Ruben Rens, GWK se ‘aartappelman’

As ʼn tjokkertjie op Prins Alfred Hamlet, naby Ceres in die Kaap, was Ruben Rens omring deur aartappels. Een van sy maatjies se pa was selfs die bestuurder van die groot aartappelkorporasie daar. Maar klein Ruben het destyds nooit kon dink dat aartappels sou ʼn groot deel van sy eie lewe sou uitmaak nie.
Landbou, ja, dít was van die begin af duidelik. Sy ma se ouers het immers in die omgewing van Jan Kempdorp in die Noord-Kaap geboer. Die landbou was dus letterlik in sy bloed. Ná matriek en ʼn draai in die weermag het die jong Ruben dan ook op ʼn landbouskoolplaas in die destydse Suidwes gaan werk. Daar het die gogga hom behoorlik gebyt en hy is van daar na die technikon in Pretoria om landbou te swot.
Hy vertel: “Dit is waar hulle die ouens daai tyd opgelei het vir ʼn nasionale landboudiploma in plantkunde. En dan het jy dadelik ʼn werk gehad as jy daar klaar is, want jy het deur die staat geswot. Daardie tyd was dit in twee gedeel – plantkunde aan die een kant, dierkunde aan die ander kant. Jy moes spesialiseer na ʼn kant toe. En ek is nou maar meer ʼn plant-ou as ʼn dier-ou; so, ek het die plantkunde gekies.”
So het hy sy driejaardiploma daar voltooi – “in die destydse pragtige ou sandsteengebou in die middestad”.
ʼn Rukkie op Stellenbosch het deel uitgemaak van sy praktiese opleiding, maar toe die tyd kom dat hy moet begin werk, het hy gevra of hy in Pretoria by die departement kon aanbly. Die rede? “Ek en ʼn kollega het omgeruil, want ek het toe tyd ʼn meisie daar gehad en hy het een in die Kaap gehad!”
So het dit gekom dat Ruben ʼn paar jaar by die landboudepartement in Pretoria gewerk het, totdat die destydse aartappelraad hom genader het om as inspekteur by hulle aan te sluit. Poste in Bethal, Douglas en later Piketberg het gevolg. Ná ʼn kort boerderystint in Orania is hy teruggevra na die inspeksiediens en het uiteindelik in Christiana beland, waar hy daardie streek tot die grootste inspeksiekantoor in die land help uitbou het.
In 2008 het Ruben by GWK aangesluit as produksiebestuurder van aartappels – ʼn kernrol in die bestuur van hul aartappelpoel. Dit is ʼn rol wat hy vandag steeds met trots vervul.
Wat behels die rol?
GWK neem nie alleen eienaarskap van die aartappels nie, maar fasiliteer die hele proses namens die boere, wat uiteindelik die winste ontvang. Ruben se taak fokus veral op die ontwikkeling en instandhouding van ʼn stabiele voorsieningsketting vir gesertifiseerde plantmateriaal. Hy doen jaarliks navorsing oor nuwe kultivars, ook internasionaal, en toets dit plaaslik om hul potensiaal in Suid-Afrikaanse toestande te bepaal. Só het hy vroeër die kultivar Lanorma ingevoer, wat vandag die derde grootste in die land is.
Die proses begin met die invoer van sogenaamde buisplante uit lande soos Nederland.
“Nederland is die grootste aartappelland in die wêreld,” vertel Ruben. “Hulle het geweldig baie kultivars en telers. Dié mense staan bekend as hobby-telers – hulle doen dit maar sommer so van die huis af en kyk of hulle nie nuwe aartappels kan teel wat goed is nie. Ons gaan kyk altyd in Nederland watter nuwe kultivars daar is.”
Die buisplante – siektevrye plantmateriaal wat in letterlike buise ingevoer word – word dan in Suid-Afrika in kwarantyn gehou, getoets en in ʼn genebank bewaar. Wanneer nodig, word nuwe plantjies gekweek en in GWK se eie kweekhuis in Douglas geplant. Die eerste generasie, bekend as “generasie nul”, word geoes as mini-knolle en versprei na vier afgesonderde kernkwekers reg oor Suid-Afrika. Ná opvolgende aanplantings word “generasie twee”-knolle gelewer aan GWK se poellede, wat tussen 10 en 20 boere insluit. Saam plant hulle tussen 1 500 en 2 000 hektaar per jaar in die Douglas-omgewing.
