Samesyn en kolskote by GWK Farmers Cup 2024
Die jaarlikse GWK Farmers Cup het weer verwagtinge oortref. Die toernooi, wat op 24 Augustus op Hopetown begin het, het ses strawwe kwalifiseringsrondes ingesluit voor die eindronde wat op 18 Oktober in Kimberley gehou is. Sedert die eerste toernooi in 2018 het hierdie geleentheid vinnig ‘n gevestigde tradisie en ‘n hoogtepunt op GWK se kalender geword as ‘n kans vir GWK-kliënte om hul staal op die gholfbaan te wys.
Vanjaar se eindronde was ‘n naelbyter, met die room van die gholfspelers wat mekaar die stryd aangesê het. Cecil Wiley van die Hopetown-distrik het vir die derde keer die gesogte titel verower, dié keer met ‘n indrukwekkende telling van 43 punte. Volgens Wiley, wat ook verlede jaar se louere ingeoes het, is dit ‘n eer om deel te wees van die Farmers Cup.
“Ek gaan uit om my gholf te geniet en so ook die dag saam met medeboere en om nuwe vriende te maak,” sê Wiley. “ Die wen is ‘n bonus en kom deur God se genade. Namens al die boere wat deelneem aan die Farmers Cup sê ek graag dankie aan GWK vir die jaarlikse geleentheid en al die harde werk wat ingaan om die kompetisie ‘n sukses te maak.”
Warm op Wiley se spoor was Jeandré van Zyl van die Barkly-Wes/Kimberley-distrik met 42 punte, en Eugene le Roux van die Douglas-distrik met 40 punte. Albei het skitterend gespeel en ‘n welverdiende plek op die podium losgeslaan.
In die GWK Cup, ‘n subtoernooi vir GWK-personeel, het Bertus Pienaar (Graanverkryger) met die louere weggestap, met Armand van Eck (Spesialisbestuurder: Presisieboerdery) en Chris Shergold, ‘n versekeringsadviseur van Jan Kempdorp (Adviseur: Versekering – Jan Kempdorp) op sy hakke.
Verskeie spelers het ook met spesiale toekennings weggestap:
- Naaste aan die pen: Fanie Oldewage (Prieska), Abrie Joubert (Cradock)
• Langste dryfhou: Prieur du Plessis (Jacobsdal), Johan Joubert (Jan Kempdorp)
• Langste sethou: Tielman van der Walt (Hopetown)
• Mystery hole: Werner van der Westhuizen (Hopetown), Louw Linde (Barkly-Wes/Kimberley)
Safire Insurance, wat al jare lank die GWK Farmers Cup se getroue ondersteuner is, het weer diep in die sak gekrap om die dag se pryspot aan te vul. Safire het spelers se monde laat water met ‘n R50 000-prys vir die eerste fortuinhou (“hole-in-one“) en verskeie ander pryse.
Neil de Klerk, GWK se Streeksdirekteur vir die VKB Groep, is opgewonde oor die volgehoue sukses van die Farmers Cup. Volgens De Klerk het die toernooi weer gewys hoe gholf mense van alle ouderdomme en vaardigheidsvlakke in die landbousektor kan saamsnoer. “ Ons sien nou uit na die toekoms van hierdie toernooi op ‘n selfs groter skaal,” sê hy, “in ons soektog na die Beste Boer op die Baan!”
*Artikel geskryf deur Mariette Olwagen