Skolesport ʼn kaartjie na ʼn blink toekoms

Toe die son sy kop oor Kimberley uitsteek op Saterdagoggend 3 Mei, het dit welkome warmte gebring ná ʼn skolesportweek waarin die winter sy eerste draai kom maak het.
Die jaarlikse Absa Wildeklawer Sporttoernooi het vanjaar weer in Kimberley plaasgevind, met ʼn rekordgetal van 232 spanne en 126 skole wat kom wys het dat sport in Suid-Afrika altyd die een ding is wat eenheid onder mense vorm. Die laerskole- en hoërskole-toernooie het plaasgevind van 23 April tot 3 Mei.
Dié toernooi is in 2009 die eerste keer aangebied by Paarl Gimnasium, met slegs 12 skole (en twee spanne op uitnodiging) wat deelgeneem het. Daarna het Pretoria, Kimberley (2011 en 2012) en Maritzburg College (2013) gasheer gespeel, voor dit permanent na Hoërskool Diamantveld in Kimberley geskuif is. Die toernooi het intussen gegroei tot die grootste skolerugby- en netbaltoernooi in Suid-Afrika, en moontlik die wêreld. Vanjaar is hokkie ʼn nuwe toevoeging tot dié gewilde toernooi.
Benewens die ekonomiese voordeel wat Kimberley, omliggende dorpe en die provinsie trek uit derduisende besoekers van regoor die land, is die Absa Wildeklawer Sporttoernooi ʼn platform waar plattelandse atlete ontwikkel word, kan uitblink, en raakgesien word.
Skole in die GWK-omgewing het die provinsie se naam hoog gedra. In die voorafgaande laerskoletoernooi het Prieska se o.13-span stof in die ander uitnodigingspanne se oë geskop. Hoërskool Hopetown se o.19-rugbyspan het geskitter en was die wenners in die kategorie vir uitnodigingspanne, terwyl die o.19-netbalspan van Vaalharts die kampioene onder die uitnodigingspanne was.

Prieska se wenners: die o.13-rugbyspan

Die o.19-netbalspan van Vaalharts

Hoërskool Hopetown het as die kampioene van die uitnodigingspanne weggestap.
“Dit is ongelooflik hoe die omvang van die toernooi die afgelope paar jaar toegeneem het,” sê Louis de Kock, eienaar van Wildeklawer Boerdery. “ʼn Mens besef nie hoeveel tyd en detail in die beplanning van ʼn toernooi soos dié ingaan nie. Net een voorbeeld is die mediese bystand wat die afgelope paar jaar op ʼn baie hoër vlak is, met ʼn helikopter wat gereed staan.
In die jaar waarin Wildeklawer se Griekwas-borgskap geëindig het, het De Kock en sy vrou, Cora, besluit om by skolesport betrokke te raak. “Ek en Cora het gewonder hoe en waar ons die borgskap moet aanwend. Hoewel ek meer op akademie en kultuur ingestel is, het ek beleef hoe sport ons eie kinders se lewens in daardie stadium beïnvloed het. Dit was opmerklik hoe sportdeelname ons kinders se karakter gebou het. Spanwerk. Deursettingsvermoë.”
Hy sê hulle het besluit om jeugsport op ʼn hoër vlak aan te bied.
“Dít wat ons destyds by Griekwas ervaar het, het ons deurgetrek na skole toe. Dit is tot vandag toe ons beginsel om ʼn goeie standaard vir die kinders te stel. Ons wou hê dit moet iets besonders op skolevlak wees.”
De Kock sê dat daar kriteria is vir die spanne wat na die toernooi genooi word, maar dat dit nie beteken dit kan nie verander nie. Skole word genooi vir die senior toernooi op grond van prestasie deur die jaar. Dan is daar ook ʼn aparte liga waarin uitnodigingspanne kompeteer, wat bestaan uit kleiner, meestal plattelandse skole.
“Dit is baie belangrik dat die omliggende gemeenskappe ook voordeel trek uit die toernooi. Dit bied groot geleenthede vir daardie kinders. Hulle leef vir die toernooi! Toe Absa genader is om moontlik betrokke te raak by die toernooi, het hulle onmiddellik ingestem. Wat skolesport betref, het Absa dieselfde visie as Wildeklawer Boerdery en wil ook in die gemeenskappe wat hulle bedien, betrokke wees.” GWK deel hierdie benadering en is daarom ook as borg betrokke by dié toernooi waar verskeie skole uit die GWK-gebied deelneem.
“Ons kan hierdie toernooi glad nie sonder die borge aanbied nie,” sê De Kock. “Ons is baie dankbaar vir hul betrokkenheid en reusebydrae wat hulle jaarliks maak. Daar is ook baie geleenthede vir besighede in Kimberley om hierdie tyd met goeie sakevernuf voordelig te benut.”
Verder sê De Kock dat hulle ook geweldige dankbaarheid het vir die voorreg om die toernooi te kan aanbied. “Ons besef die verantwoordelikheid wat ons het om dit jaarliks te verbeter om dit vir elkeen ʼn wonderlike ervaring te maak.”

ʼn Besonderse suksesstorie in die toernooi is dié van die Wildeklawer School Sports Academy (WSSA), waarby GWK ook betrokke is.
In 2012 het Hoërskool Vaalrivier in Barkly-Wes vir Wildeklawer Boerdery genader vir bystand in sportontwikkeling by die skool. Louis en Cora het ingekoop, met die voorwaarde dat alle skole in Barkly-Wes voordeel uit die inisiatief moet trek. Daar is ongeveer 40 000 inwoners in Barkly-Wes, met ses skole wat ʼn tekort aan sportfasiliteite, -afrigters en -toerusting gehad het. Tydens ʼn beplanningsvergadering het skoolhoofde van die dorp ingestem tot die stigting van ʼn sportakademie, wat talentvolle leerders sal blootstel aan mededinging teen tradisioneel sterker sportskole. Dié inisiatief het uit die staanspoor resultate getoon.
Reeds in 2013 het die WSSA se o.19-netbalspan die Noord-Kaapse Ontwikkelingskole by die Suid-Afrikaanse skolekampioenskappe verteenwoordig en vierde geëindig en teen 2015 was daar agt akademie-spanne met verteenwoordiging op provinsiale vlak. Behalwe vir skoolleerders wat in sewes- en tradisionele 15-man-rugbytoernooie in verskeie ouderdomsgroepe kon deelneem, het twee WSSA-spelers later die Griekwas in skolespanne verteenwoordig.
WSSA-sokker vaar goed in Noord-Kaap-ligas en het geskitter tydens dié jaar se Wildeklawer-toernooi: die WSSA-sokkerspan het ál die deelnemende skole in die senior liga – van die land se grootstes – uitgestof en die trofee huis toe geneem. Verder het WSSA se o.19-rugby- en netbalspanne deurgedring tot in die finale vir die uitnodigingspanne.
De Kock sê dat niemand voorsien het dat die toernooi só sou ontwikkel nie. “Ons wil seker maak dat dit elke jaar iets is om na uit te sien. Die mooi en die lekker moet nie verdwyn nie. Ons probeer om die toernooi te fasiliteer volgens die skole se behoeftes.”
“Dit gaan oor skolesport. Ons wil ʼn lig gee om aan vas te hou. Sportdeelname is wonderlik vir kinders.”