GWK in China by Treenut Expo

*Hooffoto: Andreas Snyman en Johan Taljaard van GWK Pecans by die ekspo in China
ʼn GWK-afvaardiging het in April vir die eerste keer die Voedsel-ekspo vir Neute en Gedroogde Vrugte (ʼn skou vir aankope en verskaffing) in Hefei, China, bygewoon. Andreas Snyman, GWK se uitvoerende hoof van bone, neute en internasionale handel, vertel hoe waardevol hierdie geleentheid was. GWK se bestaande kliënteverhoudings is verder uitgebou, terwyl daar ook verhoudings met nuwe potensiële kopers gesmee is. Belangrike lesse oor die mark vir Suid-Afrikaanse neute word ook na afloop van die ekspo deur die GWK Internasionaal-span tuis gebring.
Snyman heg veral waarde aan die feit dat hierdie geleentheid interaktief was. Hy sê dat die span nie net die pekanneut-kopers ontmoet het nie, maar ook gereis het om besoek af te lê by van China se pekanneut-produsente in die omliggende gebied. Die meer teoretiese kant van die ekspo het egter nie afgesteek nie. Dag een van die ekspo was soos ʼn kongres, waar verskeie onderwerpe bespreek is. Daar is onder meer vooruitskattings gemaak oor die markneigings van neute en gedroogde vrugte. Snyman lig veral die besprekingsessie oor die markvooruitsigte van pekanneute uit: “Die ekspo val perfek op die kalender vir Suid-Afrikaanse pekanprodusente, want Junie begin die uitvoerprodukte bemark word, so April is ʼn goeie tyd om te weet wat die voorspellings van markneigings is.”
Ná dag een se program die teoretiese grondslag gelê het, het die ekspo in volle swang afgeskop, met ʼn fokus op die uitstallers. Hierdie ekspo, ʼn platform vir al die verskillende neute, is vir groot- en kleinhandelaars, vir verkopers én vervaardigers in die bedryf. Hier kon Snyman en sy span die volgende sien:
- Neutvervaardigers en -verkopers – elkeen met hul eie handelsmerk en verpakking wat hul bekendstel
- Al die verskillende marksegmente – van groothandel tot klein aanlyn winkels
- Alle masjinerie wat in die produksie van neute gebruik kan word – van plaastoerusting, tot die masjiene wat in fabrieke gebruik word
Die feit dat Suid-Afrika die enigste land was wat as ʼn groep (wat die hele land verteenwoordig) na die ekspo gegaan het, is ʼn goeie aanduiding van die groot rol wat Suid-Afrikaanse neutprodusente in die mark speel.
“Daar was verteenwoordigers van verskeie lande, maar Suid-Afrika was die enigste een wat as ʼn land gegaan het,” verduidelik Snyman. SAPPA (die Suid-Afrikaanse Pekanneutprodusentevereniging) was as sameroeper by die ekspo en agt verwerkers van Suid-Afrika was ook daar, waarvan GWK een was.
Snyman herinner dat Suid-Afrika die grootste pekanneut-produseerder in die Suidelike Halfrond is en stel dit in perspektief met hierdie statistiek: “Die oesskatting vir Suid-Afrikaanse pekanneute in 2025 is 40 000 tot 45 000 ton, terwyl Australië en Suid-Amerika albei maar tussen 3500 en 5000 ton sal lewer.” Hy brei verder uit deur te sê dat 36 000 ton uit die 60 000 ton wat China in 2024 verbruik het, deur Suid-Afrikaanse produsente gelewer is.
“Ons markaandeel vir die Chinese pekanmark is dus reeds bo 50% en dit lyk positief om die 60-70% merk in die nabye toekoms te haal.”
Hierdie groot markaandeel is nie net te danke aan die hoeveelheid pekanneute wat Suid-Afrikaanse produsente kan lewer nie, maar ook aan die hoë kwaliteit van ons neute. Snyman herroep ʼn spesifieke insident tydens die onlangse besoek aan China waar dít duidelik geblyk het.
“ʼn Chinese vrou het die GWK Pecans-handelsmerk herken en die span genader om te vertel hoe sy al vir drie jaar op soek is na GWK se neute. Sy het verduidelik dat sy drie jaar gelede by ʼn handelaar van die neute geproe het en sedertdien op soek is daarna, omdat sy nog nie weer sulke hoë gehalte neute kon vind nie.” Dit is sowaar ʼn veer in die hoed van ons pekanneut-produsente.
Hoewel hierdie ekspo die GWK-span kon bemoedig dat die maatskappy op die regte pad is, glo die span ook dat ʼn mens nooit te oud is om te leer nie en daarom beklemtoon Snyman ook wat die kernlesse was wat hulle daar geleer het. Onder meer het die span geleer:
- Neutmengsels is baie gewild.
- Klein pakkies neute is baie gewild.
- Die Chinese mark is baie bewus van neute se gesondheidsvoordele en beklemtoon dit in hulle bemarking. Hulle sal byvoorbeeld die studentemark teiken deur te beklemtoon dat neute jou leer-vermoë verbeter; of die mark van swanger vrouens deur te beklemtoon dat neute voordelig is vir jou baba.
- Die Chinese mark is baie ingestel op visuele elemente. Handelsmerke wat byvoorbeeld duidelike kleure gebruik, trek meer aandag.
- Die tyd waarop Suid-Afrika neute produseer (Junie, Julie, Augustus) is voordelig, want die Chinese mark se aanvraag na neute is hoër in hul koue maande, wat strook met Suid-Afrika se uitvoertye. Boonop is hierdie tye ook in lyn met die Chinese feesseisoen.
- Daar was destyds berigte van China wat derduisende hektare (ha) se neute self gaan plant, wat moontlik Suid-Afrika se uitvoergeleentheid sou bedreig, maar dit is nie tans die geval nie. China het ongeveer 7000 ha se neute en produseer minder as 5000 ton. Die Chinese regering het in die lig van voedselsekerheid die uitbreiding van pekanplase gestop en moedig boere aan om eerder stapelvoedsel-gewasse (soos rys) te plant. Boonop het die Chinese produsente aanvanklik verkeerde kultivars in verkeerde klimaatstreke geplant, wat ook die land se eie neut-opbrengs beperk.
GWK voer Suid-Afrikaans vervaardigde pekanneute na ander lande ook uit, maar China is tans die land se grootste uitvoermark. Terwyl GWK Pecans voortdurend woeker om die beste afsetpunt vir Suid-Afrikaanse produsente se hoë kwaliteit produkte te kry, bewaar hulle ook verhoudings met huidige kliënte. Een manier waarop hierdie verhoudings bestuur word, is volgens Snyman die besoeke wat in Suid-Afrika self afgelê word: “GWK se kliënte in China (die kopers van ons pekanneute) lê besoeke hierdie kant af om ons areas, praktyke, ensovoorts te sien. Tydens hierdie besoeke sien hulle die omvang van GWK as ʼn besigheid, wat belangrik is vir hulle gemoedsrus. Hulle kan sodoende sien dat hulle nie koop by ʼn ‘fly by night’-besigheid nie, maar dat hulle sake doen met ʼn maatskappy wat gevestig en gerespekteer is.”
*Artikel saamgestel deur René van der Vyver