Redakteursbrief
Daar is ʼn paar goed as volwassene waarvoor niemand jou voorberei nie.
Die “spasies” tussen fases van die lewe is een hiervan. Almal vertel hoe jy klaar maak met skool, gaan studeer en dan gaan werk. Maar niemand berei jou voor op die fases waarin jy ʼn groot besluit moet maak oor wát om te gaan studeer nie. Of, as jou studies voltooi is, dat daar geen waarborg is dat jy dadelik ʼn werk in daardie rigting gaan kry nie. Ek glo daardie tye vorm jou menswees amper meer as jou studies of jou loopbaan.
Net die anderdag sê ek vir my ma een ding waarvan ek niks hou van grootword (eintlik oudword) nie – en waarop niemand my voorberei het nie – is dat ʼn mens vanselfsprekend meer mense ontmoet en deel maak van jou lewe, maar dat jy ook meer mense aan die dood afstaan. Dit is ʼn baie somber gedagte, maar ʼn belangrike een. Belangrik omdat dit jou herinner om waardering te toon, aandag te gee en betrokke te wees.
In hierdie uitgawe groet ons ʼn groot GWK-gees, Hennie Coetzee, wat in sy jare op aarde ʼn noemenswaardige bydrae gelewer het: tot mense, tot GWK en tot die landboubedryf. Sonder die werk wat hy gedoen het, en die wysheid wat hy gebring het, sou GWK nie in ʼn posisie wees om te groei nie.
Hierdie groei is verder verwesenlik in die samesmelting met VKB, wat nou in alle erns vorm aanneem. Ons gee ook ʼn oorsig oor die afskop van personeelsessies en deel ander inligting wat vir ons lede belangrik is.
Dup Haarhoff en sy span by GWK Landboudienste woeker voort met hulle wetenskaplike benadering tot presisieboerdery en deel nuwe inligting uit hul navorsing.
Kommuniek is van hierdie uitgawe af amptelik op ʼn nuwe platform, waaroor ons baie opgewonde is! Uiteindelik moet dit so maklik en lekker as moontlik vir ons lesers wees om toegang tot die jongste GWK-nuus te kry – landbou is immers inherent deel van ons almal. Ons hoop julle geniet hierdie ervaring.
Laastens: onthou om jou selfoon weg te sit en deel te neem aan gesprekke, en sê vir die mense na aan jou wat hulle vir jou beteken.