Ruben se werk vereis die noukeurige monitering van siektes, virusvlakke en opbrengsdata, om te bepaal watter materiaal behou word en watter verkoop word.
Hy beskryf Lanorma as een van hul grootste suksesse: ʼn kortgroeiende, glansende aartappel met ʼn sagte skil wat goed vertoon en dus gewild is onder verbruikers. “Suid-Afrikaners koop op sig,” verduidelik hy. En hy hou vol: “Wat my betref, is daar nie ʼn beter kultivar nie as Larnorma nie.”
Eie aartappels met eie name
Kort nadat Ruben by GWK begin werk het, is daar ʼn strategiese besluit geneem om hul eie aartappelkultivars te laat teel – nie plaaslik nie, maar in by die James Hutton Institute in Skotland. Ruben het self twee keer Skotland toe gegaan saam met boere om potensiële teellyne te help kies. Tans word dié teellyne plaaslik getoets. Twee is reeds op die nasionale kultivarlys geregistreer en dra nou amptelik GWK-name – ʼn eerste vir ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy (bestaande kultivars word gewoonlik ingevoer.) Die doel is om uit die sowat 30 kandidate vyf tot ses werklik belowende kultivars te ontwikkel wat bo bestaande variëteite kan uitblink wat betref opbrengs, siekteweerstand en voorkoms.
‘Opbrengs is koning’
In die huidige mark, waar die gemiddelde opbrengs al by die 100 ton per hektaar lê, is dit bykans onmoontlik om ʼn nuwe kultivar gevestig te kry as dit slegs 60 ton lewer, ongeag ander eienskappe, verduidelik Ruben.
“Opbrengs is koning,” sê hy. Sekere kultivars presteer baie goed in spesifieke gebiede, soos in terme van siekteweerstand, maar as hulle nie wyd aanpasbaar is én hoë opbrengs het nie, val hulle vinnig uit die mark. Omdat aartappels nie in Suid-Afrika ingevoer mag word nie – om die verspreiding van siektes te voorkom – moet al die plantmateriaal plaaslik ontwikkel of ingevoer en gekweek word onder streng kwarantyn. Die mark is dus klein en uitdagend vir nuwe toetreders.
Ruben se raad aan produsente
Aartappelboerdery is nie vir die haastige of ongefokuste boer nie. Die gewas is uiters vatbaar vir siektes, juis omdat dit geteel is vir maksimale opbrengs – en met elke verbetering op een vlak, verloor jy dikwels iets anders, verduidelik Ruben, soos siekteweerstand. Dit beteken jy moet jou lande fyn dophou. Die ou gesegde “die beste kunsmis is die boer se voete in die land” geld hier sterk – jy moet gereeld inspekteer en vinnig optree.
Aartappels is ook ontsettend duur om te plant, met insetkoste van oor die R200 000 per hektaar. Doen dus die regte ding van die begin af. “Moenie kortpaaie vat nie. Dis te duur.”
Die diens wat GWK bied
Boere het eenvoudig nie die tyd, hulpbronne of infrastruktuur om self plantmateriaal in te voer en nuwe kultivars te toets nie, sê Ruben. GWK hanteer die identifisering en toetsing van nuwe kultivars sodat boere kan fokus op wat hulle die beste doen: gehalte-aartappels produseer. Boonop het GWK ook ʼn bemarkingspan wat help om hul produk in die mark te posisioneer, wat verder waarde toevoeg. “Baie van die ouens wat later na die poel toe gekom het wat alleen gestaan het, sê die poel besef nie die groot voordele wat hulle het in GWK se aartappelafdeling nie.”
En Ruben se persoonlike benadering tot gehalte-kliëntediens?
“My boere is my boere. Ons is in ʼn vennootskap,” sê hy. “Ons kan nie sonder hulle nie en hulle kan – hopelik – ook nie sonder ons nie.”