Samesmelting tot voordeel van personeel, aandeelhouers
In die week van 24 tot 28 Julie het alle GWK-personeellede die geleentheid gekry om ʼn sessie by te woon waar die GWK/VKB-samesmelting in diepte bespreek is. Onderwerpe wat aangeraak is, het onder meer die agtergrond, beplanning, motivering en die pad vorentoe ingesluit.
PG Strauss (die VKB Groep se Besturende Direkteur), Francois Sieberhagen (die VKB Groep se Uitvoerende Hoof van Menslike Hulpbronne) en Morné Julyan (VKB se Besigheidsontwikkeling-direkteur) saam met Llewellyn Brooks (Besturende Direkteur van die GWK Groep) en Neil de Klerk (Uitvoerende Hoof van GWK Groep Bemarking en Kommunikasie) het 21 sessies in nege dorpe aangebied om te verseker dat élke personeellid so ʼn sessie kan bywoon. Hierdie sessies sal opgevolg word met soortgelyke besoeke aan kliënte in ons areas om hierdie belangrike inligting aan alle betrokkenes bekend te maak.
Personeel aan boord
Francois Sieberhagen neem die leiding van die groter groep se menslike hulpbronne en het by die sessies aan personeel verduidelik presies hoekom hierdie aspek van die besigheid so belangrik is.
“Dit is nie individuele spanlede of bestuur of die direksie wat van hierdie samesmelting ʼn sukses gaan maak nie,” sê Sieberhagen, “dit is een span. En die heel eerste boublok van die fondament van hierdie besigheid is toegewyde personeel, daarom is dit die heel eerste prioriteit in ons strategie.”
Hy het verder uitgebrei op die eienskappe van toegewyde personeel, wat ook die waardes is waarvolgens daar geleef word. Verskeie inisiatiewe word nou onder spanne uitgerol om hierdie waardes en inkoop verder te bevorder en versterk, asook om die regte en akkurate inligting vir personeel beskikbaar te maak.
Betrokke en ingeligte personeel speel ook ʼn noemenswaardige rol in die toeganklikheid van inligting en hulle is daarom bemagtig met die besonderhede van die samesmelting om aandeelhouers en kliënte by te staan. Hierdie inligting sluit onder meer die volgende in.
Agtergrond oor die transaksie
Soos in vorige uitgawes van Kommuniek gedeel is, het die gesprekke tussen GWK en VKB in 2020 afgeskop en is gedryf deur afgevaardigdes van GWK en VKB in samewerking met eksterne, onafhanklike korporatiewe adviseurmaatskappy, Pallidus. VKB se direksie het in 2022 ten gunste van die samesmelting gestem, waarna GWK-aandeelhouers ook so gestem het by ʼn spesiale aandeelhouersvergadering in Augustus 2022.
Die Mededingingstribunaal het in Desember 2022 aangekondig dat die voorgenome transaksie goedgekeur is en die finale goedkeuring deur al die regulatoriese owerhede was op 30 Mei 2023, wat beteken het dat GWK en VKB van 31 Mei 2023 as ʼn saamgestelde groep begin funksioneer het. Daar is egter geen verandering aan hoe produsente met GWK besigheid doen nie en enige pertinente verandering sal deurlopend en tydig gekommunikeer word.
GWK funksioneer eers as ʼn filiaal van VKB Beleggings funksioneer, met Llewellyn Brooks wat voortgaan in sy huidige rol as Besturende Direkteur van die GWK Groep, terwyl PG Strauss die leiding van die saamgestelde groep neem.
Daar word sedertdien, en vorentoe, gefokus op die integrasie van die twee maatskappye.
Die integrasiekomitee
Die integrasiekomitee se taak is om deeglik na alle besigheidsbedrywighede te kyk en hulle het die mandaat om die integrasie van die bedrywighede te beplan en te monitor.
Hulle sal optree in ʼn adviserende hoedanigheid aan VKB Beleggings se direksie ten opsigte van die integrasieproses, om ʼn effektiewe en vaartbelynde besluitnemingsproses te fasiliteer tussen die direksie en die bestuurspanne van GWK en VKB.
Die integrasiekomitee bestaan uit Coenraad Fick (die voorsitter van VKB Beleggings se direksie), Nicolaas Kruger (die voorsitter van GWK Groep se direksie en voorsitter van die integrasiekomitee), PG Strauss, Llewellyn Brooks, Koos Janse van Rensburg (voormalige Besturende Direkteur van die VKB Groep), Markus Mittermaier (die VKB Groep se Finansiële Direkteur), Andri Geel (die GWK Groep se Finansiële Direkteur) en John McIntosh, ʼn onafhanklike adviseur wat die afgelope paar jaar betrokke was by die ontwikkeling en vaslegging van GWK se strategie.
Die GWK- en VKB-handelsmerke
Die behoud van albei handelsmerke en besigheid onder hierdie handelsmerke is deel van die sleutelbeginsels van die transaksie. Voortaan sal die gekombineerde groep onder al drie die oorhoofse VKB-, GWK- en NTK-handelsmerke bedryf word, en verder ook met verwysing na ander handelsmerke van die bedrywe in die saamgestelde groep.
Hoekom saamsmelt?
Albei groepe is en moet volhoubaar bly op hul eie. Hierdie volhoubaarheid word nou verder versterk in die nuwe saamgestelde groep deur verskeie faktore, waaronder beter mededingendheid vir die groep se kliënte.
Nog ʼn voordeel is aandeelhouding in ʼn meer gediversifiseerde maatskappy. Dit is dus ʼn meer stabiele onderneming wat ʼn beter moontlikheid het om enige potensiële skokke en uitdagings in die toekoms te verwerk. ʼn Groter en meer uiteenlopende organisasie bied ook vir personeel meer groeigeleenthede is ʼn uitsoek-tuiste vir die beste talent.
Wat gemeenskappe betref, beteken stabiliteit dat die positiewe impak in dié gemeenskappe versterk kan word.
Die proses word met die regte omsigtigheid benader en albei maatskappye besef die beoogde voordele gaan nie oornag ontsluit word nie. In die afgelope drie jaar is met groot sorg gewerk om seker te maak dat die belange van alle partye, spesifiek personeel, aandeelhouers en kliënte, beskerm en bevorder word.
Dit is belangrik dat ons nou hierop voortbou en die posisionering en groepering van die onderskeie besighede én handelsmerke in die saamgestelde groep reg aanpak sodat die diens aan kliënte in elke area optimaal is.
Inligting met meer besonderhede oor onder meer die reëlingskema en GWK-skemadeelnemers, aandeelhouding in VKB Beleggings en GWK Meganisasie, GWK-kredietfasiliteite en kortingverdelings is beskikbaar op GWK se webwerf onder “Dokumente”.