul projekte vir landelike veiligheid te ondersteun. Die toedeling en verspreiding van die fonds word deur die VKB Groep se direkteure in die verskillende streke gekoördineer.

In ‘n seisoen van feestelikheid is ons dankbaar vir elke produsent, kliënt en personeellid wat gehelp het om hierdie suksesverhale moontlik te maak en dit saam met ons vier.








